Twee polisiemanne wat nie aan diens was nie, en boonop ongewapen, het Woensdag gehelp om vyf gewapende verdagtes buite Brits vas te trek.
Volgens berigte was konst. Gomolemo David Phiri en konst. Moses Moshwadiba omstreeks 15:50 in Mooinooi toe hulle vyf mans uit ʼn selfoonwinkel sien hardloop en in ʼn silwerkleurige Toyota Etios wegjaag. Die polisiemanne het in hul private voertuig die verdagtes agterna gesit terwyl hulle polisie by die omliggende polisiestasies ontbied het.
Polisielede van Brits en Hartbeespoortdam het Phiri en Moshwadiba gehelp om die verdagtes naby Damdoryn voor te keer. Die verdagtes is deursoek en twee pistole, een rewolwer, ammunisie, selfone en kontant is in hul besit gevind.
Volgens kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het die verdagtes, tussen 25 en 54 jaar oud, glo voorgegee dat hulle belangstel om ʼn selfoon te koop. Hulle het die verkoopsassistent toe van selfone en kontant beroof voordat hulle van die toneel gevlug het.
Die verdagtes sal na verwagting vandag (Vrydag) in die Brits-landdroshof verskyn op aanklag van sakeroof, die besit van gesteelde goedere en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale kommissaris in Noordwes, het die betrokkenes bedank vir hul samewerking en veral die twee konstabels wat hul plig na gekom het, al was hulle nie aan diens nie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
14 Kommentare
“A breath of fresh air” soos daar in Ingels gese sal word. So bly om te sien daar is nog Polisiemanne wat hulle werk doen, selfs wanneer hulle van diens is, te midde daarvan dat hulle lewens waarskynlik in gevaar was.
In die ander hoekie sou on Minister waarskynlik die vraag gevra het
“Ja maar het die Winkeleinaar ‘n masker aangehad?”
of
” Was hy oppad strand toe om te gaan BranderPlank Ry?”.
Wel gedaan manne
Wakker… Hahahahaha!
Pragtig om te sien daar is nog toegewyde polisie beamptes.
Well done!! Ons is trots op sulke kaliber polisiemanne
Dankie, julle versterk die bietjie vertroue wat ek nog het in ons polisiemag. Seën vir julle, doen so voort