Rowers blaas geldwa oop met wagte daarin

Die geldwa wat beroof is. Foto: Verskaf

ʼn Verdagte is Dinsdagoggend in die buitewyke van Nelspruit doodgeskiet kort nadat ʼn groep swaargewapende rowers op ʼn geldwa toegeslaan en dit oopgeblaas het met drie veiligheidswagte daarin.

Kol. Mtsholi Bhembe, provinsiale polisiewoordvoerder van Mpumalanga, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 05:25 op die Kamagugu-pad naby die nuwe Universiteit van Mpumalanga plaasgevind toe die geldwa op pad na die omliggende townships was om kitsbanke te gaan hervul.

“ʼn Bruin Mercedes Benz met Gauteng-nommerplate het die geldwa van die pad af gedwing deur dit trompop teen die kant te tref. Die geldwa het die pad verlaat en tot stilstand gekom,” het Bhembe gesê.

Die groep van nagenoeg tien swaargewapende rowers het daarna drie keer probeer om die geldwa met springsstof oop te blaas, terwyl drie veiligheidsbeamptes in die geldwa vasgekeer was.

“Die eerste twee pogings was onsuksesvol en met die derde ontploffing het hulle toegang tot die voertuig gekry.”

Volgens Bhembe het die veiligheidswagte in die geldwa intussen bystand van kollegas ontbied.

“Die verdagtes was nog besig om die geld te steel toe die veiligheidsmaatskappy se reaksie-eenheid daar opdaag. ʼn Oor-en-weer skietery het uitgebreek waartydens een van die verdagtes, wat ʼn koeëlvastebaadjie van die polisie aangehad het en met ʼn AK47 gewapen was, in die kop geskiet is. Die verdagte is op die toneel dood.”

Bhembe het gesê die res van die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag geld op die vlug geslaan en moontlik van wegkommotors gebruik gemaak.

“Die wagte wat in die geldwa was, is ongedeerd maar baie getraumatiseerd. Die polisie ondersoek ook die omstandighede rakende ʼn polisiebeampte wat in ʼn ampsvoertuig op die toneel was en ʼn skietwond opgedoen het. Sy toestand is stabiel. Geen ander beserings is aangemeld nie,” het Bhembe bygevoeg.

Bhembe het gesê die polisie het beslag gelê op twee AK47-aanvalsgewere, ʼn R5 en ʼn handwapen. Al die vuurwapens se reeksnommers is afgevyl.

Die provinsiale polisiekommissaris het reeds opdrag gegee dat ʼn taakspan saamgestel word om na die verdagtes te soek en om die omstandighede rakende die voorval te ondersoek om sodoende vas te stel hoe polisietoerusting en die vuurwapens in die verdagtes se hande beland het. Die Valke word ook by die ondersoek betrek.

Die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof en doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Oom Kalahari ·

Dit is traumaties om deur so rooftog te gaan en waar jou lewe in uiters gevaar en van gener waarde is by die aanvallers nie. Ook is daar soms waar gekyk moet word waar interne inligting uitlek oor die roete, bedrag geld, hoeveelheid personeel aanboord, na watter instansie geld vervoer word en wapen toerusting beskikbaar is. SBV word gereeld die teiken vir die tipe van aanvalle en laat mens dink oor die Modus Operandi.

Penellope Jones ·

Doen iets aan die misdaad in SA.
Dis oral, enige plek, enige tyd, enige manier, enige persoon.
Asseblief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.