‘Rowers’ vas ná motor in sloot beland

Argieffoto

Drie verdagtes wat glo ʼn vulstasie beroof het, is in hegtenis geneem nadat hul wegkommotor tydens ʼn wilde jaagtog met die polisie in ʼn sloot beland het.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie in die Wes-Kaap, het gesê polisiebeamptes was Saterdagaand besig om die Kraaifontein-gebied in Kaapstad te patrolleer, toe hulle ʼn verdagte VW Polo opgemerk het. Nadat hulle die voertuig uit die oog verloor het, het hulle die gebied deursoek.

Volgens Traut het die beamptes die voertuig uiteindelik weer by ʼn vulstasie in Riebeeckweg opgemerk. “By nadere ondersoek het die beamptes drie mans met balaklawas in die winkel gesien – besig om ʼn gewapende rooftog uit te voer.”

Die beamptes het versterking ontbied, maar terwyl hulle gewag het, het die verdagtes in die Polo gespring en op die vlug geslaan. Die polisiebeamptes het hulle agternagesit en ʼn hoëspoed-jaagtog, waartydens verskeie skote afgevuur is, het gevolg.

“Die bestuurder van die Polo het beheer van die motor verloor en die voertuig het in ʼn sloot langs die N1-snelweg beland. Drie verdagtes, onderskeidelik 27, 29 en 31 jaar oud, is in hegtenis geneem. ʼn 9 mm-vuurwapen, vier patrone en vermoedelike gesteelde kontant is in hul besit gevind,” het Traut gesê.

Daar is ook vasgestel dat die Polo verlede maand in Kraaifontein gesteel is.

Die verdagtes sal binnekort in ʼn hof in Blue Downs verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jannie ·

WEL GEDAAN!! Waarom kan ons nie meer dikwels sulke goeie nuus kry nie? Doe zoo voort!!

kannie ·

was dieselfde berig nie vroeer die week ook gepubliseer nie? eerder geen nuus as herhalings asb. dis mos nie die sabc nie.

Mariné Lourens ·

Dagsê Kannie

Dankie vir jou kommentaar. Hierdie voorval het Saterdagaand plaasgevind en dit is dus nie moontlik dat Maroela Media vroeër in die week daaroor kon berig het nie.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Van Kraaifontein ·

Hello Kannie. Dalk was daar iets soortgelyk. Maar hierdie berig is nie n herhaling nie. Dit het wel gebeur saterdag nag die 11de Aug.

Johan H. ·

Moennie te gou bly word nie , Net more sal n ander polisie berig weer die teendeel van die goei werk!? Bewys,, Hoop egter ek is verkeerd!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.