Rowers rol gesteelde bakkie ná plaasaanval; ambulans rol óók

Die bakkie waarmee die verdagtes wou vlug. Foto: Elzona Meyer / Heidelberg Medic Volunteers

Die bakkie waarmee die verdagtes wou vlug. Foto: Elzona Meyer / Heidelberg Medic Volunteers

Drie vermeende plaasaanvallers het Saterdag die bakkie wat hulle op ʼn plaas naby Devon in Gauteng gesteel het op ʼn grondpad gerol toe hulle probeer vlug het.

Die ongeluk het gebeur kort nadat drie gewapende mans omstreeks 16:00 vir Chris en Elize Viljoen op hul plaas in die Palmietfontein-omgewing oorweldig en beroof het.

Ao. Madeleine von Wielligh, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die aanvallers het die egpaar vasgebind en beroof van onder meer geld, selfone en hul Toyota Hilux .

“Hulle het met die egpaar se bakkie in die rigting van Nigel gevlug en op die Rietkuilpad beheer oor die bakkie verloor en dit laat rol,” het Von Wielligh gesê.

Die ambulans wat gerol het. Foto: Elzona Meyer / Heidelberg Medic Volunteers

Die ambulans wat gerol het. Foto: Elzona Meyer / Heidelberg Medic Volunteers

Elzona Meyer, direkteur van Heidelberg Medic Volunteers wat na die ongelukstoneel ontbied is, het aan Maroela Media gesê twee van die drie vermeende rowers was in ʼn kritieke toestand toe paramedici by die toneel opgedaag het.

“Een van die mans het ná die ongeluk uit die voertuig geklouter en gevlug. Die ander twee het erge hoofbeserings opgedoen en is op die toneel behandel,” het Meyer gesê. “ʼn Provinsiale ambulans het een van die mans na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer. Die pad is baie sleg en hulle het ongelukkig beheer oor die voertuig verloor en dit het ook omgeslaan.”

Die verdagte is later na die hospitaal geneem. Die paramedici is ongedeerd.

“Ons en paramedici van Emer-G-med het die ander man op die toneel gestabiliseer en saam met die polisie na die hospitaal geneem.”

Von Wielligh het Maandag bevestig dat een van die twee verdagtes dood verklaar is. Die ander verdagte is steeds onder polisiebewaking in die hospitaal en sal in die hof verskyn sodra hy herstel het.

Meyer het gesê daar word vermoed dat die man wat dood is, die een was wat in albei ongelukke betrokke was.

Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof. Die verdagte wat gevlug het, is steeds soek.

Na wat verneem word, is die egpaar nie ernstig tydens die voorval beseer nie. Volgens Meyer was hulle wel getraumatiseer en is deur ʼn huisdokter op Nigel behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

George ·

Magriet ek stem , en ai ek kry die arme bakie jammer hy sal nou lank vat om re gemaak te word

ladybug ·

Geen simpatie nie! Karma het hierdie keer vinniger gewerk!

Victor ·

Dis die rowers se verdiende loon! Mense/diere soos hulle verdien nie eers hospitaalsorg nie… Volgens my kan hulle maar reguit tronk toe gegaan het…
Ek hoop die derde rower word darem gevang.

Miranda ·

Ek hoop hulle vang die ander rower … ek wens die plaasaanvalle wil nou end kry. Niemand voel weer veilig op plase ni!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.