‘Rowers’ in ʼn kits vasgetrek

Argieffoto: SAPD/Facebook

Twee vermeende rowers wat Vrydagaand op ʼn kitskoswinkel in Port Elizabeth toegeslaan het, het vinnig hul moses teëgekom toe hulle binne minute ná die rooftog deur die polisie vasgetrek is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê drie mans, waarvan twee gewapen was, het omstreeks 20:30 by ʼn burger-en-pizzawinkel in Kabega Park ingestorm en vuurwapens op die personeel gerig. Die verdagtes het al die kontant uit die kasregisters en die kluis gebuit, asook ʼn kliënt se beursie, voordat hulle op die vlug geslaan het.

Volgens Naidu het die verdagtes in ʼn rooi Volkswagen Polo wat buite die winkel gewag het van die toneel gevlug. Die polisie is dadelik in kennis gestel en lede van die polisie se taktiese reaksie-eenheid was binne oomblikke op die verdagtes se spoor.

“ʼn Jaagtog het ontstaan en die verdagtes het op die polisie losgebrand, wat teruggeskiet het. Die verdagtes het beheer oor die voertuig verloor en ʼn ongeluk veroorsaak.” Naidu het gesê ʼn 28-jarige verdagte is op die ongelukstoneel in hegtenis geneem. Twee vuurwapens, die gesteelde geld en die beursie is in die voertuig gevind.

Drie ander verdagtes het tussen die bosse in gevlug waar polisiebeamptes nog ʼn 35-jarige verdagte vasgetrek het. Die ander twee verdagtes kon daarin slaag om te ontsnap.

Naidu het gesê die 35-jarige verdagte word van sakeroof aangekla, terwyl die 28-jarige aangekla word van onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en die besit van gesteelde goedere. Albei verdagtes sal Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Leahim ·

Dit maak sin die polisie is gewoonlik in die nabye omgewing van een of ander kitskos winkel ,al ooit gehoor van n kfc wat beroof is nee want dit is waar die meeste rondhang terwyl sa en sy mense geterroriseer word deur kriminele.

Dirkie ·

Leahim verlaat die land wat soek jy hier. Jy is te goed vir woorde. Jy Klink soos iemand in Dubai hoop jy loop Mugabe ook daar raak.

Hanna ·

Weereens , hoekom word hul nie aangekla van gewapende roof nie en nie net die onwettige besit van vuurwapens en besigheidsroof. Welgedaan aan die polisie vir die vinnige optrede

Johanna Botha ·

Nou moet mens net hoop hulle ontsnap nie aanhouding soos al baie kere gesien

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.