RPO bedank voorwaardelik by Agri SA

(Argieffoto: Verskaf)

Die Rooivleisprodusentevereniging (RPO) het voorwaardelik as lid van Agri SA bedank.

James Faber, president van die RPO, sê die voortdurende inmenging van Agri Enterprises, ʼn filiaal van Agri SA, het tot die besluit aanleiding gegee.

“Die aangeleentheid is al verskeie kere met Agri SA opgeneem met die onderneming van laasgenoemde dat dit gestaak sou word,” sê Faber.

Die RPO het vroeër hierdie maand egter verneem dat “voortgesette inmenging in die vooruitsig gestel word”. Faber sê die RPO het algemene landbousake nog altyd na Agri SA verwys en het slegs op bedryfsake gefokus.

“Agri Enterprises se inmenging op verskeie vlakke in die bedryf het ʼn onhoudbare situasie geskep wat ook onaanvaarbaar is vir die lede van die Rooivleisbedryfsforum en die Melkprodusenteorganisasie (MPO),” sê hy.

Die RPO het ʼn hernude beroep op Agri SA gedoen om Agri Enterprises, die kommersiële afdeling van die organisasie, se inmenging by die onderskeie bedrywe dringend te staak.

“Die rooivleisbedryf het ʼn trotse rekord van inklusiewe groei in die bedryf en binne die nuut aanvaarde meesterplan vir landbou word verdere ingrypings beplan wat onder meer die rooivleisbedryf uitwys as slapende reus in die Suid-Afrikaanse landbou.

“Die toekomstige ingrypings in terme van inklusiewe groei is uiters gefokus en behoort binne die georganiseerde rooivleisbedryf gedoen te word,” sê Faber.

Hy sê die rooivleisbedryf is groot en gesond met genoeg kundiges wat reeds daadwerklike stappe doen, ook in die opkomende sektor, om die bedryf na selfs nuwe hoogtes te neem. Die RPO het in Mei al agter geslote deure met Agri SA oor sy besware vergader, maar het maande later steeds nie antwoorde van die organisasie gekry nie.

Faber sê die RPO het nog altyd goed met Agri SA saamgewerk, maar dat daar nou ʼn streep getrek moet word sodat oplossings vir die pad vorentoe gevind kan word.

Die RPO vertrou dat ʼn oplossing voor 1 November gevind kan word en die organisasie sy lidmaatskap met Agri SA kan herbevestig.

“Ons is hier om mekaar te help en mekaar se hande te vat,” sê hy. “Ons loop nie weg nie.”

Die RPO is ook nie fyngevoelig nie, maar glo dat organisasies hulle by hul bepaalde gebiede moet hou ten goede van die breër landbousektor.

“Ons is nie kwaad nie en ons sien die groter prentjie. Die beginsels is vir ons ontsettend belangrik,” sê Faber. “Ons wil nie inmenging hê nie, net so min as wat ons by Agri SA wil gaan inmeng.

“Dit is in belang van die groter landbouprentjie en ek glo ons gaan oplossings kry om die bedryf selfs verder te versterk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Duskolos ·

Miskien moet eers seker maak jy stem saam met AgriSA se politiek voordat jy so ‘n versoek rig.

Grond ·

Daar is verkeerde persepsie oor oor die doeltreffendheid van AgriSA met sy blink beeld na buite en wat dit werklik vir landbou doen. Dit bly nog steeds ‘n ope vraag hoekom ‘n uitstekende leier soos Theo de Jager, AgriSA verlaat het. Gelukkig is sy leierskap en bestuursvaardighede nie verlore vir Suid Afrikaanse en die wêreld landbou nie.

Pieter9 ·

Agi SA sal ook sy hounding teenoor SAAI en AfriForum moet verander anders gaan hy relevansie en lede verloor.

Nelius ·

Tog jammer dat ons nou hieroor moet baklei. Divide and rule ten gunste van ons opponente

Bart-Man ·

Agri SA het nuwe maatjies. En hulle nuwe maatjies sit druk op die res van die bedryf. Kom voorendag met meer sosiale ontwikkeling, en bevordering van die agtergeblewenes.

Nerina ·

Miskien is dit tyd vir ‘n gesprek onder georganiseerde landbou oor die produksie van rooivleis. Die invloed van die voerkraalbedryf op die RPO is kommerwekkend want soos meeste van ons weet is dit juis daardie graangevoerde vleis wat so bitter ongesond is!! Diere wat direk van die veld na die slagpale gaan se vleis is baie gesonder vir die mens omdat hulle natuurlike bossies en gras eet wat geen hormone bevat wat vanuit die GMO grane verkry word nie. Diere in voerkrale produseer ook meer metaangasse as die diere op natuurlike weiding! Dus speel dit direk in die hand van die “Groenes” wat wil ontslae raak van beeste! Ongelukkig lees elke advertensiebord van die RPO ook net “Grain fed beef”. So ja, wanneer gaan die RPO vir die boer en verbruiker wys dat hy werklik omgee vir die totale rooivleis produsente?

Miskruier ·

Ten minste nog iemand wat besef dat die mag van die groot organisasies gebreek moet word. Ja, ons moet weer boer soos vyftig jaar gelede. Diere op natuurlike weiding, geen antibiotika in hul voer, geen groei stimulante. Afrika het baie gras, dit sal sommer weer die klein boer aan die gang kry.

Eclectus ·

Dit sou gaaf gewees het induien die berig besonderhede bevat het oor wat die inmenging behels.

Lourens ·

Waarskynlik rassevoorskrifte. Nie polities-korrek om dit te noem nie.

Piet Snot ·

My raaiskoot is jy’s reg, Lourens. Wanneer ʼn storie eers sal sin maak indien jy ras daarby inwerk, gaan dit waarskynlik oor ras.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.