Rowers by ORT teiken maskers, selfone

Twee mense is in die skietery dood. Die rowers het oënskynlik ‘n besending maskers en selfone geteiken. (Skermgreep: Twitter)

Die bende rowers wat Saterdag op ʼn pakhuis by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park toegeslaan het, was oënskynlik op soek na persoonlike beskermende toerusting en selfone.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het gesê die groep verdagtes het dié afdeling van die lughawe omstreeks 12:30 binnegegaan en werkers by een van die pakhuise met vuurwapens aangehou.

“Die bestuurder van die pakhuis het gesien dat sommige werkers op die vloer lê en het dadelik die polisie en lughawesekuriteit ontbied,” het Muridili gesê.

“By hul aankoms op die toneel het die polisie en lughaweveiligheidsbeamptes agter die verdagtes se vragmotor en bakkie, wat net by die pakhuis vertrek het, aangejaag. ʼn Jaagtog en skietery het uitgebreek.”

Volgens Muridili is sewe verdagtes in hegtenis geneem, vier van hulle met skietwonde.

Nog twee verdagtes is doodgeskiet.

“ʼn Burgerlike in die omgewing is vermoedelik deur ʼn dwaalkoeël getref.”

In die vragmotor het die polisie afgekom op persoonlike beskermende toerusting (maskers) en drie kratte met selfone.

“Die polisie en lughaweveiligheid se blitsige reaksie op die rooftog is die bewys van die doeltreffende gesamentlike veiligheidsmaatreëls wat by die lughawe in werking gestel is,” het Muridili gesê.

Die verdagtes sal binnekort in die Kempton Park-landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Magriet ·

Hulle het iemand aan die binnekant gehad wat hulle van inligting voorsien het.

Nie Verbaas ·

Hoe het rowers dan tot by pakhuis gekom en goedere gelaai as die veiligheidsmaatreels in plek is?

Gawie ·

Dis maklik om by die pakhuise te kom, want dit is oop vir die publiek.

Raakvatter ·

Baie maklik. Een van die pakhuise het ‘n hengse gat in die muur gehad vir etlike maande voor dit herstel is. Ek weet, ek was baie daar. Die snelweg is ‘n klipgooi van daar af, vinnige wegkom kans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.