Rowers vinnig in PTA aangekeer

Foto:Agief

Foto:Agief

Danksy die vinnige optrede van die Sinoville-polisie en Sinoville GPF is twee gewapende rowers Dinsdag in hegtenis geneem kort nadat hulle by ʼn huis in die noorde van Pretoria ingebreek en ʼn vrou aangehou het.

Mirna Von Benecke, ʼn woordvoerder van die Sinvolle-polisie, het aan Maroela Media gesê ooggetuies het omstreeks 12:00 gesien hoe ʼn verdagte voertuig by ʼn huis stilhou, en twee mans oor die mure klouter. ʼn Man het in die voertuig vir sy medepligtiges gewag.

“Die mans het die huishulp in die huis oorweldig en met ʼn wapen aangehou,” het Von Benecke gesê. “Hulle het begin om waardevolle items, waaronder die televisie, in hul wegkomvoertuig te laai toe die polisie op die toneel aangekom het.”

Die drie verdagtes het in die wegkomvoertuig begin wegjaag. “Die voertuig het later stilgehou en twee verdagtes het uitgespring en in verskillende rigtings gehardloop. Die bestuurder het verder met die voertuig weggejaag.”

Die twee verdagtes wat te voet gevlug het, is kort daarna in hegtenis geneem. Die voertuig is later verlate in die voorstad gevind. Die polisie is steeds op soek na die derde verdagte.

Sowat 45 minute het verloop vandat die polisie ontbied is, totdat die voertuig opgespoor is.

Daar is beslag gelê op die voertuig, gesteelde goedere, asook toerusting wat gebruik word om by huise in te breek. Daar word vermoed dat die voertuig gesteel is.

ʼn Saak van huisroof word ondersoek. Die verdagtes moet binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.