Rowers brand los op motoriste tydens transitorooftog

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Groep swaargewapende rowers het Woensdagaand na willekeur op motoriste in die ooste van Pretoria geskiet by ʼn toneel van ʼn transitorooftog.

Kapt. Dave Miller, polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê ʼn G4S-geldwa het omstreeks 19:00 in Silverton terug na hul depot gery toe daar vermoedelik vanuit twee voertuie, ʼn wit Mercedes en ʼn BMW X5, op die geldwa losgebrand is.

“Die bemanning het besef hulle word aangeval en na veiligheid probeer ry. Die verdagtes het egter die transitovoertuig se bande flenters geskiet en sodoende die voertuig tot stilstand gedwing,” het Miller gesê.

“Die verdagtes het aangehou om op die voertuig te skiet en een van die veiligheidswagte is in die been gewond.”

Die aanvallers het die wagte uit die voertuig gedwing, hul vuurwapens afgeneem en hulle op die grond laat lê. Hulle het springstof gebruik om die kluise oop te blaas.

“Terwyl die verdagtes besig was om die geldwa te beroof het van die ander verdagtes na willekeur op aankomende motoriste geskiet in ʼn poging om hulle van die toneel af weg te hou. Gelukkig is niemand beseer nie en geen skade aan voertuie is aangemeld nie.”

Die rowers het met ʼn onbekende bedrag kontant en die wagte se vuurwapens van die toneel gevlug en is steeds soek.

Die Valke, polisie se forensiese eenheid en bomeenheid was onder meer op die toneel om ondersoek in stel en leidrade op te volg. ʼn Volskaalse soektog na die verdagtes is van stapel gestuur.

Miller het inwoners gewaarsku wat op soortgelyke tonele afkom om in geen omstandighede die toneel te nader nie, maar op ʼn afstand te bly.

“Die verdagtes is uiters aggressief en sal nie huiwer om op jou te skiet nie. Selfs as die verdagtes die toneel verlaat het, bly weg van die toneel aangesien daar nog ploftoestelle kan wees wat kan afgaan. Enige inmenging kan die polisie se forensiese ondersoeke belemmer, wat kan verhoed dat die verdagtes opgespoor word.”

Miller het ook gesê as mense beeldmateriaal van so ʼn toneel op hul selfone afneem, moet hulle hulself daarvan weerhou om dit op sosiale media te deel, en dit eerder aan die polisie verskaf. “Sou die verdagtes in hegtenis geneem word en in die hof verskyn, kan video’s wat openbaar gemaak is die staat se saak in gedrang bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Wonder ·

Help my asb reg,word die geld trommels by die depots van die transito voertuie gestoor?

GM ·

Dit verg seker beplanning om so geldwa te beroof, en ‘inside info’ sal altyd uitgegee word, maar ek kon nog nooit verstaan hoekom daar altyd so geadverteer moet word ‘ek vervoer geld’ nie.

Piet Pompies ·

In SA is daar twee soorte rooftogte, die eerste is soos in die berig waar geld met geweld afgeneem word en dan is daar die staat, hier word dit wel nie met geweld gedoen maar die staat beroof jou van jou inkomste deur belasting.

Geen sosialemedia ·

Is dit waar dat beeldmateriaal nie op sosiale media versprei moet word nie omdat dit die ondersoek en geregtigheid kan benadeel? Verduidelik asseblief, of is dit net ‘n poging om die verspreiding van die regering se onvermoe om die land te bestuur stil te probeer hou?

humor ·

Planne om hierdie rooftogte te fnuik bly onverstaanbaar traag. Daar bestaan blykbaar metodes om geld onbruikbaar te bevlek. Geldwaens hoort nie meer op die pad nie omdat dit menselewens in gevaar stel. Indien dit noodsaaklik is moet so n wa deur n sterk doeltreffende opgeleide konvooi vergesel word. Besighede banke ingesluit behoort n spesiale veilige vertrek te he waar geldwaens vinnig kan in en uit en beskermend kan wees. Ook minder op straat kan wees. Dink asb aan n plan.

Drones ·

Daar is baie oplossings, drones kan dit nou al doen. Maar wanneer dit by planne en tegnologie kom is SA deesdae ver agter want ons het verval in ‘n kultuur van dat als onmoontlik is.

Theresa B ·

Gaan fynkamp maar vir Mamelodi. Dis waar alles geberg word en waar die besige bye ook woon.

Penellope Jones ·

……………en altyd beskik hulle oor wapens ……………….

POPLAP ·

En weereens is niemand slim genoeg om DYE PACKS in die kluise te sit nie? Regtig mense kos die dye packs meer as die mense se lewens en meer as voertuie wat opgeblaas word? SIT DYE PACKS in elke liewe kluis en sodra hy opgeblaas word laat die dye packs op die geld oopgaan . genade ons . ek is nou nie ‘n rocket scientist nie maar HOEVEEL Mense moet nog sterf voordat julle ‘n plan maak . die WAGTE beteken niks, die skelms is met BETER wapens bewapen . as hulle WEET die geld gaan onbruikbaar wees indien hulle enige kluis oopskiet, of selfs die deur van die wa afskiet sal hulle mos OPHOU .. Tegnologie lyk dit my het stilgestaan wat cash in transit heists aanbetref …

André ·

Hoekom kan die wagte nie terugskiet op die verdagtes se voertuie nie? Hulle het mos wapens.

Janneman ·

Ek hoor julle almal, maar wat is die kern van die probleem?

Die eerste geldwa is geroof in 1997, hoekom het dit nooit voorheen gebuer nie? Want die polisie en weermag was gekeur op meriete, het werketiek en disipline gehad en het respek afgedwing. Die baba is met die badwater uitgegooi en die kundigheid is verwewig verloor – wys jy dit uit aan die huidige gepeupel word jy uitgekryt as n rassis!

Dit moet alles voor die deur gele word van AA, BEE en dergelike rassistiese wette. Onbevoegde poliesie wat korrup en in baie gevalle betrokke is by rooftogte, voorsiening van wapens en beskerming van die gespuis.

Dit is n bose kringloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.