‘Rowers’ los makker agter toe skote klap

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn Houer geld is Dinsdag ná ʼn transitorooftog by ʼn winkelsentrum in Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga gevind kort nadat ’n vermeende rower te voet daarmee probeer vlug het.

Dit volg nadat sy drie makkers in die wegkommotor laat spaander en hom langs die pad gelos het.

Die polisie sê hulle is op die spoor van die vier vermeende rowers wat veiligheidswagte by The Square-winkelsentrum in die stad Dinsdag eers ontwapen en toe beroof het.

“Die vier het op veiligheidswagte, wat besig was om kontant by verskillende winkels in die sentrum af te haal, toegeslaan. Die een wag is ontwapen voordat ʼn bedrag kontant, wat in sy besit was, gesteel is,” sê kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder.

ʼn Skietgeveg het tussen die vermeende rowers en bestuurder van die geldwa uitgebreek. Volgens Mdhluli is ʼn omstander in die proses raakgeskiet.

“Drie van die verdagtes het daarna van die toneel gevlug en hul makker, wat die houer geld gehad het, agtergelaat.”

Die bestuurder van die veiligheidsmaatskappy se voertuig het skote in die rigting van die verdagtes se wegkomvoertuig, ʼn Volkswagen Polo, afgevuur. Die motor se agterruit is in die kruisvuur beskadig.

“Van die verdagtes in die voertuig is moontlik gewond, maar kon steeds wegjaag.”

Die verdagte met die houer geld het te voet probeer vlug en die houer langs ʼn rivier, nie ver van die winkelsentrum af nie, weggesteek. Dié houer is later gevind.

Die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof.

“Ons doen ʼn beroep op staat- en private hospitale, dokters en mediese fasiliteite om op die uitkyk te wees vir hierdie verdagtes wat dalk by hulle kan aanklop vir behandeling.”

Die polisie het inwoners ook verseker dat alle inligting oor die voorval wat aan die polisie verskaf word, as vertroulik hanteer sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

FM ·

Die keer het hulle verloor
Hoop dit gebeur aanhoudend dat hulle nooit weer probeer nie
Wensdenkery…….. ha ha ha

Nozi ·

LOL!!!!! Wie het nou vyande nodig met sulke vriende. Sorry ne!!

Cornelius ·

Wat presies is die rol en doel van “veiligheids wagte” as hulle deur rowers ontwapen word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.