Rowers slaan op twee Limpopo-skole toe

Argieffoto: https://pixabay.com

Die polisie in Limpopo het hul skok uitgespreek ná twee skole in dié provinsie vandeesweek beroof is.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê in die eerste voorval het vier rowers Maandag omstreeks 01:30 die veiligheidswagte by die Ngwanamohube High School in die Seleteng-nedersetting buite Polokwane genader.

“Die aanvallers het die twee wagte in ʼn lokval gelei en hulle van kontant en ʼn vuurwapen beroof.”

Die rowers het die wagte in die skoolterrein ingedwing waar gemeentelede besig was om ʼn kerkdiens te hou en het die kerkgangers van selfone en komberse geroof.

Ngoepe het verduidelik dat ʼn privaatkerk ʼn deurnag-bidsessie by die skool gehou het. Daar was dus geen leerders by die skool ten tyde van die voorval nie.

“Die rowers het die wagte met boeie vasgemaak en in een van die kantore ingebreek en 18 skootrekenaars ter waarde van R126 000 gesteel, asook nog ʼn vuurwapen en ammunisie.”

In ʼn ander onverwante voorval het sewe verdagtes Dinsdag in die vroeë oggendure die veiligheidswagte by die Rapitsi High School in die Ga-Phaudi-nedersetting aangeval en hulle van ʼn vuurwapen beroof.

“Die verdagtes het die wagte geboei en hulle na die hoofgebou gedwing waar hulle in een van die kantore ingebreek het en een pistool, ammunisie, selfone, pepersproei, ʼn flitslig en ʼn bos sleutels geroof het,” het Ngoepe gesê.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het die twee voorvalle ten sterkste veroordeel. Hy het sy skok uitgespreek oor hierdie “verskriklike” dade deur misdadigers wat nie omgee oor die toekoms van die jeug nie.

Enigiemand wat die polisie kan bystaan met inligting oor die voorval kan kapt. Richard Boshomane by 079 894 5501 of Stop Misdaad by 08600 10111 kontak.

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Toe ek op skool was ·

Ek onthou toe ek op skool was was daar nie eers wagte nie en geen roof het ooit plaasgevind nie. Geen dwelms. Geen misdaad.

Bekommerde ·

My hart seer – wie gaan nou hieronder lei – net weer die kinders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.