Rowers ná jaagtog, skietery vasgetrek

Die vlugtende verdagtes het beheer oor hul voertuig verloor en in die padversperring op Inandaweg, net voor Newlands-Wesrylaan, vasgejaag [Foto: Marshall Security]

Sewe vermeende rowers is die afgelope naweek in onderskeidelik KwaZulu-Natal en Mpumalanga vasgetrek, nadat hulle vir wetstoepassers probeer wegjaag en op hulle geskiet het.

Marshall Security het Saterdag ’n groep gewapende rowers in die Newlands-gebied in KwaZulu-Natal ná ʼn jaagtog en ʼn skietgeveg aangekeer. Dié groep is glo deel van ’n bende wat gesoek word vir verskeie kapings en huisrooftogte in Durban-Noord, die Avoca-, Avoca Hulls-, Effingham-, Kenville-, Newlands- en Phoenix-gebied.

Volgens Tyron Powell van Marshall Security het hul lede in samewerking met polisielede ’n wit Volkswagen Polo omstreeks 13:00 op Inandaweg gewaar. Die voertuig is glo ná ʼn gewapende rooftog op Fulhamweg in Reservoir Hills gesoek.

“Sekuriteit- en polisielede het die voertuig in ʼn hoëspoed jaagtog agterna gesit. ’n Skietgeveg tussen die lede en die verdagtes het uitgebreek,” sê Powell.

Die vlugtende verdagtes het beheer oor hul voertuig verloor en in die padversperring op Inandaweg, net voor Newlands-Wesrylaan, vasgejaag.

“Vyf verdagtes is in hegtenis geneem, waarna twee later op die toneel aan hul beserings beswyk het. Een verdagte is onder polisiebewaking hospitaal toe geneem terwyl die ander twee verdagtes na die Newlands-polisiestasie geneem is waar hulle dienooreenkomstig aangekla sal word.”

Twee ongelisensieerde vuurwapens is ook op die toneel gevind.

In ’n afsonderlike voorval wat Sondag naby Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga plaasgevind het, het die polisie twee gewapende rowers in hul spore gestuit toe hulle ’n winkelsentrum wou beroof.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê polisielede het omstreeks 19:00 berigte ontvang van ’n beplande rooftog by die Sizanani-winkelsentrum in die Tekamahala-nedersetting.

“Polisielede is na die toneel waar hulle die verdagtes in ʼn goudkleurige Toyota Avanza gewaar het. Die verdagtes het die polisielede gesien en glo skote op hulle begin afvuur. Die polisielede het teruggeskiet om hulself te verdedig. ’n Hoëspoed jaagtog het daarna gevolg,” sê Mohlala.

Die vermeende rowers se voertuig is tydens die jaagtog tot stilstand gedwing nadat een van die motor se bande in die spervuur raakgeskiet is.

“Polisielede het die motor deursoek en op ’n vuurwapen afgekom. Twee verdagtes, ʼn man en ʼn vrou van onderskeidelik 24 en 26 jaar oud, is in hegtenis geneem.”

Albei verdagtes het tydens die skietery beserings aan die onderlyf opgedoen en het mediese behandeling ontvang.

“Die konfiskeerde vuurwapen gaan vir forensiese toetse gestuur word. Die polisie kan nie die moontlikheid uitsluit om nog aanklagte by die klagstaat te voeg nie.”

Intussen sal die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ook die voorval ondersoek.

Die verdagtes sal eersdaags in die landdroshof in Mkhuhlu verskyn op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem Wikkelspies

Beke Chele, sien hier voor jy voortgaan om die wetsgehoorsame burgers te probeer beperk!
‘.. Twee ongelisensieerde vuurwapens is ook op die toneel gevind. ..’

Marius

Misdaad floreer in ons land.

Kokerboom

Tekenend van ‘n swak President , sy kader regering en sy verrotte party wat beheer oor land verloor het!

Magda

Permanente verwydering is di beste oplossing.