‘Rowers’ aangekeer danksy sosiale media

Een van die speelgoedvuurwapens waarop daar beslag gelê is. Foto: SAPD

Een van die speelgoedvuurwapens waarop daar beslag gelê is. Foto: SAPD

Polisiebeamptes het vroeër vandag, danksy sosiale media, twee verdagtes in Despatch in die Oos-Kaap aangekeer terwyl hulle besig was om ʼn winkel te beroof.

Sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes het omstreeks 08:00 op die Pep-winkel in die hoofstraat toegeslaan, kort nadat die personeel die winkel oopgesluit het. Die twee mans het vuurwapens by hulle gehad en vyf personeellede daarmee aangehou.

Volgens Nkohli kon een van die personeellede daarin slaag om ongesiens ʼn familielid via sosiale media van die rooftog in kennis te stel, voordat die rowers al vyf personeellede met kabelbinders vasgebind het.

Een van die verdagtes het die vuurwapen op die personeel gerig, terwyl die tweede verdagte kontant uit die kluis en kasregisters gehaal en in ʼn sak gedruk het. Op daardie oomblik het die polisie by die toneel opgedaag en albei verdagtes in hegtenis geneem.

“Die polisie het op twee speelgoedvuurwapens en ʼn sak kontant beslag gelê. Die twee verdagtes, albei 24 jaar oud, sal Maandag in die Uitenhage-landdroshof verskyn op aanklagte van sakeroof,” het Nkohli gesê.

Kapt. Flippie de Jager, die waarnemende stasiebevelvoerder, het die polisiebeamptes geloof wat so vinnig reageer het om die verdagtes vas te trek. De Jager het ook ʼn beroep op winkeleienaars en personeel gedoen om tydens die feesseisoen uiters waaksaam te wees en enige verdagte persone in hul omgewing by die polisie aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

Flip de Jager, doen dinge reg en komplimenteer eerstens die PEP-Personneellid wat julle wiele aan die rol gesit het. Pep behoort die personeellid te komplimenteer met ‘n kontantbeloning omdat diè nie geweet het dat dit speelgoedwapens was en dus bereid was om lewe op die spel te plaas. Doen dinge reg.

Annatjie Kruger ·

Nou kan ek vir my vriende wat teen sosiale media is, sê dat dit ook ten goede gebruik kan word. In die voorkoming van misdaad.

ada ·

Knap gedaan werlnemer by Pep. Jy het flink gereageer op n ernstige situasie.

Pieter ·

Waarom word rowers in aanhaling tekens gesit ?Moenie aanhou gatkruip nie , hulle is gevang terwyl hulle mense beroof het,hulle IS rowers.

Mariné Lourens ·

Dagsê Pieter

Dankie vir jou navraag. Maroela Media kan as ‘n nuusagentskap nie self besluit of ‘n verdagte skuldig is of nie. Volgens wet word enige persoon wat in hegtenis geneem word as onskuldig beskou totdat hy of sy in ‘n hof skuldig bevind word. Die ‘rowers’ in die berig genoem is dus slegs verdagtes totdat ‘n hof hulle skuldig bevind. Hoop dit klaar die verwarring op.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.