Rowers buit Amerikaanse veghondjie by tiener

Emma. Foto: Verskaf

Emma. Foto: Verskaf

Emma, ʼn ses maande oue opregte Amerikaanse veghond (pit bull terrier), word vermis nadat twee gewapende mans haar verlede week gesteel het, terwyl sy en haar baas buite ʼn huis in Kaapstad gespeel het.

Delmaine Farmer, ʼn inwoner van Kuilsrivier, het Vrydag aan Maroela Media gesê haar seun, Wade (15), het verlede Donderdag omstreeks 19:20 met Emma buite hul huis gespeel.

“Ons bly in ʼn baie stil straat. My seun het met Emma buite die erf in die straat gespeel, terwyl ons ander honde in die erf was,” het Farmer gesê

“Ons was in daai stadium gou uit om wegneemetes te gaan kry. Wade het ons geskok gebel en gesê ʼn wit Quantum-bussie met getinte vensters het verby hulle gery terwyl hulle gespeel het.”

Sy het gesê die taxi het ʼn U-draai gemaak en terug in Wade se rigting gery, waarna twee mans, een gewapen met ʼn mes en een met ʼn geweer, uitgespring en op hulle afgestorm het. Die bestuurder van die bussie het in die voertuig bly wag.

“Wade het dadelik die erf se hek met die afstandbeheerder toegemaak en gevlug. Die mans het hom  ʼn ent ver gejaag. Ek vermoed dis omdat hulle geweet het hy het die huis se sleutels by hom. Hy kon gelukkig daarin slaag om hulle te ontduik, waarna hy ons in trane gebel en gesê het die mans het Emma gesteel en in die taxi gelaai.”

Die gesin het ʼn saak by die Kuilsrivier-polisie aanhangig gemaak, maar skynbaar is daar nog min vordering gemaak aangesien die polisie nie baie inligting het om mee te werk nie.

Emma. Foto: Verskaf

Emma. Foto: Verskaf

“Omdat die buurt so stil is, was daar geen ooggetuies nie. My seun het ook glad nie tyd gehad om op te let wat die taxi se registrasienommer is nie.”

Farmer het gesê Wade is oukei, maar baie stil ná die voorval. “Hy wil nie daaroor praat nie. Ek dink hy is baie kwaad oor wat gebeur het.”

Die gesin het Emma al vandat sy agt weke oud was en is baie geheg aan haar. Emma het ʼn mikroskyfie en ook ʼn halsband om haar nek met Farmer se kontakbesonderhede.

Farmer het Emma se verdwyning by die plaaslike DBV aangemeld en pamflette met haar foto wyd versprei. Hulle het hulle ook tot sosiale media gewend in ʼn poging om hul geliefde troeteldier op te spoor.

Sy het gesê sy weet glad nie of die hond dalk gesteel is om verkoop te word of om vir hondegevegte gebruik te word nie.

“Ons is baie bekommerd oor haar en weet nie wat die mans met haar doen, of in watter omstandighede sy is nie. Al ons diere is baie liefdevol en glad nie gewelddadig nie. Ek hoop net ons kan haar vinnig terugkry,” het Farmer besorg gesê.

Maroela Media het navraag by die polisie gedoen en wag nog vir terugvoer.

Die pamflet wat versprei word.

Die pamflet wat versprei word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Ruby ·

Agge nee!!

Sy lyk pragtig versorg, ek hoop so die eienaars kry haar terug.

Ek kan net dink hoe bekommerd die eienaars is :-(

Eish! ·

Ag Neeeeeee! Word self die diere nie uitgelos nie. Ek is nou regtig ontsteld. Gelukkig is die brakkie pragtig en ek dink noggals sy kolle baie uniek. Sal maklik uitgeken kan word. Hoop hul kry haar terug en spoedig ook. Ek voel elke dag dat ek meer en meer haat in myself ontwikkel vir die mede Afrikaners. Ek wil nie maar regtig dit gebeur net.

DS ·

Ek twyfel of hulle ‘n geweer gehad het. Gebruik asseblief die korrekte benaming.

Flippie ·

Was jy daar? Voel jy dat dit eerder handwapen moes wees. Miskien was dit ‘n R4 of AK 47, dan was geweer reg. ‘n Handwapen is in elk geval ook ‘n geweer, veral komende van ‘n tiener wat dalk in ‘n wapenvrye omgewing groot gemaak is.
As jy nie niks substantiefs oor die berig te sê het nie, bêre maar die sleutelbord tot daar iets is waaroor jy ‘n waardevolle opinie kan lug.

Yvonne ·

Rerig???
Na die ontstellende artikel oor n arme weerlose sagte hondjie wat by sy basie gesteel word en die kind in ‘n tramatiese toestand is, is dit al waaroor jy kommentaar kan lewer.
Geen kommentaar sal beter afgaan

HENNA ·

DS !!!!!! asseblief tog wat het dit met die berig te doen ?? Lees en voel
iets vir die kind WAAROM moet mense soos jy al ewig sulke snert skryf ??

DS ·

Bedaar Henna, en dit is beslis nie snert nie. Jy weet tien ten een nie eers self wat die verskil is nie. As ons ons taal wil laat voortleef en bevorder moet ons die korrekte benaming gebruik. En jy maak aannamings, net omdat ek nie kommentaar gelewer het wat my meegevoel deel nie, beteken nie ek voel niks vir die kind nie, inteendeel..

Ruby ·

DS, “tien ten een” bevorder ook nie ons taal. As jy kan uitdeel moet jy kan vat ook.

Jy bekommer jou meer oor die regte benaming as ‘n gesin en ‘n pragtige dier wat se lewe omgekeer is.

Maryna ·

Ai DS, ek skud net my kop! Was jy dalk in die taxi, dat jy weet watter tipe wapen dit was…

susan ·

Ek stem saam. Wat maak dit saak. ‘n kind is bedreig deur skelms en hulle troeteldier is gesteel. Dis ‘n skande!!!!!!!

Paula ·

Ek sweer sommige mense sit en lees berigte net op spellingfoute en korrekte gebruik van taal op te tel. Genade man!!

Beatrix Stevens ·

Regtig belaglik””’ wat n pragtigge hond”’ net jammer dat die seun ook nou deur Trama moes gaan… gelukkig dat hul hom nie skade aan gedoen het?? maar waarom die hond vat?? ja tien teen een soek hul dalk n beloning”” hul manier van geld maak?? Emma ons almal hou styf duimvas dat daar n wonderwerk sal gebeur… en jy veilig terug by jou familie sal uitkom…. en dat die skurke jou geen leed sal aandoen…. ons hou die nuus dop ”’ op die groot terugkeer”’ sterkte aan jul Delmaine”’ ons glo en vertrou Emma sal gou terug wees by jul….

kloekie ·

Ek wonder hoekom is pitbulls onwettig in sekere state in VSA en Europa? En hul moet dan n muil dra in openbaar. Nou weer 2 ouer mense in seepunt en laas week in jhb aangeval. Waarom hou mense die soort honde aan? Wil voorkom of dit n mode is. ..

Jollie Jacqueline ·

Dit is nie hond wat geweldadig is nie. Dis die eienaars se skuld.

Justa ·

Is gesteel vir onwettige honde gevegte. Hoop hulle kry Emma vinnig.

Moeksie ·

Beatrix – het jy nie gesien DS het jou gewys hoe mens trauma spel nie – julle gaan toe oe deur die lewe…

anet ·

Dankie mense ek het heerlik gelag oor almal se gevatheid oor hierdie spel lesse.
Kloekie jy is klassiek hoor, ek wil sien hoe dra daardie hond ‘n muil

Heerlike dag vir julle almal, en ek hoop dat julle ook ‘n glimlag sal gee aan almal wat julle paaie kruis vandag!.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.