Rowers slaan op munisipale gebou in Bloem toe

Die toneel by die Leslie Monnanyane-gebou in Rocklands. Foto: Twitter via @Lehlohonolo_13

Veiligheidswagte by ʼn munisipale gebou in Bloemfontein is Donderdag in die vroeë oggendure met vuurwapens aangehou terwyl rowers die kluis in die gebou oopgedwing en kontant geroof het.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê vier gewapende rowers het omstreeks 01:00 op die Leslie Monnanyane-gebou in Rocklands oorkant die kantoor van die departement van binnelandse sake toegeslaan. Die veiligheidswagte is oorrompel en met vuurwapens aangehou, voordat hulle later met drade vasgebind en in die badkamers in die gebou toegesluit is.

“Die rowers het daarna na die finansiesafdeling gegaan, die brandkamer oopgebreek waar die kluis gehou word en die kluisdeur oopgedwing. Hulle het met ʼn onbevestigde bedrag kontant gevlug,” het Mbambo gesê.

Volgens Mbambo het ʼn ander veiligheidswag wat buite om die gebou gepatrolleer het vreemde geluide van binne die gebou gehoor, asook hoe die hysbak in die gebou op- en afbeweeg. Hy het gaan ondersoek instel waar die ander veiligheidswagte is en toe hy hulle nie kon vind nie, het hy die polisie ontbied.

Met die polisie se aankoms op die toneel het die rowers egter klaar op die vlug geslaan.

Mbambo sê op presies dieselfde tyd terwyl dié rooftog aan die gang was, het ses gewapende rowers op ʼn vulstasie in Generaal De Wet toegeslaan. “Die rowers het die petroljoggies in die winkel ingedwing. Hulle het daarna ploftoestelle gebruik om die kluis te probeer oopblaas. Die ontploffing het skade aan die vensters en mure van die vulstasies aangerig, maar die kluis wou nie oopmaak nie,” het sy gesê.

“Die verdagtes het daarna die geld in die kasregister en sigarette gevat voordat hulle met hul wegkommotor en ʼn afleweringsvoertuig wat buite gestaan het op die vlug geslaan het. Die afleweringsvoertuig is later verlate by ʼn karwassery in Bloemanda gevind.”

Mbambo sê dit is verdag dat die twee rooftogte op presies dieselfde tyd plaasgevind het, maar die polisie weet in dié stadium nie of die voorvalle met mekaar verband hou nie. “Die moontlikheid dat die twee rooftogte met mekaar verband hou, kan nie uitgeskakel word nie, maar dit is nog nie bevestig nie.”

Volgens mediaberigte het die rooftog by die munisipale kantoor Donderdagoggend die bedrywighede by die kantoor van binnelandse sake ontwrig toe personeel glo uit vrees vir hul veiligheid aanvanklik geweier het om in die kantoor te gaan. Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-munisipaliteit, kon nie vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sieg ·

Die land is in rep en roer net soos die regering dit wou hê. Nou sal kommusme maklik geïmplementeer word, mooi uitgewerk. Ons is nie dom nie.

D V ·

Wanneer gewone byrgers op hulle swakte is slaan die skurke toe.
So ons moet waaksaam wees maar kan nie net op eie kragte staat maak nie.

André ·

Lyk my dis maklik om nou ploftoestelle in die hande te kry. Wonder waar is die uitverkoping?

HPV ·

Hoeveel geld kan in die kluise van ‘n hopelose bankrot metro wees? Min of selfs niks. Selfs die diewe in Bloem is al onbevoeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.