‘Rowers’ tydens huisbraak geskiet; een sterf

Foto: Twitter via @Netcare911_sa

ʼn Vermeende rower is doodgeskiet en nog een ernstig gewond tydens ʼn beweerde huisroof Dinsdag in die vroeë oggendure by ʼn kothuis in Sandton in Johannesburg.

Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is omstreeks 02:05 na die toneel in 12de Straat in Parkmore ontbied.

Volgens Dollman was daar twee verdagtes op die toneel wat tydens die beweerde huisroof geskiet is. Een van die verdagtes het op die toneel aan sy wonde beswyk, terwyl die tweede verdagte in ʼn ernstige toestand was nadat hy in die bolyf en been geskiet is.

“Hy is op die toneel gestabiliseer voordat hy na ʼn hospitaal vir dringende mediese sorg vervoer is,” het Dollman gesê. Hy sê die twee mans was na raming tussen 20 en 30 jaar oud.

Kapt. Granville Meyer, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig, maar gesê die presiese gebeure is nog nie duidelik nie. “Ons kan bevestig dat een verdagte doodgeskiet is en die ander tans in die hospitaal onder polisiebewaking aansterk,” het Meyer gesê.

“Die presiese gebeure is nog nie duidelik nie en die speurders ondersoek tans die saak. Vir nou word dit geag as ʼn huisbraak met die bedoeling om ʼn misdaad te pleeg. ʼn Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

willie ·

Weereens ñ ernstige misdaad berig, maar tenminste met ñ positiewe uitkoms!

Anton ·

Hoekom is die ander een vir DRINGENDE mediese sorg gestuur?

Theresa B ·

Ja nee vra ek ok Anton. Gee tog ook net vir hom ‘n suigstokkie.

pieter ·

Bly maar verstommend hoe daar dringend na rowers se gesondheid omgesien word, maar slagoffers moet dikwels van een na n volgende staatshospitaal gery word om behandel te word. Dan is die behandeling nog substandaard ook met slagoffers wat soms dae lank wag vir behandeling.

PJC ·

Gelukkig was die huisbewoner gewapen anders was dit nou hy waaroor in die media berig is. Keer op keer word dit duidelik hoe belangrik dit is om jouself te bewapen in die nuwe SA.

Hunter ·

Nee PJC as dit die huis bewoner was sou daar dalk nie eers n berig gewees het nie.. Sulke dinge word mos geswaai na net nog n rooftog en loop dan net dood en niemand steur hulle weer daaraan nie. Alles net vergete

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.