Ruan Josh kap terug ná talle bewerings oor maatskappy

Ruan Josh (Foto: Facebook)

Ruan Josh, die gewilde sanger en bestuurder van Wow Music Distribution, het Maroela Media genader om sy kant van die saak te stel nadat talle bewerings in die Sondagkoerant Rapport gemaak is oor dié gelikwideerde musiekverspreidingsmaatskappy.

Wow, wat in 2010 op die been gebring is deur Doepie du Plessis, die sangeres Juanita du Plessis se man en Ruan se pa, is op 16 Januarie vanjaar gelikwideer. Ruan vertel aan Maroela Media dat hy sedert 2010 by die maatskappy betrokke was as bestuurder.

Nadat die maatskappy ʼn hiatus van sowat twee jaar geneem het, het Ruan weer nuwe lewe daarin geblaas aan die einde van 2014. “Vandat ons in 2015 weer ons deure oopgemaak het, was ek 100% aan die stuur van sake. Ek het al die kontrakte geteken, met al die kunstenaars onderhandel, al die vergaderings bygewoon, die personeel bestuur en die leiding geneem.”

ʼn Goeie begin

Hy vertel Wow het in 2015 en 2016 uitstekende finansiële jare gehad en het daarom die besluit geneem om sy verspreiding uit te brei na kettingwinkels landwyd soos Pick n Pay, Game, Shoprite Checkers en CNA.

“Dit het baie goed gegaan en teen 2017 het ons twee bene in die maatskappy gehad – ons het ons normale verspreiding gehad wat Musica, CUM en nog in daardie stadium Look n Listen en Top CD behels het en dan ook die kettingwinkelgroepe. Met die kettingwinkels het ons ons eerste bloutjie begin loop,” sê Ruan.

Hy vertel Wow het ʼn subverspreidingsooreenkoms aangegaan met Universal Music. “Hulle gee vir ons al die voorraad, dan sit ons dit in Pick n Pay vir hulle. Ek dink as ons R8 gemaak het op ʼn eenheid was dit baie. Pick n Pay wou in daardie stadium 30 000 eenhede hê, wat ʼn bestelling van omtrent R2,4 miljoen was. Dit was ook op die rug van ʼn bestelling van R4 miljoen die vorige jaar. Ons het dit mooi deurverkoop en kon almal betaal en dit het regtig goed gegaan met die maatskappy.”

Verkope begin daal

Ruan sê egter toe Wow reeds die eenhede klaar bestel het van Universal Music vir Pick n Pay, het Pick n Pay besluit om die bestelling te halveer. “Ons het die eenhede laat vervaardig by Universal Music op grond van hierdie ooreenkoms, so hulle kon nie die voorraad terugvat nie, want hulle sou dit nie kon verkoop op ʼn ander plek nie. En daar sit ons toe nou met omtrent R1,2 miljoen se voorraad wat ons nie kan verkoop op ʼn ander plek nie.”

Dit het die maatskappy ʼn groot knou gegee. “Ek het op daardie tydstip omtrent 20 mense in my diens gehad. Die een ná die ander handelaar het besluit hulle is klaar met die fisieke musiekmark en ons was bewus daarvan dat daar ʼn afname in CD-verkope sou kom. Digitale platforms wat meer gewild begin raak is ʼn groot rede daarvoor, maar myns insiens is dat dit ook baie ekonomies gedrewe is. Die verbruiker daar buite sukkel, en ongelukkig is enige iets wat vermaaklikheid is, ʼn luukse wat mense eerste sny. Ons het uiteindelik in 2017 slegs ʼn derde verkoop van dit wat ons die vorige jaar verkoop het.”

Hy gee toe dat hy die maatskappy toe al moes toemaak. “Maar ek het gevoel daar is nog ruimte en ons kan die ding maak werk. Dit was ook vir my ontsettend moeilik om te dink dat ek mense moes afdank. Dit was 20 mense wat ek geken het, ek het hulle kinders geken en ek dink dit was die grootste oorwegingspunt vir my vir hoekom ek nie gestop het nie.”

Besendingsooreenkomste

Ruan sê Musica, een van die grootste musiekhandelaars in Suid-Afrika, het in 2018 besluit om oor te gaan na ʼn besendingsbasis. “Dit beteken hulle gaan jou net betaal vir die eenhede wat deur die kasregister gaan en nie vir al die eenhede wat bestel is nie. Ons moes al ons voorraad uit die winkels onttrek en dit van voor af insit, want sodoende is dit dan besendingsvoorraad. Wow sit dit as verspreidingsmaatskappy op sy eie risiko in die winkels.

Volgens Ruan is dit waar die groot bloutjie met Coenie de Villiers se album, Pure Coenie, geloop is. “Ons het sy albums in die winkels gesit, maar die oomblik toe sy bemarking vir die album begin, kom die besendingskontrakte deur.  Dit was nie ʼn geval dat hulle vir jou ʼn keuse gee of jy op besending wil gaan of nie – hulle het dit met almal gedoen.”

Hy benadruk dat Wow openlik was met De Villiers oor Musica se nuwe kontrakooreenkomste. “Ek het met Coenie probeer praat daaroor, en ek het dit vir hom probeer verduidelik, maar sy woorde op meer as een geleentheid was: “Ek stel nie belang in besending nie, want dit is nie wat aan my gekommunikeer is deur die Wow-werknemer nie”. Coenie se kontrak stipuleer sell or return, maar dit stipuleer nie spesifiek besending nie, want nie een van Wow se kliënte was toe op besendingsbasis geteken nie, so ek het nie die nut daarin gesien om dit in ʼn kontrak te sit toe besendingbasisse nog nie ʼn realiteit was toe ons die kontrak al in 2017 met Coenie gesluit het nie.”

Hy erken die bewerings dat Wow nog ʼn bedrag geld aan De Villiers verskuldig is, is waar. “Dit het ons nooit ontken nie. Ons het met hom ʼn ooreenkoms gesluit en op die tydstip wat die eerste berigte geplaas is, het ons reeds meer as 35% van dit wat ons hom skuld, afbetaal.

“Ek is baie trots om vandag te sê dat elke kunstenaar se geld reeds weggesit is en die betalings begin hierdie week uitrol. En dit is nié omdat daar nou aantygings in die media gemaak word nie. Dit was van die begin af die plan om almal te betaal wat hulle toekom, maar Wow moes ongelukkig eers deur die likwidasieproses gaan.”

Ruan voeg by die bewerings dat De Villiers Wow vooraf betaal het om sy album te versprei, is onwaar. “Ons ooreenkoms is ons betaal die kunstenaar op dit wat verkoop – dit is hoe ʼn verspreidingsooreenkoms werk. Ons druk die CD, stuur dit vir die winkels en as hy verkoop, betaal ek jou jou tantieme. Dit is dus onmoontlik vir die kunstenaar om my vooraf te betaal om sy CD’s te versprei. Al waarvoor ʼn kunstenaar betaal, is om die album te laat opneem.

“Die eenhede wat nie verkoop nie, bly Wow se risiko, want ons het dit vervaardig en ons betaal fisies vir daardie voorraad. Wow bly die eienaar van die voorraad. Die kunstenaar bly die eienaar van die inhoud, so hy kry die grootste gros van dit wat inkom. Dit is sy inhoud, intellektuele eiendom en musikaliteit, maar die fisieke CD bly Wow se bate.”

Terugvoer van Coenie de Villiers

De Villiers stem saam met Ruan dat bewerings, dat hy Wow vooraf betaal het om sy album te versprei, onwaar is. “Ek het Wow nooit vooraf betaal vir enige verspreiding nie. As daar sulke bewerings in die media versprei is, is dit onwaar,” het hy aan Maroela Media gesê.

“Wow se verspreiding van my vorige album, Emoji, het goed afgeloop en ek het daarom besluit om Pure Coenie ook deur Wow te versprei.”

De Villiers, onder leiding van sy regsverteenwoordiger, en Wow het uiteindelik ʼn skikkingsooreenkoms aangegaan waarvan die inhoud vertroulik is, soos ooreengekom. Hy het bevestig Wow het Vrydag die skikkingsooreenkoms afgehandel kragtens die voorwaardes. “Hulle het gedoen wat hulle gesê het hulle sal doen. Mens verloor steeds inkomste op die verspreiding van ʼn album; mens kan ongelukkig nie ʼn album twee keer vrystel nie.”

De Villiers het gesê hy wens Wow, Ruan en alle betrokkenes net die beste toe.

Afleggings by Wow en likwidasieproses

Ruan Josh (Foto: Facebook)

Ruan gee toe dat hy nie vinnig genoeg gereageer het toe die dalings in verkope die maatskappy in die wiele begin ry het nie. “Ek het geweier om binne ʼn week te probeer dink aan ongegronde redes om ʼn geskrewe waarskuwing aan ʼn werknemer te kon gee sodat die maatskappy die persoon sonder ‘n pakket kon afdank; so ek het vir almal pakkette betaal.”

Hy sê die maatskappy het die eerste fase van afleggings gedoen en het vir al die werknemers pakkette uitbetaal. “Daarna het dinge steeds nie beter gegaan nie en vir meer as 12 maande kon ons nie ons teikens behaal nie, maar intussen moet jou oorhoofse koste soos salarisse en huur betaal word. Ons moes nog steeds alles betaal wat ons moes om net aan die gang te kon bly. Ek het uiteindelik al die fases van aflegging gedoen en dit was onmoontlik om te herstel van daar af. Ons het besluit om te likwideer.”

Ruan sê hy het van die begin af met elke kunstenaar oor die likwidasie kommunikeer. “Ek en twee dames het die proses voortgesit om Wow toe te maak en ons het vir elkeen van die 17 kunstenaars hulle finale rekeninge gestuur en gesê ons gaan nou likwideer. Oor die algemeen het meeste van die kunstenaars laat weet dat hulle verstaan. Ek het van die begin af gesê ek sal hulle geld vir hulle betaal, maak nie saak hoe nie.

“Ek het nooit weggehardloop van iemand nie. Die bedrag verskuldig is omtrent R4,9 miljoen en daar is omtrent 30 000 eenhede wat uit die winkels onttrek is wat op die bankrotveiling verkoop kan word om in kontant om te sit. Ons weet nie hoeveel die likwidateurs daarvoor gaan kry nie. Ek dink wat hulle gaan doen is om die kunstenaars te bel om hul eie albums te koop, want jy as kunstenaar is die beste een om jou CD’s te verkoop. Dit is jou produk, maar jy besit dit nie, want Wow het dit vervaardig. Al die voorraad behoort aan Wow, dit is dus ʼn bate vir ons.

“Ons het met elke kunstenaar ʼn rekening gehad en as hy wil voorraad trek vir sy vertonings, dan betaal hy ons R25 vir ʼn eenheid, wat letterlik koste is, ek het nie eers ʼn wins daarop gesit nie, sodat die kunstenaar kan geld maak uit sy vertonings. Dít is die voorraad wat nou nog by Wow lê.

“Daar is geïsoleerde gevalle waar die kunstenaars na ons toe gekom het en gesê het hulle wil hê ons moet slegs die albums versprei, want hulle het dit klaar gedruk. Al daardie kunstenaars, soos Klikkerland, Pietman Roos en Retief Burger, se voorraad is ook onttrek uit die mark uit en aan hulle terug besorg.”

Hy benadruk dat dit sy persoonlike fondse is wat hy gebruik om die kunstenaars te betaal. “Dit was nooit my hart om weg te hardloop met almal se geld nie. Ek weet ʼn kunstenaar is afhanklik van sy geld; ek is ook ʼn kunstenaar. Ek weet jy verkoop net vyf tot 15 CD’s op ʼn vertoning en dan moet jy daarmee jou brandstof betaal. Maak nie saak waar jy is nie, dit is duur. Ek verstaan dit en dit is hoekom ek van die begin af met almal oop kaarte gespeel het.”

Juanita Records

Juanita du Plessis Foto: Facebook

Volgens Ruan word sy ouers betrek by ʼn saak wat nie op hulle betrekking het nie. ʼn Diefstalklag teen Doepie deur die vervaardiger van ʼn bordspeletjie is aanhangig gemaak op die rug van ʼn klag teen Wow wat steeds hangend is vir dieselfde saak. Doepie is tweede verweerder in dié saak en volgens Ruan het Doepie steeds nie kennis van die klag ontvang nie.

“Wow is ʼn beslote korporasie met lede. Ek is ʼn lid en my pa was ʼn lid, maar hy het al sedert 2015 geen meer belange by die onderneming nie. Hy het op die plaas gesit en saam met my ma getoer. Ons het miskien nooit die papierwerk wat dit betref behoorlik afgehandel nie, maar hy kan nie persoonlik aanspreeklik gehou word vir enigiets wat met Wow te doen het nie – Wow is ék.”

Juanita Records, Juanita se platemaatskappy wat verantwoordelik is vir die opname van Juanita, haar dogter Franja du Plessis en Ruan se albums, word ook deur die media by Wow se likwidasieproses betrek. “As jy op besending gaan dan moet jy mos nou van voor af begin, so ons het al ons voorraad uit Musica onttrek, maar toe staan die rekening by hulle op R500 000 wat ons aan Musica sou moes betaal voordat ons ʼn sent by hulle kon kry en ons voorraad weer by hulle kon insit,” verduidelik Ruan.

“Ons wou natuurlik hê my eie, my sussie en my ma se albums moet aanhou verkoop, en ons het gevolglik die R500 000-las net so oorgeskuif na Juanita Records toe; in effek het Juanita Records dus R500 000 aan Musica betaal om al haar voorraad te kry en verkope voort te sit. Ons verkoop nou basies sewe maande lank albums sonder om ʼn sent te sien sodat ons daai skuld kan delg – en dit is eintlik Wow-skuld. Dit is wat my ouers vir my gedoen het, anders het dit ook in die krediteureboedel gegaan. Daar is 7 000 eenhede van Juanita se CD’s verkoop om die skuld te delg, waarvan sy nie ʼn sent gesien het nie.”

Hy sê sy ma kry bitter swaar oor al die bewerings. “Die hele ding het eintlik niks met my ma te doen nie. Sy moet my eintlik net ʼn pakslae gee. Sy was ʼn gewone kunstenaar wie se albums versprei is deur Wow, net soos Coenie, en dit is waar haar verbintenis met Wow eindig.

“Sy is ʼn bitter sensitiewe mens, net soos ons hele familie maar is, en dit is vir haar moeilik om nou op ʼn verhoog te stap en te weet mense het waarskynlik ʼn opinie oor haar gevorm weens sensasionele berigte.”

Hy voeg by dat dit egter geen verband hou met die rede waarom sy nie in November vanjaar weer te sien sal wees tydens die Afrikaans is Groot-konsertreeks in Pretoria nie.

“Sy tree nou al vir 20 jaar op. Sy en my pa het al gesamentlik meer as 4 000 keer opgetree. Hy stel haar toerusting op, hy meng haar klank en hy bestuur die voertuig, elke aand. Ek dink dit is vir hulle die moeilikste om te dink nou, in ʼn oogwink, met twee of drie berigte, is 20 jaar se harde werk tot niet. Sy dink die mense is kwaad vir haar en almal praat oor haar.”

Hy gee toe dat dit vir hom self moeilik was om Maandagoggend op ʼn verhoog by ʼn skool te stap. “Jy kan sien al die onderwysers het die naweek die koerant gelees en wonder wat gaan ek nou volgende doen of sê. Ek glo wel die beste manier om enige kritiek in jou lewe te hanteer is om dit te in die oë te kyk en aan te beweeg. Ek het nog nooit iets gehad om weg te steek nie en hierna kan mense sê wat hulle wil.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

60 Kommentare

JG ·

Wow, Ruan…respek ou maat. Sekere dinge in die lewe is onafwendbaar. Die manier hoe n mens dit hanteer spreek boekdele. Jy het niks om voor skaam te wees nie. Lig jou kop en kyk die mense in die oog. Ek wens jou en jou familie net die beste toe.

Bemoedig ·

Wow, Ruan … hierdie tydelike terugslag gaan julle as ‘n gesin net nog STERKER maak (Jes 29:11). Ons is TROTS op jou!

Jacqueline ·

Ruan ‘n klop op jou skouer vir die manier waarop jy hierdie hanteer. Jy het niks om voor skaam te voel nie. Somtyds val ons maar dit is belangrik hoe ons opstaan. Jou ma is hierdie land se liefling en NIKS sal dit verander nie. Ek hoop sy besef dit en laat nie toe dat hierdie sensasie gedrewe media haar onderkry nie. So ook vir jou…vir die res van julle gesin. God gaan ons vooruit en partykeer verstaan ons nie hoekom Hy goed toelaat nie maar met tyd sal julle verstaan. Kyk die wêreld in die oë en vertrou God. Sterkte…stywe drukkie vir julle. ?

Hanna ·

Ruan Josh, ek glo dinge sal weer vir jou uitwerk. Onthou God maak deure vir jou toe maar Hy los altyd n venster oop. Sterkte en bly glo en vertrou

Mike ·

Sterkte al jul Du Plessis. Lig kop op en gaan aan. SA steeds Lief vir julle….julle is ONSE mense!

Juffrou ·

Baie sterkte. Ek dink jy hanteer dit reg. Die samelewing kan genadeloos wees, maar dis ongelukkig die lewe. Dis n moeilike en uitdagende beroep waarin jul is.

Eben ·

Ruan …. maggies maar jy is n YSTER!!!! Ek haal my hoed af vir jou dat jy almal in die oë kan kyk. Laat die eerste bliksêm maar klippe gooi dis hulle wat in glas huise bly. Sterkte en liefde aan jou familie en bly n Yster!!

Werner ·

Ek het respek vir jou, hoe jy die situasie hanteer Ruan. Wel gedaan. Sterkte vir die pad vorentoe!

Judy Smith ·

Ruan hou jou kop hoog, Baie respek vir en jou familie. Niks om oor skaam te wees nie. God’s rykste seen vir julle. Alles wat mooi is.

Vertonings ·

Ek sien hy sê sangers verkoop 15 cd’s by optredes dan moet hulle, hulle kostes daaruit betaal? Ek probeer nou al 2 jaar vir ń fondsinsameling iemand kry om vir ń serebraal gestremde kind op te tree dan sê hulle hulle sal my afslag gee, dan vra hulle R55 000.00. Meer bekendes vra R100k… So ek sal graag wil weet wie tree op en verkoop net cd’s om hulle kostes te betaal, sal baie graag van hulle diens gebruik maak om ń kind se toekoms te verander….

Musiek bedryf ·

Die fooie wat kunstenaar vra is gewoonlik om hulle musiekante, tegniese personeel, klank en beligting, verblyf (as die optrede ver van die huis af is) en vir die musiekante en tegniese personeel se vervoer te betaal. In meeste gevalle kry die kunstenaar nie regtig enige van daardie geld nie. Hulle inkomste kom maar uit hulle CD verkope. Daar is natuurlik altyd uitsonderings maar dis die minderheid. Jy kan maar my woord daarvoor vat, ek werk al amper 20 jaar in die musiek bedryf en met kunstenaars.

Sandra ·

Ruan jyt die regte ding gedoen.Lig op jou kop , kyk die wereld vierkantig in die or en gaan aan jy gaan bo uitkom.Die Here sal jul dra.Ons het baie hoe agting Vir jou familie.Baie sterkte Vir jul hele familie staan saam jul gaan hier deurkom sterker as ooit tevore.Ek stem jy is van goeie stofasie gemaak.

Sina ·

Du Plessis gesin. Sterkte tel jul kop op en kyk alles vierkantig in die oe. Dit gebeur met almal van ons! Ons val, kruip, staan op… Voorspoed jul geloof dra julle

Retha Roos ·

Sterkte aan julle almal. God sal jul hierdeur dra. Solank jou besigheids besluite om die regte redes geneem is, sal dit reg vir jou ook uitwerk. Juanita, jy was nog altyd ‘n pragtige voorbeeld vir ander. Doen so voort en moenie dat dit jou onderkry nie. Jy het pragtige, geliefde kinders. Wees steeds trots – die ekonomie knou almal maar op verskillende wyses – ons elkeen kan val – hoe jy opstaan is wat saak maak. Mag God jul nog rykliker seën ??????

Marieta ·

Hi Ruan. Ek het net respek vir julle kunstenaars. Jammer dat daar mense is wat verwag julle moet wonders met hulle verkope moet doen….wat hulle moontlik self nie kon waarborg so gebeur nie … want die publiek wie hulle wil koop. Trots op jou wat verduidleik en ek dink almal kan dit verstaan. Ek dink die maklikste om van die cd’s verkoop te kry is om dit goedkoper te verkoop. Dink darem die likwadeerders sal dit so insien. Maar nogtans gaan niemand kunstenaars se cd’s koop as dit nie jou smaak is nie. Die kunstenaars wat nie happy is moet maar ‘gesigvel spaar’ en hulle eie goed koop want dit wys jy dink jy is gewilder as wat jy regtig is !!! Veral as verspeiders met jou werk opgeskeep sit

Maljan ·

So waar. Wil hulle koek eet en dit hou. Ek sal nie eeb van hulle se musiek eers gratis aflaai nie. Jyk net hoe het hulle hebsug talle mense in die bedryf werklois gelaat en ek praat nie van wow werknemers nie.

HPV ·

Ruan, wat met julle gebeur het wens ek niemand toe nie en wens julle net voorspoed toe vir die toekoms, maar probeer mense wat in die proses verloor het vergoed as dit weer beter gaan. Tien jaar gelede het ‘n kliënt my in die oë kom kyk en met R200000 op ons gevou. Ons het die geld afgeskryf. Dieselfde man het vier jaar later by ons ingestap en die volle rekening met rente kom vereffen en ons doen sedertdien weer besigheid.

Elsabé Barnard ·

Ek maak geensins gebruik van nuus24 se beriggewing nie, beskou hulle as fopnuus. Ruan, ons lewe in baie moeilike omstandighede en niemand maar niemand begin n besigheid om te faal nie. Hou jou kop om hoog, sê vir jou Ma en Pa nie almal glo die snert wat berig word nie. Sterkte vir al die du Plessis’s

Hendrik UAE ·

Ek het self ‘n besigheid en al my spaargeld en pensioen verloor omrede ek mense(afrikaners) vertrou het. Dis nie lekker om te erken jy het jou alie gesien nie en mense skinder en wys vinger.Ook darem almal betaal vir wie ek geld geskuld het.Vir n laaang tyd gesukkel ook.Skielik kan jy nie meer mense in die oe kyk nie en jy voel of jy verantwoordelik is vir die werkers wat nou werkloos is. Gelukkig het ek weer werk gekry en ja geen oudag rus vir my nie. Ruan lig jou kop Mater, Ten minste bevark jy niemand en loop skoon ander kant uit.Sterkte.

Elsabe Kroeger ·

Liefste Du Plessis familie ek bid vir julle ek myself is ook so betrek met baie dinge vandag sukkel ek nog om reg te kom mense wat so lief is om vinger te wys die Ou Mense het altyd die gesegde gehad vee eers voor jou eie deur voor jy vinger wys dit is hoekom ons meer as n nasie moet saam staan ek bid vir julle

Lynnette ·

Sterkte vir julle Du Plessis. Dis n moeilike tyd wat ons in lewe. Hou julle koppe hoog. Jaunita , Franja en Ruan julle mag maar sing en ek sal julle nog steeds ondersteun. Daar sal altyd mense wees wat met klippe gooi. God is in beheer en sal julle gesin weer bo uitbring.

P ·

Ek wonder deesdae hoekom moet mense altyd hul doen en late aan ander verduidelik van a tot z. “Mense” dink hulle het die reg om als te wil weet, maak my siek. Ruan hou jou kop hoog.

Penelope ·

Ruan en Familie, julle is gewone mense net soos elkeen van ons, maar die hoogste bome vang die meeste wind. Ek kan in jou stem hoor hoe jammer jy vir jou ma is met alles wat aangaan. Sy mag maar trots wees op jou, want ‘n wonderlike vrou het jou groot gemaak. Enige mens maak ‘n fout en mens kan verstaan dat dit nie opsetlik was nie. Juanita jy het nie nodig om skaam te kry nie, ons het jou en jou gesin vir die afgelope 20jr ondersteun en ons gaan nie nou stop nie. Lig jou kop en die Here sal sorg vir sy kinders. Sterkte vir julle almal. Xx

Sonskyn ·

Julle is n great familie ek staan bankvas agter julle. My siening oor Juanita sal nooit verander nie sys n eerlike betroubare en pragtige mens. Hou julle kop om hoog. Hy sal voorsien!!!!

FM ·

Ruan “It s not the load that breaks you down. It s the way you carry it.”Sterkte. Sulke dinge gebeur en jy sal daardeur kom.Gooi kole.

Smirre ·

Dis jammer dit het gebeur. Direkteure en besigheid eienaars is verantwoordelik om die besigheid te bestuur sodat finansiele volhoubaarheid verseker kan word. Dit sluit die bestuur van risiko in. Ongelukkig kan geen verduideliking die verliese terug betaal asook die van die werknemers wat nou nie werk het nie. Om ‘n besigheid te bestuur behels groot verantwoordelikheid. En baie versigtige en wel deurdenkte besluitneming.

Hans ·

Bittergal sensasie is goedkoop sensasie. Al het dinge nie soos beplan uitgewerk nie, kry die proses agter die rug en gaan aan met jul lewens. Baie suksesvolle mense sal jou sê: Die verkil tussen mislukking en sukses is nog net een keer se opstaan en weer probeer.

Verslae ·

Ek self probeer al jare om sekere kunstenaars vir ‘n fondsinsameling vir ‘n kerk in ‘n arm gemeenskap te bespreek. En ja, hulle “spesiale tariewe” vir ‘n uur optrede op ‘n Saterdag oggend wissel tussen R30,000 en R70,000. Absoluut belaglik!

Jollie ·

Julle sal net sterkter anderkant uitkom, jy was baie jonk om so n groot verantwoordelikheid te he, n mens leer deur jou beproewinge. Dinge gebeur waaroor mens geen beheer het nie. Gelukkig het jou ouers julle met goeie waardes groot gemaak.

Boereverneuker ·

Ons familiesaak het baie geld verloor deur die Wow skandaal. Ten spyte van verskeie navrae nog nooit weer ‘n woord gehoor van Ruan & kie nie. Leë beloftes.

Maryke Burger ·

Julle is pragtige engelkinders, Mamma is ons Namibroos. Ons in Namibie is net nog trotser op jul. Vlieg hoog my kind. Hierdie tannie kan hoor uit watse stoffasie jy gemaak is. Juanita ons hier in Namibie bid vir jou en Doepie met jul pragtige kinders. Jy het ons geleer bid en glo. Nou bid ons vir jou en jy moet glo. Jy sal altyd ons Namibroos bly. Ons sit jul Al 4 by Jesus se voete neer.

Proffie ·

Besighede kom in die moeilikheid en n mens begryp dit. Wat nie aan is nie is om jou probleme n ander ou sinne te maak en dit is wat Wow gedoen het. Hoekom word net die kunstenaars vergoed? Wat vd eienaars vd speletjies? Hoekom het Wow voorraad gevat toe hulle geweet het hulle kan nie/ gaan nie betaal nie.

Nic Alberts ·

Ruaan, lyk vir my of jy eties opgetreë het! Dit is vir my genoeg as ‘n debiteur op my likwideer! As jy eerlik was, kan jy rustig slaap, maar my advies uit duure persoonlike ondervinding is: moet nie ‘n verdere woord rep oor die aangeleentheid nie – jy sal sien dat jou kritisie na ‘n week heeltemal verdwyn en jy nie verder skade lei nie! Sterkte!

Proffie ·

Sy kritici het n klag bd SAPS aanhangig gemaak. Hulle het reeds n kostebevel vd hof! Die probleem gaan nie weggaan nie -jammer.

Immanuel Jacobs ·

Hi ek glo julle sal deur druk deur hierdie moelike tyd moenie dat die midia julle onderkry op die ou einde maak dit julle net sterker ons almal weet julle is regtig opregte mense en ek love julle.God gee sy sterkste soldate die moelikste oorloë want hy weet hulle is sterk genoeg om by die anderkant uit te kom…Alles van die Beste ons bly lief vir julle.

Anni Thirtle ·

Ruan en familie .. sterkte en jy is goed grootgemaak en jy het n pragtige familie. Onthou net RAPPORT se verslaggewers met hul sensasie-soekende suggesties het al baie mense laat seerkry of skade ly. Hou julle koppe hoog.

Anne-Marie ·

Julle was nog altyd net n voorbeeld vir SA. Gesin met Godelike waardes. Alles is nou in die lig. Mense wat besigheid ken verstaan wat daar buite aangaan. Jy is jonk en het dit puik hanteer. Sterkte want as God vir jou is, wie kan teen jou wees. Bid vir julle. Vlieg hoog die wind is net tydelik van voor. Dit sal ook draai.

Marisa Kruger ·

Ruan jou stelling dat jou pa self die toerusting opstel en die klank doen is onwaar en jy weet wie het dit vir 10 jaar lank gedoen teen n minimale vergoeding waarna hulle n pakket ontvang het maar geen UIF oorbetaal is nie. Ek hoop dat die Wow personeel wat pakkette ontvang het se UIF wel oorbetaal is. Vir die aanhangers wat hulle so goed geken het en gevra gevra het waar hulle is, was gese hy is op pensioen! Jou pa het seker laas in Skarumba se dae die klank opgestel. Wat my wel opval is dat net julle CD’s voor likwidasie uitgekoop is. So pop die wurms die een na die ander uit….

Gert ·

Los die mense in vrede. As dit gebeur het met jou en my het net die balju en Die Vader daar bo saam met my daarvan geweet

Droë Perske ·

Ek wil graag weet: Neem Musica ook oorsese kunstenaars soos Neil Diamond, Billy Joel en Elton John net op besending? Of is dit net plaaslike kunstenaars wat só behandel word?

Susan du toit ·

Dit is jammer Juanita is nie die jaar by AIG nie hoop ons sien haar weer volgende jaar. Ruan kyk op en kry jou krag van bo en laat mense net se wat hulle wil. Julle is n goeie familie almal gaan deur enige iets maar dit word net nie so gepubliseer deur die media nie. Julle is ook net mense van ons volk alles sal reg kom. ??????????????????

Johanné ·

Julle, ek sien ons is ‘n paar duisend aanhangers van hulle gesin se musiek. Wat van as ons uit elke gesin hierdie maand vir hom R100 inbetaal in sy rekening???????? Dink net die impak wat dit op hierdie jong man se lewe kan hê, en dit sal hom weer ophelp om te glo in homself, sy medemens en natuurlik Jesus. Ruan Josh, plaas jou bankrekening nommer hier, ek sal sommer nou dadelik my R100 inbetaal. En seblief, hou my op hoogte hoe dit gaan met die inbetalings, ek sal nogal daarvan hou om die lekker te voel van ‘n nasie wat kan hande vat. En ja, ek weet daar sal weer mense wees wat sê: “daar is baie ander wat ook ondergaan, wat van hulle?” Dan vra ek daardie mense: “Hoe red jy 2miljoen vissies wat uit die see spoel? Met elke vissie wat jy teruggooi, maak jy ‘n verskil”!

Stier ·

Lyk my hier is ‘n paar mense wat meer weet as wat Ruan se……

Doreen ·

Hou vas aan God, Hy Sal julle deur dra. Julle is n gelowige gesin met goeie waardes.

Riëtte Pretorius ·

Rapport het presies dieselfde met my gedoen in 24 Feb 2019 weergawe. Verdraaide berig geplaas van my geplaas met VALSE VOORWENSELS. Ek was diep diep geskok!

Osie ·

Dankie vir die verdideling vd saak van jou kant, maar ek sien nêrens in die berig dat julle SAID ook geld skuld. Jy praat van R4 in die rooi en die media praat van R7.9. Is die media dus verkeerd? Sterkte!

Boland ·

Groot probleem in ons land is die mag van die kettingwinkels.Buit die produseerder asook die verbruiker uit.Daar moet beheer kom.

Koop eie ·

Beheer is in ons eie hande, koop by mense wat jy ken en nie by die groot reuse nie. Maroela kan gerus dit oorweeg om ook n digitale musiekplatform hier in te bou.

ek sê maar ·

Mense moet ook bietjie verstaan hoe musiekbedryf werk. Cd verkope daal geweldig omdat dit op soveel aanlyn plekke te koop en te luister is en jy hoef nie die hele cd te koop nie, jy laai af en koop wat jy wil. Baie sulke dinge knou die musiekwêreld. Ek het al baie gesels met kusntenaars wat self hul musiek uitgee en so,d is ‘n opdraande stryd deesdae. Dit klink of hierdie jongman alles mooi uiteengesit het en Coenie het lyk my ook mooi verstaan hoe dinge uitgewerk het en daar is geskik. Sterkte vorentoe. Steur jul nie aan die skinderbekke en trolle nie. Hulle is orals

Justice ·

Ruan byt vas – jy het beslis ruggraat – iets wat ek respekteer in `n sakeman al gaan dit hoe moeilik.

Lize ·

Ek stem saam hulle buit die klein sakeman uit met alle reëls en regulasies wat jy moet nakom om jou produk op die rak te kry. Soos bv. Halaal en Kosher wat jou duisende kos, dis geld wat jy verniet weggee om ander te verryk wat te lui is om te werk en ons land wil oorvat. Jou besigheid moet hordes sertifikate hê, maar gasnaan kyk bq hoe lyk die kettingwinkel se aflewerings baai en kombuise dan sal jy nooit weer enige gebak of kos by hulle koop nie. Hulle buit die klein outjie afskuwelik uit. Of hulle draai jou arm dat jy omtrent nie n sent wins maak nie en jy moet nog tot 60 dae wag vir jou sente. So verstaan my net Ruan weet wat gebeur het, maar ek praatvan ondervinding.

Elize ·

Ruan my hart bloei saam julle. Ek koop nie daaglik se nuus nie so weet van niks. Jy is n Yster Ek weet net die waarheid maak jou vry, Juanita jy bly diep in my hart. N voorstel om vir julle te kan help elkeen wat n donasie wil gee dat die skuld vinnig kan gedelg word. Wat stel jy voor

Glodine ·

Vir die mense wat nou so vinnig is om te vra dat hulle aanhangers R100 elk moet gee, waarom? Hulle besit ‘n luukse huis in Pretoria EN ‘n plaas. Ek en my man bly in ‘n klein beknopte huisie in ‘n vaal myn dorpie, ons sal nooit as te nimmer ‘n plaas kan bekostig nie. Laat hulle die plaas verkoop om hulle skuld te delg. Juanita is een van die top verkopers in die land, ek glo na meer as 20jaar in die bedryf is hulle beslis nie te arm om hulle skuld te betaal nie.

Vy ·

Ek weet darem nie. Oor jy bekend is moet mens alles net laat gaan as siestog ja. Gewone mense is nie so gelukkig nie. Ons verloor alles!

Engela ·

Boereverneuker en Proffie, as julle geld geskuld word, hoekom dan te skaam of bang om julle name te noem?

Deloris ·

Ruan, dis nie hoe jy val nie, dis hoe jy weer opstaan en aangaan.
Ons almal verstaan die ekonomie en ons almal word daardeur geraak,
Moet nooit tou opgooi nie… keep going …..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.