‘Rowers’ op heter daad betrap

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

Twee verdagtes is Saterdag in hegtenis geneem nadat hulle saam met drie van hul makkers op heter daad betrap is toe hulle ʼn kleinhandelwinkel in Kroonstad, Vrystaat, probeer beroof het.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê vyf verdagtes het net voor 09:00 die betrokke winkel betree. Hulle het ʼn vuurwapen op die bestuurder gerig en hom gedwing om die kluis oop te maak.

ʼn Onbekende bedrag kontant is uit die kasregister gebuit. Hulle het ook 67 selfone wat in ʼn vertoonkas uitgestal was, gevat.

“Een van die verdagtes het glo die personeellede in ʼn hoek van die winkel met ʼn vuurwapen aangehou terwyl die ander kontant en selfone gesteel het,” het Makhele bevestig.

Die polisie het inligting oor die rooftog ontvang en het daar opgedaag terwyl twee van die verdagtes steeds in die winkel was.

“Die twee verdagtes is in hegtenis geneem en die ander drie word nog gesoek. ʼn Vuurwapen wat glo tydens die rooftog gebruik is, asook van die gesteelde kontant is teruggevind.”

Daar word beweer dat die verdagtes in ʼn bruin Toyota Corolla en ʼn Toyota Prado gevlug het.

Die polisie het ʼn saak van sakeroof aanhangig gemaak.

“Die twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 31 jaar oud, sal binnekort in die landdroshof in Kroonstad verskyn.”

Enigiemand met meer inligting wat tot die oorblywende verdagtes se inhegtenisneming kan lei, kan kapt. Sello Mokhele by 073 571 5566 of Stop Misdaad by 08600 10111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

Kry seker R50 borg môre… Ek sien hulle skep werk met die werkloosheid en armoede en onwettige wapens viva ANC viva!

Blomme ·

Maak dai 2 skurke praat oor hul makkers. Weier borg indien hulle nie die ander skurke se name wil verskaf.

Swerwer ·

Snaaks dat 5 saam ‘n roof beplan en uitvoer maar 3 het weggekom. Die 2 wat aangekeer is moet maar verbykom. Natuurlik is daar haarfyn beplan waarheen hul sou gaan. Ek hoop hul word vinnig aangekeer. Wonder net wat het van Panic buttons geword in die winkels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.