Rowers gevonnis ná man aanval fnuik

court-hammer_thumbTwee mans, Aubrey Vusi Hotane (36) en Cele Abednego Jonathan (19), is Maandag in die Lichtenburg-streekhof in Noordwes tronkstraf opgelê nadat hulle P.R. de Wet verlede jaar aangeval het.

Hotane en Jonathan is tronkstraf opgelê vir poging tot roof met verswarende omstandighede vir die voorval wat op 21 Junie 2013 in 11de laan in die voorstad Burgersdorp plaasgevind het.

Beide beskuldigdes het skuldig gepleit op die aanklag, en in verklarings wat in die hof voorgelees is die agtergrond geskets waarteen dié dag se dramatiese gebeure ontvou het.

Dit blyk die jonger beskuldigde se ouma was destyds as huishulp werksaam by De Wet se woning. Jonathan het haar hoor oorvertel dat haar werkgewer sorgeloos sy kluisdeur laat oopstaan en dat daar glo duisende rande daarin was. Jonathan en twee makkers het hierna ʼn rooftog beplan en die oggend van die voorval na De Wet se woonperseel vertrek toegerus met ʼn lugpistool, ʼn groot tang, ʼn stukkende skaapskêr en ʼn mes.

Die drietal rowers het hulle egter misgis toe hulle De Wet alleen in die erf aangeval het, want hy het Hotane met die vuis platgeslaan en verwoed begin terugveg. In ʼn stadium het De Wet agteruit getree en die drie met ʼn tuinhek probeer terugdryf. Hoewel hy neergevel is en selfs op die grond geskop is, kon hy daarin slaag om weer op te staan en na die huis te hardloop. Hy is met ʼn voorwerp teen die kop geslaan en het volgens ʼn doktersverslag skaaf- en ander wonde op sy kop, skouers en bobeen opgedoen.

De Wet het dit nietemin reggekry om die veiligheid van sy huis te bereik en het ʼn veiligheidshek in sy aanvallers se gesigte toegeklap, waarna hy sy eie vuurwapen gaan haal het. Hierna het die booswigte op die vlug geslaan maar is enkele minute later deur die polisie aangekeer op grond van ʼn klerebeskrywing wat De Wet gegee het.

In vonnisoplegging het streeklanddros Louis Virtue hom uitgespreek oor die hoë voorkoms van geweldsmisdaad in die hof se jurisdiksiegebied, en was hy dit eens met die staatsaanklaer dat die beskuldigdes waarskynlik net skuldig gepleit het omdat die derde rower homself as staatsgetuie beskikbaar gestel het. Die aanklaer het ook die hof daarop gewys dat die nuutste misdaadstatistieke deur die SAPD aantoon dat daar ʼn toename in hierdie tipe misdrywe was en versoek dat die beskuldigdes met die volle mag van die regstelsel gestraf word.

Tydens strafbetoog het dit aan die lig gekom dat Hotane reeds in 2001 in die Itsoseng-streekhof aan gewapende roof en ontsnapping skuldig bevind is waarvoor hy effektief 20 jaar gevangenisstraf opgelê is. Die landdros het opgemerk dat hy weens hierdie soortgelyke vorige veroordeling swaarder gestraf sal word as Jonathan. Hotane is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis, terwyl Jonathan agt jaar tronkstraf moet uitdien. Beide is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit ingevolge die Wet op Beheer van Vuurwapens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Francois Peens ·

Hoe het Hotane in 2001, ñ effektiewe 20jr tronkstraf gekry, en loop in 2014 rond om weer dieselfde te kan doen?

Net Ekke ·

Ek stem saam Francois en dan kry hy hierdie keer maar 15 jaar. Teen 2016 het hy seker nog 10 soortgelyke klagtes teen hom. Hy gee mos nie om nie, want die straf word elke keer net ligter.

Louis ·

Ek verstaan nie hoekom julle dit nie kan verstaan nie ?
Ons bly in Suid Afrika mense, hier is alles moontlik !!
ALLES IS KORRUP !!!!!!!!!!

linda ·

mense onderskat die mense wat vir hulle werk – hulle act onnosel – maar hulle sien hoor en weet van alles – omdat hulle krap waar hulle nie moet nie SONDER jou wete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.