Twee gewapende rowers is Donderdagmiddag in hegtenis geneem nadat polisiebeamptes hulle op heterdaad betrap het terwyl hulle ʼn man in Durban-Noord beroof het.
Kol. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het omstreeks 16:00 in Greenwoodpark plaasgevind.
“Polisiebeamptes het die N2-snelweg gepatrolleer toe hulle die rooftog sien plaasvind,” het Naicker Vrydag gesê. “Toe die verdagtes die polisie sien, het hulle op die polisie losgebrand. Die polisie het teruggeskiet en die mans gewond.”
Naicker het gesê die verdagtes in na ʼn hospitaal geneem waar hulle in ʼn stabiele toestand onder polisiebewaking is.
Die polisie het beslag gelê op ʼn 9 mm-pistool wat in die verdagtes se besit was. Die vuurwapen kan reeds verbind word met ʼn gewapende roof wat op 27 Mei omstreeks 12:30 ook in Greenwoodpark plaasgevind het.
Die verdagtes, onderskeidelik 23 en 27 jaar oud, staan tereg op aanklagte van roof, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Hulle sal in die hof verskyn sodra hulle uit die hospitaal ontslaan is.