Rowerbende oorval brugspelers helder oordag

(Argieffoto: Unsplash)

“Dit was aaklig. Ek wou nou net nie geskiet word nie en het gedoen presies wat hulle gesê het.”

Só het ʼn bejaarde Pretoriase vrou Maandag vertel nadat ʼn groep van meer as 50 mense, die meeste van hulle bejaardes, Vrydag tydens ʼn byeenkoms van ʼn brugklub in die ooste van die stad oorval en beroof is.

Die vrou vertel sy het kort ná 14:00 ʼn gehamer aan een van die deure gehoor, waarna ʼn groep mans ingebars en die spelers beveel het om op die grond te lê en hul persoonlike besittings te oorhandig. Sommige van die spelers is in rolstoele, maar diegene wat kon, moes op die vloer gaan sit.

Volgens die vrou, reeds diep in haar 80’s, is mans aangesê om hul broeksakke uit te dop en hul selfone, beursies en sleutels te oorhandig, terwyl die vroue se handsakke, juwele en ander persoonlike besittings ook bymekaar gemaak en in sakke gegooi is.

Nie net is items soos juwele, motor- en huissleutels gesteel nie, die rowers is ook weg met persoonlike items soos ID’s, leesbrille en penne en selfs sommige slagoffers se medikasie.

“Die skok het my vanoggend eers getref,” het sy vertel.

“Ek wou nie te veel na hulle kyk nie. Ek het dit net probeer uitwis. Ek dink dit wat hulle gedoen het, was walglik, maar wat kan ek daaraan doen?  Maar ek sal weer teruggaan om te gaan brug speel.”

Sy moet nou met die proses begin om al die gesteelde items, ook haar selfoon, te vervang.

Suzanne Weide, adjunkvoorsitter van die Noord-Gautengse brugklub, was ook Vrydag daar toe die boewe die spelers oorrompel het.

Volgens haar het die mans die voordeur oopgedwing, terwyl minstens een van die rowers ʼn pistool rondgeswaai het. “Hulle het vir ons gesê ons moet almal op die grond gaan sit en het selfone, juwele en handsakke gesoek. My selfoon was gelukkig by die huis. Baie mense het hulle handsakke weggesteek of op hul fone gaan sit,” vertel Weide.

Die rowers het ringe van slagoffers se vingers gestroop en kettings van hul nekke afgeruk.

“Ek het agter in ʼn hoek gesit en my beursie in my onderklere gedruk,” sê Weide.

Die groep rowers is eindelik vort met twee voertuie waarin hulle die sakke met buit gelaai het. Weide sê niemand is fisiek tydens die voorval beseer nie, maar bestempel dit steeds as ʼn geweldige traumatiese ondervinding.

“Party mense het sommer net begin huil. Dit was regtig baie erg, maar ons is daardeur,” sê sy.

Volgens Weide is veiligheid reeds opgeskerp en wagte sal nou die perseel patrolleer terwyl die hekke oopstaan wanneer die spelers aankom.

Kol. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, sê die polisie het kort ná die voorval ʼn soektog na die ses rowers van stapel gestuur en een van die verdagtes is dieselfde dag nog in Nellmapius – ná ʼn skietery met die polisie – in hegtenis geneem.

“Daar is vasgestel dat die voertuig wat die verdagte bestuur het, een van dié is wat by een van die slagoffers geroof is.”

Die polisie is steeds op soek na die res van die rowerbende en die ander gesteelde voertuig is ook nog nie opgespoor nie.

Volgens Masondo sal die verdagte wat in hegtenis geneem is, binnekort in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklag van sakeroof en motordiefstal. Hy sal ook aangekla word van poging tot moord na aanleiding van die skietery met die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Delia ·

So jammer ooms en tannies. Julle wat bygedra het tot die opbou van die land jare terug…dat julle deur so iets moes gaan.

Moedeloos ·

Iewers is hierdie mense voorheen dopgehou en presies geweet wat om wanneer te doen, want hoe het die rowers geweet hul speel brug daar.

Byekonfyt ·

Presies wat ek gedink het. Daarom dat deesdae amper normaal voel om agterdogtig te wees wanneer mens iemand op n sypaadjie sien sit en n foto vir jou buurtwag of straatgroep wil stuur. SA realiteit.

Kokerboom ·

Is dit die land waarvoor in 1994 gestem is?
Hoe vernietig mens ‘n land in minder as 30 jaar? Die ANC regime het!
Oplossing: Verander landsbestuur. Moontlikheid: Nul

Danie ·

En is daar soveel negatiewe gevoelens teenoor die wat die land wil verlaat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.