‘Rowers’ aangekeer ná hoëspoedjaagtog in Kaapstad

Argieffoto

Twee mans is in hegtenis geneem wat in ʼn gehuurde motor gery het waar vermoedelik gesteelde eiendom en huisbraaktoerusting gevind is.

Die mans is in hegtenis geneem ná ʼn hoëspoedjaagtog in Borcherds Quarryweg naby die Kaapstad Internasionale Lughawe.

Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê die beamptes van die polisie se eenheid vir openbare orde het ʼn verdagte BMW opgemerk wat televisiestelle vervoer het. “Die polisie wou die bestuurder laat stilhou, maar hy het vinnig weggery en ʼn jaagtog het gevolg. Een van die verdagtes wat op die agterste sitplek gesit het, het twee keer ʼn vuurwapen op die beamptes gerig, maar die jaagtog het voortgeduur tot die motor uiteindelik voorgekeer is,” het Rwexana bygevoeg.

“Die polisie het beslag gelê op ses televisiestelle, drie skootrekenaars, juweliersware, selfone, parfuums, sakke, ʼn kluis en verskeie ander items soos huisbraaktoerusting. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die BMW ʼn gehuurde motor is, maar met vervalste nommerplate.”

Twee verdagtes, onderskeidelik 34 en 40 jaar oud, is in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van die besit van gesteelde goedere, die rig van ʼn vuurwapen en huisbraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

‘… een van die verdagtes wat op die agterste sitplek gesit het… ‘ maar (net) twee verdagtes is in hegtenis geneem. Beteken dit dat daar net een agter gesit het of het van hulle weggehardloop?

Rede ·

Die een agter moes seker toesien dat die goedere veilig vervoer word.

Cherokee ·

Ek raai jy is reg maar dan (sou ek) ‘n komma agter ‘een van die verdagtes’ geplaas het. Soos in ‘een van die verdagtes, wat op die agtersitplek gesit het’, het die cops twee keer gedreig.

Piet Snot ·

Hoe identifiseer die Polisie ‘n verdagte voertuig tussen die honderde ander (behalwe as die televisiestelle by die venster uitgehang het)?
Baie skerp.

Steve Stephansen ·

Piet Snot, daar is opleiding aan polisiemanne gegee om die soort van ding na op te let en te identifiseer as suspisieus of nie. Enige waarneming wat verband hou met onheilighede word as verdag beskou deur polisiebeamptes en dan word daar opgetree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.