RSR verbied Prasa om treine per hand te magtig

Nooddienste op die toneel waar die Shosholoza Meyl-trein buite Kroonstad in die Vrystaat ontspoor het (4 Januarie 2018). Foto: Verskaf

Die Spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) van Suid-Afrika het Woensdag sy kommer uitgespreek oor die veiligheid van treinpassasiers ná twee onlangse treinongelukke in die Vrystaat en in Gauteng.

Nomusa Qunta, die voorsitter van die RSR-raad, het tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê voorlopige ondersoek dui daarop dat alle veiligheidsmaatreels in plek en werkend was ten tyde van die ongeluk op 4 Januarie buite Kroonstad.

“Die botsing het plaasgevind by ʼn spooroorgang op ʼn grondpad met al die nodige waarskuwings en stoptekens wat in plek was. Ons is van mening dat die vlak van beskerming daar op standaard is,” het Qunta gesê.

“Die RSR is bekommerd oor die voorvalle wat plaasgevind het en dit is hoekom ons gevoel het ons stem moet gehoor word,” het Qunta gesê.

Die RSR het Prasa intussen verbied om treine handmatig te bedryf. Volgens die RSR het Prasa in omstandighede wat spoorwegveiligheid bedreig met hul bedrywighede voortgegaan.

Prasa word dus verbied om treine per hand te magtig totdat normale treindienste herstel is en hulle die RSR met ʼn omvattende aksieplan rakende die geaffekteerde omgewings kan voorsien. Dié verbod is onmiddellik landwyd van krag.

Maroela Media het vroeër berig die Shosholoza Meyl-trein het ontspoor toe dit ʼn vragmotor getref het wat die treinspoor oorgesteek het en nie betyds uit die pad kon beweeg nie. Die trein was van Port Elizabeth na Johannesburg op pad en het meer as 400 passasiers gehad. 19 mense is in die ongeluk dood.

Metrorail het Dinsdag gesê ʼn ondersoek is ook van stapel gestuur na die oorsaak van die ongeluk waartydens 226 mense by die Geldenhuys-treinstasie in Germiston beseer is.

Lillian Mofokeng, woordvoerder van Metrorail, het gesê die ongeluk het gebeur toe ʼn passasierstrein teen die agterkant van ʼn ander stilstaande trein gebots het. Die ongeluk het glo in spitstyd plaasgevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sporie ·

As oud Spoorwegman , opleier en opsteller van kursus materiaal is dit ongelooflik die terme wat kommentators gebruik in verband met Spoor ongelukke. “Hand gemagtig” ????? Die reels en instruksies wat toe gepas moet word tydens Buitengewone omstandighede is so duidelik dat enige regdenkende persoon dit te behoort toepas. Natuurlik sal daar vertragings wees tot ‘n mate maar as die Spoorwee nie behoorlike onderhoud /beskerming van hul eiendom doen nie(kabel diefstal) sal Buitengewone bedryf toegepas moet word. Dit is jammer dat die RSR verbod plaas in plaas van sorg dat werknemers behoorlik opgelei word om hul werk te doen en ook die assesering van werknemers behoorlik plaasvind. Hul moet besef dat wanneer die sinjaalstelsel gaan daar geweldig druk op die Treinbeheer geplaas word. Wou maar net my mening lug omdat ek weet watter soort druk daar op Treinbeheer is wanneer die stelsel misluk en dan die treine aan die loop te hou vir die voordeel van kliente.

Wilma ·

My man het vi spoornet gewerk. Baie treine met hand gemagtig. Nooit ongelukke plaasgevind. Vandag word mense in diens geneem wie onbevoeg is. Sien dit daagliks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.