Rowers breek deur vulstasiedak om kluis oop te blaas

Argieffoto

Die polisie in Port Elizabeth is steeds op soek na rowers wat Woensdag in die vroeë oggendure vermoedelik plofstof gebruik het om die kluis van ʼn vulstasie te probeer oopblaas.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die Oos-Kaapse polisie, het gesê dié vulstasie, in Malabar, is nie 24 uur van die dag oop nie en was gesluit ten tyde van die voorval.

Volgens Janse van Rensburg het die bestuurder van die vulstasie omstreeks 01:00 ʼn boodskap gekry van die private veiligheidsmaatskappy wat die eiendom monitor dat die alarm afgegaan het. Die veiligheidsmaatskappy het egter gesê hulle het ondersoek ingestel en alles blyk in orde te wees.

Om 03:45 het die maatskappy weer met die vulstasie-eienaar kontak gemaak en hom versoek om na die vulstasie te kom. “By hul aankoms op die toneel het hulle gate in die dak van die vulstasie opgemerk. Daar word vermoed die verdagtes het toegang deur die dak verkry en toe ploftoestelle gebruik om die kluis te probeer oopblaas,” het sy gesê.

Die rowers kon egter nie daarin slaag om die kluis oop te kry nie en het met leë hande op die vlug geslaan. Dit is nie in dié stadium duidelik hoeveel boosdoeners by die rooftog betrokke was nie.

ʼn Saak van roof word ondersoek.

Enigiemand met meer inligting word versoek om lt.kol. Willie Mayi by 082 697 5914 of Stop Misdaad by 0860 010 111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karolis ·

Kameras, kameras, kameras, kameras, kameras, op strategiese plekke lewer verstommende antwoorde.

PJC ·

Die polisie maak ń groot bohaai oor gelisensieerde vuurwapens maar intussen wil dit voorkom of plofstof meer volop is as witbrood by die kaffee op die hoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.