‘Rowers’ gebyt, geskiet toe polisie hul planne fnuik

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

Die polisie in Durban het vier vermeende diewe se planne gefnuik om ʼn Standard Bank te beroof.

“Die polisie het ʼn wenk ontvang dat die Standard Bank in Noordkusweg beroof gaan word, en hulle het vier persone in ʼn VW Golf Gti buite die bank opgemerk,” het maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die polisie het die mans agternagesit en hulle het hul motor langs die voertuiglisensiekantoor in Percy Osborneweg verlaat voordat hulle ʼn Mercedes-Benz gekaap het.”

In hierdie stadium het ʼn polisiehelikopter reeds die mans begin volg toe hulle die motor in Eerstelaan in Stamford Hill verlaat het toe hulle in ʼn verkeersknoop beland het.

“Twee van die mans het gevlug, en twee van die verdagtes het na die Rip Curl-klerewinkel gevlug,” het Zwane bygevoeg. “Een van die vermeende rowers is by die ingang van die winkel geskiet en ʼn tweede man het agter in die winkel tussen klere weggekruip. Hy is aangekeer nadat ʼn personeellid die polisie in kennis gestel het en die polisie se snuffelhonde hom opgespoor het.”

Glynn Henman het gesê hy en sy personeel het gedink die winkel word beroof. Sy personeel het glo na die agterkant van die winkel gevlug toe die twee mans die winkel betree het. Twee van die personeellede het by die trappe afgekom om die personeel en klante kalm te hou. “Twee van ons personeellede het langs hom [die verdagte] gestaan. Hulle het nie eers besef enigiemand was daar nie, want hy het tussen die klere weggekruip,” het hy bygevoeg.

Robert McKenzie, woordvoerder vir die KwaZulu-Natalse nooddienste het gesê die twee mans is in ʼn ernstige toestand. Een van die verdagtes het bytwonde van die hond en die tweede het verskeie skietwonde.

Die polisie het beslag gelê op ʼn AK47-aanvalsgeweer en ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Zwane het gesê die polisie is steeds op soek na die ander twee mans wat gevlug het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

BoereBikerBaby ·

Wel nog ‘n berig van die polisie wat darm iets reg gekry het. Wel gedaan

zahn ·

Ek het die opskrif komies gevind, was onder die indruk die polisie het self die rowers gebyt. Kon nie glo daar is sulke gretige polisiemanne nie. Dankie Maroela, ek het ‘n vreeslike prentjie in my kop gehad! Nou om dit te verwerk…

Martin ·

Ek het self begin wonder waar die honde dan nou besig was, dat die Polisie self begin byt het.

ladybug ·

Ou nooi se honne moet ‘n lekker groot stuk steak kry! Wel gedaan SAPS!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.