‘Rowers’ met speelgoedwapen loop rieme styf

‘n Speelgoedvuurwapen is by die twee rowers gevind. (Foto: SA Polisie)

Twee mans wat ʼn sakeonderneming in Pietermaritzburg met ʼn speelgoedvuurwapen probeer beroof het, begin die nuwe jaar agter tralies nadat die polisie hulle binne minute aangekeer het.

Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het gesê werkers was buite die winkel in Moses Mabhida-weg waar hulle gewag het om in te gaan, toe twee mans hulle genader het.

“Die verdagtes het ʼn vuurwapen op hulle gerig en die winkelsleutels geëis. Hulle het die deure gesluit en kontant geëis. Omstanders het die polisie, wat in die omgewing met ʼn misdaadvoorkomingsoperasie besig was, ontbied.

“Polisiebeamptes het die deur oopgedwing,” het Naicker gesê.

“Twee verdagtes is in die winkel se dak opgespoor waar hulle probeer skuil het. Hulle is in besit van ʼn speelgoedvuurwapen en kontant wat tydens die rooftog gebuit is, gevind.”

Die Plessislaer-polisie ondersoek die voorval.

Die twee vermeende rowers, onderskeidelik 27 en 38 jaar oud, verskyn na verwagting Donderdag in die Pietermaritzburg-landdroshof.

Die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Khombinkosi Jula, het die spoedige inhegtenisnemings verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.