Rubberfabriek aan Oos-Rand brand

‘n Brand by ‘n rubberfabriek in Springs, Gauteng. (Foto: Verskaf)

Tientalle brandbestryders is Sondagmiddag na ʼn gebied in Springs aan die Gautengse Oos-Rand ontplooi nadat ʼn noodoproep oor ʼn brand in Strubenvale ontvang is.

Brandbestryders van die Stad van Ekurhuleni het met hul aankoms op die toneel kort ná 15:30 ʼn rubberfabriek in ligte laaie aangetref.

“Nog voor die span by die perseel aangekom het, het hulle ʼn dik bol rook in die lug sien hang in die rigting van die adres wat tydens die noodoproep verskaf is,” sê William Ntladi, woordvoerder van Ekurhuleni se nooddienste. “Dit kom voor of ʼn brand in die veld langs die fabriek ontstaan en toe na die agterplaas van die maatskappy Conveyor & Plant Services (CPS) versprei het. Reuserolle rubber in die agterplaas, wat gebruik word om onder meer vervoerbande te vervaardig, het aan die brand geslaan en die strukture en ander omliggende fabrieke aan die vlamme blootgestel.”

‘n Brand by ‘n rubberfabriek in Springs, Gauteng. (Foto: Verskaf)

Ntladi sê meer hulpbronne is vanaf brandweerstasies in Brakpan, Daveyton en Selection Park ontbied en altesaam 30 brandbestryders en agt brandweerwaens het deurnag gewerk om die vlamme te blus.

Brandbestryders kon Maandagoggend daarin slaag om die brand te blus, maar was later die dag steeds besig om van die gebiede wat nog baie warm is, af te koel.

Geen brandbestryders of werknemers van die maatskappy is in die proses beseer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Drico ·

Dit was baie ontstellend gewees, is net dankbaar dat die fabrieke rondom nie ook beskadig is nie. Kry die eienaar van die maatskappy bitter jammer, hy het geweldig baie skade opgedoen. Die CPsF het nou saam gewerk met die brandweer.

Racheltjie Debeer ·

Ek is van mening dat dit brandstigting is. Veldbrande gebeur nie sommer net vanself nie, iemand moes dit aangesteek het. Baie jammer vir die eienaar van die fabriek en baie dankbaar geen ander fabrieke is beskadig nie. Dankie tog die treintrokke wat ook daar naby was het nie ontplof nie.

Johann ·

Verbeel ek my of is daar deesdae baie brande? Seker steeds die “revolusjin” se manier van anargie skep?

koos10 ·

En wie was verantwoordelik om die gras in die veld kort te hou??? Hou hulle sommer vir die skade verantwoordelik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.