Rowers laat spaander toe bejaarde begin bid

Die polisie en veiligheidsbeamptes op die toneel waar die motordiewe gevang is. Foto: Verskaf

ʼn Verdagte is Donderdag in Pretoria in hegtenis geneem kort nadat ʼn bejaarde vrou en haar huishulp in ʼn huis in die ooste van die stad oorval en beroof is.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisiestasie, het aan Maroela Media gesê twee verdagtes het teen 13:30 toegang tot die vrou se huis in Jocelynstraat in Lynnwood Glen verkry en haar en haar huiswerker oorval terwyl hulle in die kombuis besig was.

“Die verdagtes het ʼn mes in die kombuis gevat en die vroue gedreig. Die verdagtes wou die vroue vasbind, maar het besluit om hulle uit te los toe die bejaarde vrou hardop begin bid het,” het Weilbach gesê.

Die verdagtes het twee selfone en kontant gebuit voordat hulle in die vrou se silwer Mercedes Benz op die vlug geslaan het. Die vroue is ongedeerd.

“Kort nadat die rooftog aangemeld is, het ʼn polisiebeampte van die radiobeheereenheid die gesteelde voertuig met een insittende in Mamelodi-Oos opgemerk. Die voertuig is voorgekeer en die 35-jarige bestuurder is in hegtenis geneem.”

Die Brooklyn-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof en diefstal van ʼn voertuig. Die verdagte moet binnekort in die Pretoria-landdroshof verskyn. Verdere ondersoek sal bepaal of hy met ander misdrywe in die omgewing verbind kan word. Die soektog na die ander verdagte duur voort.

Kol. Terrence Naidoo, die waarnemende stasiebevelvoerder van die Brooklyn-polisie, het die inhegtenisneming verwelkom en gesê dit is ʼn bewys dat die polisiemaatreëls wat ingestel is vir die feesseisoen, effektief en doeltreffend is.

Vroeër die dag het die Brooklyn-polisie, in samewerking met Hi-Risk Security wat deel uitmaak van die Brooklyn-sekuriteitsforum, drie verdagtes in hegtenis geneem toe hulle op heterdaad betrap is terwyl hulle ʼn Toyota Corolla by ʼn kerk in Milnerstraat in Brooklyn wou steel. ʼn Vierde verdagte kon daarin slaag om te ontsnap nadat die verdagtes op die polisie en veiligheidsbeamptes geskiet het. Die soektog na die vierde verdagte duur voort.

Die drie verdagtes, almal in hul 30’s en van Mamelodi-Oos, moet binnekort in die Hatfield-gemeenskapshof verskyn op aanklagte van poging tot motordiefstal, die besit inbraaktoerusting en poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

André ·

Maroela Media, “…toe die bejaarde vrou hardop begin het.” Het sy geskree of dalk gehuil?

Dalene de Vente ·

Dagsê André

Dankie vir jou valkoog! Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Naomi ·

Mense, boere, LET OP !!!!!! Die vroue is ongedeerd, hoekom???? Want die tannie het in haar benoudheid haar REDDER aangeroep, en HY het haar geroep om hulp VERHOOR!!!! n Bewys van God se belofte PSALM 91.

Vicky ·

AMEN!!!!
Psalm 91 is so n kragtig om oor jou gesin, familie, vriende en jou land te bid.

Christelle ·

Ek is oortrek met hoendervleis…GOD is altyd getrou aan Sy woord.

Magda v Bloem ·

Stem 100% saam jou!!!!!
Ons sal massa optogte vir elke misdaad teen “ons” moet begin!!!

Leahim ·

Sterkte aan die twee vrouens wat deur die soort trauma moes gaan miskien moet die polisie hi risk sekuriteit kontrakteur om die gebied te patrolleer en te beveilig dan kan hulle meer tyd hê om iets te ondersoek.

Albatros ·

Poging van moord. As jy iemand in n kis sit en dit word gesien as poging van moord, dan is dit ook poging van moord as jy n mense met n mes aanhou.

Gerda Bondfield ·

Baie dankie aan die vinnige optrede van Mnr Nico Mans van CSI SA. Met sy blitsige reaksie kon hy die registrasieno deurstuur
na die spesifieke patrollie motor via WhatsApp. Dit was letterlik ‘n paar minute voor die boodskap deurgekom het dat die voertuig gevind is.

Andre ·

Mamelodi-oos is pragtig…ek dog daar is net pandokkies en vuil grondpaaie…

Ounooi ·

Nog aanklagte????
Nou waar Sal ons begin? Wat van : aanranding met die bedoeling om ernstig te beseer? Poging tot moord – Hulle het wapens gehad, die mes? Diefstal met voorbedagde rade? Menseroof? Afbreek van menseregte – hulle wou hulle vasbind? Motor diefstal, NIE POGING tot motordiefstal nie!!! En so kan mens bysit soos soos in die doodskis saga, dan nie?

Koos ·

Paul, Paul skrik wakker, julle probeer altyd die mense uithaal en verneder. Lees tussen die lyne ook!

trudie venter ·

My tante, Chrissie Greyvensteyn , is vandag ‘n maand terug oorlede. Sy was 92. Sy het in Edenburg gebly waar sy middel Aug in die nag besoek is deur 2 jong mans wat geld geeis het. Sy is nie seergemaak nie, maar geld en kos is geneem. Sy het getuig dat sy nooit bang was nie want sy het geweet ons Vader is by haar en sal haar beskerm. (haar dood daarna dink ek iis te wyte aan post traumatiese skok van besoek en vinnige trek) . Tog sien ek positiewe ligpunt; ‘hardkoppige” 92 jariges kan nie alleen bly nie (baei redes wat ek nie hier hoef te noem nie) ; ek glo Vader het die 2 gestuur om haar skrik te maak en nie seer te maak nie. Alles in Sy groot plan. Sy was oud en kon normaal sterf in veilige omgewing. Ek vertel dit want selfs in die geval van die vrou wat gebid het, glo ek daar was n’ rigingwyser van Vader in prentjie wat ons nie mag miskyk terwyl ons so kwaad is vir die aanvaller nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.