Rowers slaan binne ure toe op twee vulstasies

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Juan Fernandez/Unsplash)

ʼn Groep oënskynlik gierige mans is Sondag vinnig in hegtenis geneem nadat hulle glo binne drie uur twee vulstasies in die Oos-Kaap beroof het.

Hulle word boonop verbind met nóg ʼn roof by ʼn vulstasie Vrydagaand.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê beamptes is Saterdag om 22:45 na ʼn vulstasie in Rocklands, Gqeberha (Port Elizabeth), ontbied nadat ʼn groep gewapende mans glo die onderneming beroof het.

“ʼn Geel Mazda 323 het na bewering by die vulstasie ingery waarna drie van die vyf insittendes uitgeklim en glo ʼn vuurwapen op die petroljoggies gerig het,” sê sy.

“Die verdagtes het geld, sleutels, ʼn kaartmasjien en die petroljoggies se selfone gebuit voordat hulle op die vlug geslaan het.”

Alle polisiebeamptes is toe gewaarsku om op die uitkyk te wees vir ʼn geel Mazda 323.

Terwyl beamptes die vulstasie gefynkam het, het hulle inligting ontvang dat dieselfde motor by ʼn vulstasie in Durbanstraat, Kariega, gewaar is. Die verdagtes het glo ook dié vulstasie beroof en met geld en energiedrankies op die vlug geslaan.

Polisiebeamptes het Sondag om 01:30 die betrokke motor naby die tweede toneel opgemerk en op hulle toegesak.

Sewe verdagtes is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op die motor en twee vuurwapens.

Die verdagtes, almal tussen die ouderdomme van 17 en 35 jaar oud, word op twee aanklagte van sakeroof aangehou en sal na verwagting binnekort in die Kariega-landdroshof verskyn.

Speurders ondersoek ook tans die verdagtes se beweerde betrokkenheid by nog ʼn sakeroof wat Vrydagaand in ʼn ander gedeelte van Kariega plaasgevind het.

Brig. Thandiswa Kupiso, waarnemende Nelson Mandelabaai-distrikskommissaris, het die betrokke polisielede bedank vir hul vinnige optrede wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes gelei het.

“Hierdie misdadigers wat glo sedert Vrydag amok maak is eindelik aangekeer. Ons ondersoek tans hul beweerde betrokkenheid by ander sake,” sê sy.

“Ons sal ook nou saam met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) werk om te verseker dat hulle agter tralies bly totdat die ondersoek afgehandel is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Danie ·

“…dat hulle agter tralies bly totdat die ondersoek afgehandel is”, dan kan hulle vrygelaat word?

domheks ·

Lekker plek die! Vat wat jy wil he, basta met die mense wat HARD WERK vir hulle geld!

Magda ·

Maak asb seker dat hulle burgers van sa is, meeste misdade vd Di gemors is immigrante.

E ·

Eers sekuriteits wagte, maar nou selfs kassiere en ook petrol joggies. Is daar enige werk in SA wat nog “veilig” is?

Karlahari ·

Eish.
Maar ons is skerp…..
Hoeveel geel 323’s is daar op die pad?
Wit Polo is mos die gewildste wegkom kar

Nico ·

SA het in ‘n misdaad land van die werêld geword, waar is die reg en geregtigheid, wat die die polisie aan sulke sake is die polisie net besig om met onbelangrikke sake hul tyd te mors. Dit gaan mos te lekker in die land, daar word mos beweer die tronke is oorvol kyk na die probleme alles kom van die ANC regering af, daar is ook nie altyd polisie voertuie beskikbaar nie, baie keer is die polisie ook betrokke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.