‘Rower’ vermoor; verdagtes ure later vasgetrek

misdaadtoneel

Argieffoto

Vier mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn Vrystaatse man wat glo dae vantevore in een van die moordverdagtes se motor ingebreek het.

Lt.kol. Thabo Covane, woordvoerder van die polisie, sê die man se liggaam is Dinsdag (3 Julie) omstreeks 15:30 deur die polisie buite Lourierpark in Bloemfontein aangetref.

Volgens Covane het die polisie op ʼn anonieme wenk gereageer. “Die man se hande en voete was saam agter sy liggaam vasgebind toe polisielede sy liggaam aangetref het,” sê hy.

Voorlopige ondersoeke het glo vasgestel dat die man elders vermoor is voordat sy liggaam buite Lourierpark gestort is. Hy is glo met ʼn swaar voorwerp oor die kop geslaan, maar ʼn nadoodse ondersoek sal eers met sekerheid kan bepaal wat die oorsaak van sy dood was.

Covane sê vinnige optrede deur die polisie het verseker dat drie verdagtes, tussen die ouderdom 26 en 32, ʼn paar uur later vasgetrek is. ʼn Vierde verdagte is Woensdagoggend in hegtenis geneem.

“Verdere ondersoek het vasgestel dat die oorledene in Turflaagte naby Bloemfontein deur die verdagtes oorval is nadat hy glo by een van hul motors ingebreek en luidsprekers gesteel het,” sê hy.

Die oorledene is nog nié geïdentifiseer nie. Enigeen met meer inligting word versoek om die Parkweg-polisie by 051 503 3027 te skakel. ʼn Ondersoek na die voorval duur voort. Die verdagtes sal binnekort in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

errol ·

verdagtes so gou vasgetrek! hoekom sukkel die sapd dan so lank om pierre de necker se moordenaars wat op video te sien is, vas te trek?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.