Rowers gesoek wat hul as polisie voordoen

Alle beskikbare Rusa-beamptes is na die toneel ontbied. (Foto: Reaction Unit South Africa/Facebook)

Die polisie in Tongaat, KwaZulu-Natal, is op soek na vier mans wat hulle glo as polisiebeamptes voorgedoen het om ʼn huis in dié gebied te beroof.

Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) het die vermeende rowers Woensdag by ʼn huis in Daffodilweg in Mithangar aangeklop.

Die verdagtes was glo in die polisie se reflekterende baadjies geklee en een van die rowers het hom as ʼn beampte geïdentifiseer. Hulle het ʼn bevelskrif aan die eienaar oorhandig om sy huis te deursoek en die huis binnegegaan.

“Die verdagtes het byna onmiddellik hul vuurwapens op die eienaar gerig en daarop aangedring dat die kluis oopgemaak word. Hulle het ʼn onbekende hoeveelheid kontant en ʼn vuurwapen gebuit voordat hulle met ʼn motor op die vlug geslaan het.”

Alle beskikbare Rusa-beamptes is 17:18, terwyl die gewapende rooftog aan die gang was, na die toneel ontbied.

“Op pad na die toneel is die beamptes na Ndwedwe herlei, waar die polisie reeds die verdagtes se motor agternagesit het.”

ʼn Soektog van die gebied is van stapel gestuur, maar die verdagtes kon daarin geslaag om die polisie te ontduik.

Die polisie het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om op die uitkyk te wees vir ʼn wit Volkswagen Golf of Polo GTI met die registrasienommer ND 354 712.

Dit word vermoed dat die motor wat die verdagtes gebruik het ook met ʼn blou polisielig toegerus is, maar dit kon nog nie bevestig word nie.

Lede van die publiek kan Rusa-beamptes by 086 123 4333 skakel as hulle inligting in verband met die rooftog het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gerhard ·

Uhm…..Daar is n baie goeie kans dat hulle hulle nie net as polisiebeamptes voorgedoen het nie, maar dat hulle wel polisiebeamptes was……juis daarom dat hulle, alhoewel deur die polisie agternagesit is, weggekom het………net my opinie

Grassie ·

Hierdie soort optrede plaas ‘n mens in ‘n moeilike posisie as mense in polisiedrag by jou opdaag met ‘n deursoekingslasbrief en toegang eis. Indien hulle misdadigers is gaan jy beroof of moontlik gedood word as jy hul toelaat. Weier jy toegang en hulle is werklik polisie gaan jy gearresteer word en tjoekie toe gaan omdat jy die polisie verhinder in die uitvoering van hul plig en omdat jy ‘n wettig uitgereikte lasbrief verontagsaam. Ons leef in ‘n moeilike land.

Natasha ·

Hoekom is dit dat polisie drag & wapens so maklik bekombaar is? Dit laat my wonder of die mense hulle werklik voordoen as polisie beamptes en of hulle regtig polisie beamptes is wat net krimineel optree? Om ‘n wettige bevelskrif met al die informasie en handtekeninge te bekom kan tog nie so eenvoudig wees nie?

Cindy ·

ek het nog nooit ‘n wettige bevelskrif gesien nie, so ek sal ieder geval nie weet of dit wettig is of nie LOL. Maar ek stem saam jou ja

ES ·

Natasha, ek het in my jare in die bankwese gesien hoe kerf hulle offisiele stempels uit aartappels uit wat so goed is soos die ware Jakob. Dis deesdae baie eenvoudig om ‘n offisiele lasbrief te vervals met ‘n stempel.

Swerwer ·

Hul kan op hul koppe staan, al is hul geklee in uniforms en met ‘n SAP voertuig by my woning stilhou sal hul buite die hek bly. Niemand kan deesdae meer vertrou word nie. En Hoed skitter in sy afwesigheid die afgelope tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.