Rowers hou tieners ure lank by huispartytjie aan

Monique Haywood, saam met haar ouers, Lynette en Theuns Hurter. Foto's: Verskaf

Slagoffers – Monique Haywood, saam met haar ouers, Lynette en Theuns Hurter. Foto’s: Verskaf

Sewe gewapende mans het Vrydagaand tydens ʼn huispartytjie in Virginia in die Vrystaat, op ʼn groep van nagenoeg 15 niksvermoedende tieners toegeslaan en hulle ure lank tydens ʼn huisroof aangehou en aangerand. Drie volwassenes was ook die slagoffers van die vier uur lange nagmerrie.

“Dit klink omtrent soos ʼn riller. Ons is nie gewoond aan sulke dinge in ons dorp nie,” het die plaaslike sanger Lee-Anne Haywood, een van die slagoffers se suster, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Monique Haywood (links) en haar suster Lee-Anne.

Monique Haywood (links) en haar suster Lee-Anne.

Haar suster, Monique Haywood (18), was nog te getraumatiseer ná die voorval om met die media te praat, en haar suster het namens haar vertel wat gebeur het. “Die groep vriende wou vir oulaas net sommer lekker saamkuier voor die skole weer begin,” het Lee-Anne gesê. Die partytjie was by ʼn vriend se huis in Valley-rylaan in die Ou Virgina-streek naby die dorp se gholfbaan.

Sewe mans gewapen met vuurwapens en hamers het omstreeks 22:00 in die huis ingestorm en die tieners, asook ʼn vrou wat in die huis woon en na die tieners omgesien het, gedwing om op die sitkamer se vloer te lê met hul gesigte na onder.

“Twee van hulle het klapmusse gedra, die res se gesigte was sigbaar. Hulle het ook nie handskoene aangehad nie,” het Lee-Anne verder gesê. “My suster sê hulle het aanvanklik gedink dit is iemand wat ʼn poets bak want een van die mans het ʼn mussie op sy kop gehad, waarvan die toutjies om sy neus vasgebind is. Die man het aanvangklik gelag toe hy daar instorm en eise gemaak het, en my sussie-hulle het geskok saamgelag. Toe die res van die groep met vuurwapens instorm, het hulle geweet dis nie ʼn grap nie.”

Michael van Zweel, Monique se kêrel wat ook tydens die aanval met 'n hamer geslaan is

Michael van Zweel, Monique se kêrel wat ook tydens die aanval met ‘n hamer geslaan is

Die mans het aangedring op selfone, kontant, bankkaarte en die kaarte se geheime kodes. Hulle het daarna die tieners hardhandig deursoek, asook hul hande by van die slagoffers se geslagsdele ingedruk om te voel of daar iets waardevols weggesteek word. Hulle het ook ʼn tabletrekenaar waarop die tieners musiek geluister het, skoene, grimering, motorsleutels en juwele gevat.

Monique se ouers, Lynette en Theuns Hurter, het omstreeks 22:30 by die huis opgedaag om haar op te laai. Hulle het met maar afgespreek om haar buite die huis op te laai en het bekommerd geraak toe sy nie daar is nie. Hulle het haar twee keer op haar selfoon geskakel, waarna een van die verdagtes Monique se selfoon langs haar oor gehou en haar gedwing het om te sê “ek kom” en “ek is op pad”. Toe sy na ʼn ruk nie uitkom nie, het Theuns die motor se toeter gedruk, waarna van die mans uitgekom en hulle in hul motor oorrompel het.

Die mans het ook Lynette en Theuns se selfone gesteel en hulle in die huis in gedwing waar hulle saam met die res op die grond moes lê. Theuns se bankkaart en kode is ook geneem waarna van die mans na ʼn nabygeleë kitsbank geld uit al die slagoffers se rekeninge gaan trek het. Theuns het per abuis uit skok die verkeerde rekeningnommer gegee. Een van die boewe by die kitsbank het in daardie stadium sy makker, wat by die huis agtergebly het, gebel om te sê die geheime kode is verkeerd. Theuns is hierna na die kombuis geneem en is herhaaldelik met ʼn hamer aangerand. Hy het aan hulle verduidelik dat dit net ʼn fout was, en is losgelaat nadat hy die regte kode gegee het.

Die aanvallers het hulself gehelp tot die tieners se kos, peuselhappies en koeldrank voor hulle die groep in ʼn klein kamertjie gaan toesluit het. “Die kamer was so klein dat van hulle op mekaar moes lê,” het Lee-Anne bygevoeg.

Die aanvallers het met twee van hul slagoffers, waaronder die Hurter-egpaar, se motors van die toneel gevlug.

Toe die aanvallers op vlug slaan, het ʼn seun die kamervenstertjie gebreek en só sy arm gesny. Hy moes later sowat 50 steke kry om die wond te heg. Almal is daarna een-vir-een gehelp om deur die gebreekte venster te klouter. Van die tieners het by die bure om hulp gaan aanklop en die polisie is omstreeks 01:00 ontbied.

Na wat verneem word, het vyf seuns en ʼn meisie beserings opgedoen nadat hulle tydens die aanval met onder meer hamers en vuurwapens geslaan is. Een seun, Kgomotso Ntsiuoa, is in die hospitaal opgeneem nadat hy ʼn harde hou met ʼn hamer op sy rugstring toegedien is. Theuns is ook in die hospitaal behandel, maar is nie opgeneem nie.

Kgomotso Ntsiuoa is steeds in die hospitaal nadat hy tydens die aanval met 'n hamer op sy rugstring geslaan is.

Kgomotso Ntsiuoa is steeds in die hospitaal nadat hy tydens die aanval met ‘n hamer op sy rugstring geslaan is.

Die res van die groep maats is ongedeerd, maar erg getraumatiseer.

Ao. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “Die Virginia-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof,” het Khosana gesê. Volgens verklarings wat tot dusver by die polisie gemaak is, is nagenoeg R6 000 en 13 selfone onder andere tydens die voorval gesteel.

Khosana het gesê die gesteelde voertuie is onderskeidelik Saterdag en Sondag verlate opgespoor in Bronville en Thabong.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Khosana het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om die Virginia-polisie se speurdiens by 082 301 3062 of 08600 10111 te skakel met inligting wat hulle kan help met die ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lillian ·

En dan lag mense as ek my vuurwapen oral saamneem … Die land raak al hoe meer belaglik by die dag!

snel ·

Dis vreeslik!!!! Kan nie eers net lekker “party”, hou nie. Sterkte vir almal betrokke.

Bianca ·

Monique is my vriendin en ek ken haar goed.. My hart gaan uit na haar.. Sterkte almal wat betrokke was..xx

Drieks ·

En op Radio 702 praat hul oor die wreedheid van Boko Haram. Word wakker 702. jul kinders gaan in hierdie land gemarel word. Pak die probleem aan oor die wreedste mans wat in SA bly.

Gatvol ·

2 Vroue word deur Islamitiese terroriste in Sydney aangehou en letterlik die hele wereld weet daarvan, selfs die goewerment van Australie laat vlae half mas hang. Ek twyfel sterk of die goewerment van SA selfs bewus is van hierdie daad van terrorisme. Hoe lank nog gaan ons net terug sit en se: “Ag wat, dit is maar hoe SA is, ten minste is niemand gedood nie”, terwyl ons almal weet dit hoef nie so te wees nie, nee, dit mag nie so wees nie!

Rieks ·

HALLO hierdie land word die 2de ZIM – hierdie aanvalle en moorde gaan net BAIE erger word as daar, want hier is die korruptes in beheer van ALLES en weet NIKS. Ondersoeke word gedoen en niks word uitgesorteer nie. Vandag in die tronk môre ‘n minister wat dik in die geld rondlê! Kan net nie op my ouderdom voor begin in ‘n ander land nie anders was ek laaaaankal weg. Ongelukkig woon ons bejaarde ouers ook by ons en kan nie hulle wortels ook uittrek en verwag om voor te begin op hulle ouderdom van amper 80 nie. Die Here sal moet gee dat die wit mense nie begin reg in eie hande neem nie, want dan sien ek swarigheid vir ons – daar sal te min tronke wees om ons almal binne te hou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.