‘Rowers’ gewond, nog een vas ná rooftog op Northam

Die polisie het ook op ‘n vuurwapen en ammunisie beslag gelê. (Foto: SA Polisie)

Twee vermeende gewapende rowers is gewond en ʼn derde makker is kort daarna in hegtenis geneem, nadat hulle na bewering die Pep Stores op Northam in Limpopo beroof het, het brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, gesê.

ʼn Veiligheidswag van G4S het Saterdagoggend kort voor nege die winkel binnegegaan om kontant op te laai toe twee gewapende mans hom oorrompel het, het Mojapelo gesê.

“Die verdagtes het sy maatskappyvuurwapen gevat en die werkers van die Pep-winkel beveel om die winkel se kluis oop te sluit. Nadat hulle die kluis leeggemaak het, is die veiligheidsbeampte en die werkers in die kluis toegesluit. Die polisie is ontbied en die beskikbare inligting, ook inligting oor hul voertuig, is in die omgewing versprei.”

Met die hulp van die gemeenskap en lugsteun van ʼn plaaslike sakeman, is die verdagtes se Toyota RunX in ʼn nabygeleë woongebied opgemerk.

Tydens ʼn jaagtog is twee van die vermeende rowers gewond, terwyl ʼn derde voorgekeer en in hegtenis geneem is. Die twee gewonde mans is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem.

Die polisie het beslag gelê op die voertuig, drie 9 mm-pistole en koeëls, asook ʼn onbekende bedrag geld. Die verdagtes is onderskeidelik 21, 27 en 37 jaar oud en word aangekla van poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, asook verset teen inhegtenisneming. Hulle sal binnekort in die landdroshof op Northam verskyn, het Mojapelo gesê.

Limpopo se provinsiale polisiehoof, Nneke Ledwaba, het veral die sakegemeenskap bedank vir hul hulp om die vermeende rowers aan te keer.

Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit al in ander rooftogte gebruik is, het Mojapelo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Netso ·

Nou skielik aangekla vir poging tot moord ? Nog elke ander berig was dit huisbraak of roof hier is niemand beseer nie!

Tokkolos ·

Netso
Presies my gedagte
Boere word vermoor dan is dit huisroof

Frikkels ·

Hulle moet tog nie vergeet om roof met verswarende omstandighede by die aanklagte te voeg nie.

Cherokee ·

MM, julle verwys na drie 9mm pistole wat in die opvolgende sinne een vuurwapen word.

Cherokee ·

Watter een van die drie word gestuur vir ballistiese toetse?

aj ·

Die ‘saamvreters’ wat saam met die rowers gedeel het in die geld moet ook vir medepligtigheid vervolg word!!!

Dan sal misdadigers ‘melaats’ word en geen skuilplek kry nie.

Gee belonings aan mense wat misdadigers help vastrek!

‘Dead or alive!’ … soos in die Wilde Weste!

jakes ·

Pep Stores en Ackermans word ook gereeld geteiken aan die Oos-rand. Misdadigers vier hoogty in SA en baie min word vasgetrek. M yvrou was by 2 geleenthede in Pep Stores toe gewapende rowers dieselfde winkel beroof het. Dit neem so 4 minute dan loop hulle doodluiters daaruit asof hulle gewone kliente is. Die polisie daag eers lank daarna op.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.