Rowers sterf in skietery met polisie by winkelsentrum

Argieffoto: SAPD / Facebook

Argieffoto: SAPD / Facebook

Drie vermeende rowers is Maandagaand in Kaapstad doodgeskiet kort nadat hulle glo ʼn winkelsentrum beroof het.

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die polisie het omstreeks 21:20 reageer op ʼn gewapende roof by ʼn winkelsentrum in Orionweg in Athlone.

“Die polisie is deur ʼn groep van sowat ses verdagtes gekonfronteer toe hulle uit ʼn supermark gevlug het. Hulle het op die polisie geskiet en die polisie het teruggeskiet,” het Van Wyk gesê.

ʼn Vrou wat in die omgewing was en ʼn 43-jarige adjudantoffisier is in die skietery gewond. Hulle is in ʼn ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal.

“Twee verdagtes is op die toneel noodlottig gewond. Een is gewond en het in die hospitaal aan sy beserings beswyk.”

Drie, of meer, verdagtes het van die toneel gevlug en is steeds soek.

Die polisie het beslag gelê op twee vuurwapens, ʼn R5-aanvalsgeweer en ʼn 9 mm-Beretta-pistool. Die polisie het ook op twee gekaapte voertuie beslag gelê waarmee die verdagtes gery het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paul ·

10 uit 10 vir die polisie in hierdie geval, dit is hoe dit gedoen moet word.

Ek hoop nie my kommentaar is polities nie te inkorrek om die Maroela Media toets te slaag nie.

paul ·

Ironies, Polisie vuurwapens wat gebruik is om Polisie mee aan te val.

AH ·

Paul onthou jy woon in SA dit is niks snaaks on R5 gewere op straat te koop nie

CHRISTA ·

Dit lyk my die polisie in die res van ons land moet gaan vir opleiding in die Wes-Kaap!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.