Rowers steel TV terwyl 8-jarige lê en kyk

Die venster wat die inbrekers gebreek het.

Die venster wat die inbrekers gebreek het.

Twee mans het Maandag by ʼn huis in Krugersdorp ingebreek en ʼn televisiestel gesteel terwyl ʼn agtjarige meisie lê en televisie kyk het.

Peter van Wyk, die meisie se pa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê hulle het haar die oggend skool toe geneem, maar die skool het hom en sy vrou later laat weet dat sy ongesteld is en hulle moet haar kom oplaai. “My ma en pa bly in ʼn aparte woonstel op my erf, en hulle het haar gaan oplaai en huis toe gebring, waar ons huishulp na haar omgesien het,” het Van Wyk gesê.

Sy dogter het voor die televisie onder ʼn kombers gelê toe die twee inbrekers toegeslaan het. “Die mans het oor ons muur geklim en ʼn groot venster langs my voordeur met ʼn klip stukkend geslaan en só toegang tot die huis bekom.”

Die verdagtes het dadelik na die televisiestel, ʼn 50 duim LG-platskerm, geloop en dit opgetel. Intussen het sy dogter en die huishulp om hulp geskreeu. Die ouma en oupa het die geraas gehoor en die paniekknoppie van hul veiligheidsmaatskappy gedruk. Die verdagtes het daarna op die vlug geslaan en net die televisiestel gebuit.

Volgens Van Wyk was sy dogter baie dapper en kon ʼn goeie beskrywing van die verdagtes gee. “Sy lyk in die stadium nie geskok nie. My vrou is ʼn verpleegster so ons hou haar toestand fyn dop vir as skok dalk later intree.”

Die Krugersdorp-polisie was vinnig op die toneel om die saak te ondersoek. ʼn Inwoner het ʼn foto van die verdagtes se voertuig, ʼn wynrooi BMW, geneem en aan die polisie en gemeenskappolisiëringsforum (GPF) oorhandig. Die GPF het later die dag roetinepatrollie in die omgewing gedoen en die voertuig by ʼn taxistaanplek opgemerk. Die voertuig het glo weggejaag toe die GPF se voertuig nader kom. Die voertuig se registrasienommer is afgeneem en word ondersoek.

Van Wyk het gesê hy is besig om veiligheid by sy huis op te skerp, aangesien die verdagtes die voorkamer van sy huis glo goed bekyk het nadat hulle toegeslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.