Rowers vlug sonder geldsakke ná transitorooftog

Die misdaadtoneel. Foto: Verskaf

Vinnige reaksie van beamptes van die polisie se nasionale ingrypingseenheid het daartoe gelei dat die rowers wat Maandagoggend op ʼn transitovoertuig in Kaapstad toegeslaan het, sonder die sakke kontant in die voertuig op die vlug moes slaan.

Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn onbekende aantal verdagtes in vier voertuie het omstreeks 08:00 op die geldwa op Jakes Gerwel-rylaan naby die Philippi-afrit toegeslaan. Hulle het plofstof gebruik om die voertuig mee oop te blaas.

“Lede van die polisie se nasionale ingrypingseenheid het vinnig gereageer en ʼn skietgeveg het tussen die rowers en die polisie ontstaan. Die rowers het in vier voertuie van die toneel gevlug, maar slegs met kontant wat [weens die ontploffing] oor die toneel verspreid gelê het en nie die sakke kontant in die geldwa nie,” het Muridili gesê.

Niemand is tydens die skietgeveg beseer nie. Die rowers het ʼn grys BMW, wat vermoedelik gesteel is, op die toneel agtergelaat.

Maroela Media het vroeër berig video’s en foto’s van die rooftog het Maandag soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. In een van dié video’s kan gesien word hoe verkeer tot stilstand kom ʼn paar meter agter die toneel waar die rooftog besig is om plaas te vind. Daar kan gehoor word hoe ʼn omstander sê: “Daar laai hulle die geld!” voordat talle skote klap.

Lt.genl. Sindile Mfazi, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, het die nasionale ingrypingseenheid geloof vir hul vinnige en dapper optrede.

Muridili het Dinsdagoggend gesê so ver sy bewus is, is niemand nog in hegtenis geneem nie. Die saak is intussen aan die Valke oorhandig vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dirk ·

Ek sal nie verbaas wees as hierdie ‘inside jobs’ is nie. Hoe weet daardie mans dat die voertuig vol geld is?

B Woord ·

As dit regtig boere was soos in die video genoem dan sou hulle nie misgeskiet het nie en die rowers sou nou in die tronk gesit het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.