Rowers stamp bebloede man op sy vrou

Jack en Babsie Smit. Foto: Verskaf

Jack en Babsie Smit. Foto: Verskaf

Babsie Smit (78) moes haar seun Riaan Venter vroeg Vrydagaand paniekbevange ontbied nadat twee mans haar en haar man in hul huis in Welkom, Vrystaat met ʼn panga en messe aangeval het.

“My kind kom huis toe, ons is aangeval en ek dink jou pa is dood,” het Smit aan haar seun gesê. Venter het dadelik sy winkel gesluit, en na sy ouers se huis gejaag terwyl hy ʼn vriend in die polisie gebel het.

Toe hy saam met die polisie daar aankom, het hy sy bebloede ma geskok in die eetkamer aangetref. Sy pa Jack (ook 78 jaar oud) het in ʼn plas bloed voor die televisie gelê. Hy was reeds dood. Sy gesig was erg vermink, en hy het verskeie sny- en steekwonde opgedoen.

Venter het Maandag aan Maroela Media vertel sy pa was besig met tuinwerk toe twee mans, wat klapmusse gedra het, hom buite die huis oorval en aangerand het. Jack is in die huis in gedwing, waar Babsie televisie gekyk het.

Jack was toe reeds vol bloed nadat hy met ʼn stomp voorwerp geslaan en met ʼn panga op sy rug gekap is. Die mans het Jack gestamp dat hy op Babsie val en toe geld van die egpaar geëis. Die mans het Babsie na die hoofslaapkamer gesleep en Jack vir dood agtergelaat. In die slaapkamer het hulle haar erg aangerand en met ʼn skerp voorwerp in albei haar skouers gesteek. Hulle het ʼn koffer met R2 000 gebuit, waarna hulle haar in ʼn kas toegemaak het. Hulle het in ʼn motor wat voor die egpaar se huis gewag het, van die toneel gevlug.

“Die hele aanval het seker sowat sewe minute lank geduur,” het Venter gesê.

Jack is op die toneel dood verklaar, terwyl Babsie na die Mediclinic Welkom geneem is vir verdere behandeling.

“My ma se lewe is buite gevaar, maar sy het nog baie pyn. Sy is baie hartseer oor my pa se dood en nog deurmekaar. Sy gaan vandag begin berading ontvang,” het hy bygevoeg.

Die egpaar was bykans 25 jaar getroud en woon al jare lank in Welkom.

Jack laat sy vrou, seun, en dogter Anthea Visser agter. Sy begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek ’n saak van moord, poging tot moord en huisbraak. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. “Mense met inligting wat die polisie met hul ondersoek kan bystaan, word versoek om ao. Piet Sehloho by 082 255 9682 te skakel,” het Thakeng gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
SNEL

My hart is soooo seer as ek hier lees; dit waardeur daai 2 arme ou mensies moes gaan en n seun wat moes aanhoor dat sy ouers aangeval is en dan nog die bebloede huis waarin hy moes stap en alles aanskou. Ai, so onnodig my hart gaan uit na hulle toe. Sterkte vir almal betrokke, mag die Here julle dra en krag gee.

anet

Die aanval het 7 minute geduur. Dit was’n wreede aanval, met die doel om te MOOR, te BESEER en te STEEL. Manne hoe lank gaan julle nog stilsit dat julle ouers,vroue,kinders,familie en vriende elke dag wreed aangeval en vermoor word? My innige simpatie aan die kinders en die familie wat ‘n geliefde ouer verloor het. Babsie ons wens jou ‘n spoedige herstel toe. Ek wens ek kon al hierdie wreedheid, wetteloosheid en pyn in Suid-Afrika weg was met al my trane wat ek al gehuil het oor die ou mensies wat so verniel word. Hulle kan hulle self nie verdedig… Lees meer »

JR

@anet…. Wat bedoel jy met “Manne hoe lank gaan jul nog stilsit..” ? Wat moet ons Manne doen …. behalwe om paraat te wees en met die rewolver oorgelaai te slaap ?

Sonja Janse van Rensburg

My innige simpatie met hierdie familie. Die skok gaan dalk verby ma mens is nooit weer dieselfde na so iets nie. Ek weet want my 80jarige skoonma is wreed aangerand en geryp in haar huis in Volsrust 2 jaar terug. Ons almal is erg getraumatiseerd omdat ons nie oor die grudade teenoor die weerlose, dierbaarste mens kon kom nie. Ek huil oor elke mens wat so aangeval word. Ma Ria het kort na haar aanval beswyk en ons mis haar nog elke dag.

Hannes Rudolph

Dis tragies, iets sal moet gedoen word om ons mense te beskerm teen boewe soos daai. Ek vrees elke dag vir ons lewens, want ons is ook al aan die groot kant. Hulle is lafaards en kom altyd in groepe van 5 en meer.
En die tyd van die jaar is hulle besig.
Ons bid vir die tannie en familie.