‘Rudi het gewelddadig rondbeweeg’

Henri van Breda. Foto: ANA

Henri van Breda het Dinsdag in die getuiebank in die Wes-Kaapse hooggeregshof telkens sweet van sy wenkbroue gevee en benoud gelyk.

Van Breda het vroeër getuig oor sy gesin se hegte band. Terwyl Van Breda getuig het oor hoe hy glo die aanvallers gesien het, het hy al hoe meer benoud geraak. Regter Siraj Desai het Van Breda gevra of hy ʼn blaaskans wil vat waarna die hof verdaag het.

Van Breda het later verder getuig hoe sy pa die kamer binnegekom en ʼn lig aangeskakel het. “Hy is op die kop geslaan en daarna weer verskeie kere. Ek onthou duidelik ʼn lag.” Hy sê sy ma het gevra wat aangaan.

Piet Botha, Van Breda se regsverteenwoordiger, het gevra hoekom hy nie sy ma te hulp gesnel het nadat hy gesien het hoe sy pa en broer aangeval word nie. “Ek was net bang. Ek kan nie onthou wat deur my kop gegaan het nie. Ek was definitief nie helder van verstand nie. Ek was baie bang.”

Van Breda het noukeurig verduidelik hoe die aanvaller na die kamer teruggekeer het “en stadig na my toe geloop het”. “Hy het weer gelag. Ek kon sien hy het ʼn masker aan met gate ingesny vir sy oë. Dit het nie gelyk of hy veel gesteur was deur my nie.”

Volgens Van Breda het hy in ʼn struweling met die aanvaller betrokke geraak en kon hy daarin slaag om hom weg te stamp. Die aanvaller het toe glo die kamer verlaat. “Rudi het gewelddadig rondbeweeg, ek het gesien hoe sy arms en bene skud. Dit was nie ʼn gemotiveerde of doelgerigte beweging nie. Hy het geskud en rondgeswaai. ”

Op ʼn vraag aan Van Breda oor hoekom hy nie hulp ontbied het nie, het hy gesê daar was nie ʼn spesifieke rede nie “maar met nawete is dit seker iets wat ek moes gedoen het”.

Van Breda het ook in detail beskryf hoe hy die wonde aan sy liggaam opgedoen het. Hy het verduidelik waar sy hande en die aanvallers se hande was tydens die struweling. Die staat het tydens die verhoor aangevoer Van Breda se wonde was self toegedien.

Van Breda het verder getuig hoe hy die aanvaller gejaag en die byl na hom gegooi het. Hy het gesê hy het in die proses van die trappe afgeval en sy bewussyn verloor nadat hy sy vriendin probeer kontak het en vir noodnommers op Google gesoek het.

Van Breda het getuig die laaste ding wat hy onthou voordat hy sy bewussyn verloor het, was dat hy sy ma en suster aan die bokant van die trap sien lê het. Volgens Van Breda was dit lig, het ʼn foon gelui en ʼn hond geblaf toe hy sy bewussyn herwin het.

“Ek het op die trap bygekom en stadig begin onthou. Dit was asof ek ʼn droom onthou en ek kon sien hoe Marli bietjie rondbeweeg het en op een been. Dit is toe dat ek weer my bewussyn herwin het. Ek kon weer roggelgeluide hoor, wat ek vermoed van Rudi sa kamer af gekom het.”

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.