‘Rowers’ in noorde van Pta doodgeskiet

Twee van die vermeende rowers is doodgeskiet toe hulle van die polisie probeer vlug het. (Foto: SA Polisie)

Twee vermeende gewapende rowers is Woensdag in ʼn skietgeveg met die polisie dood.

Lede van die polisie se taktiesereaksie-eenheid en die transitorooftogtaakspan het inligting ontvang dat die bende beoog om ʼn sakeonderneming in Amandasig, in die noorde van Pretoria, te beroof.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het gesê die mans het by die winkel aangekom nadat dit reeds gesluit het vir die dag en het oënskynlik besluit om die gebied te verlaat.

“Die polisie het die drie verdagtes se voertuig, wat geen nommerplate gehad het nie, agternagesit. By die aansluiting van Doreen- en Eerstelaan in Chantelle het die polisielede die bakkie probeer voorkeer en ʼn skietery het uitgebreek,” het Muridili gesê.

“Een van die verdagtes is op die toneel doodgeskiet en ʼn tweede is kort ná sy aankoms by ʼn hospitaal dood. Die derde verdagte het te voet gevlug.”

Die polisie het beslag gelê op drie vuurwapens, ammunisie en die bakkie. Die wapens sal vir forensiese toetse gestuur word om vas te stel of dit op enige ander misdaadtonele gebruik is. Die bakkie is vermoedelik gesteel en word ook vir leidrade gefynkam.

Volgens die polisie word die drie verbind met minstens tien rooftogte by sakeondernemings in die Pretoria-omgewing. Hulle is vermoedelik deel van ʼn groter sindikaat wat ook by transitorooftogte betrek word, het Muridili gesê.

Die bende het ná die inwerkingstelling van die landwye staat van afsondering glo na rooftogte by sakepersele oorgeskakel. Hulle teiken nou glo winkels soos supermarkte wat tydens die afsonderingstydperk mag sake doen.

Vier vermeende lede van die sindikaat, Bibo Mavundlha, Boyboy Mogale, Koketso Phahla en Sammy Sebelebele, is verlede maand in hegtenis geneem en staan tereg op aanklagte wat wissel van gewapende roof tot die besit van gesteelde voertuie.

Die vier het reeds in verskeie howe verskyn en bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gawie ·

‘n ‘Vermeende’ rower word ‘n opregte rower sodra hy op die polisie begin skiet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.