Rugby-bakleiery: UV ontken studente sal môre verhoor word

universiteit van die vrystaat kovsies

Universiteit van die Vrystaat. Foto: UV, Facebook

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het Donderdag gesê studente wat briewe ontvang het dat hulle Vrydag by ʼn hotel in Bloemfontein moet verskyn in verband met ʼn voorval vroeër vanjaar toe betogers tydens ʼn rugbywedstryd op Shimlapark op die veld gestorm het, is bloot vir ʼn vergadering ontbied om reëlings vir die beoogde dissiplinêre verhore te tref.

In die oorspronklike briewe wat die studente Dinsdag ontvang het, en wat Maroela Media onder oë gehad het, skryf die universiteit: “Jy word hiermee kennis gegee om op 22 April 2016 om 14:00 voor ʼn dissiplinêre paneel van die UV te verskyn om te antwoord op die volgende aanklagte soos hier uiteengesit.” Die onderskeie aanklagte word dan verder in die brief gelys.

Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, het egter Donderdag aan Maroela Media gesê dat daar Vrydag bloot op geskikte datums, tye en plekke vir die dissiplinêre verhore besluit sal word en dat die verhore nie Vrydag volgens meriete sal begin nie. “Hierdie reëling is om te verseker dat alle betrokke studente voldoende tyd het om vir hulle onderskeie dissiplinêre verhore voor te berei,” het sy gesê.

Maroela Media verneem studente het Woensdagmiddag ʼn tweede brief van die UV ontvang waarin hulle ingelig word dat die samekoms Vrydag slegs ʼn vergadering is om reëlings te tref.

Maroela Media het vroeër berig dat talle studente briewe van die universiteit ontvang het waarin hulle ingelig word dat hulle dissiplinêr verhoor sal word nadat hulle “skuldig bevind is” aan sekere aanklagte, soos aanranding met die doel om ernstig te beseer, openbare geweld en die beskadiging van die UV se goeie beeld. Die aanklagte hou verband met ʼn voorval in Februarie vanjaar toe betogers tydens ʼn rugbywedstryd op die kampus op die veld gehardloop en ʼn vuisgeveg glo uitgebreek het.

Loader het Donderdag gesê dissiplinêre kennisgewings is aan verskeie studente uitgereik, onder wie “toeskouers wat betogers op die veld aangerand het, asook betogers wat betrokke was by dade van vandalisme en ander wangedrag tydens die onrus van 22 tot 26 Februarie 2016 op die Bloemfontein-kampus”.

“Die UV het die reg en verantwoordelikheid om sodanige dissiplinêre optrede in te stel. Die universiteitsbestuur het besluit om geen studente hangende hierdie dissiplinêre verhore te skors nie, sodat die studente met hulle studie kan voortgaan. Die dissiplinêre verhore sal voor ’n onafhanklike paneel geskied,” het Loader gesê.

Loader het nie ʼn vraag oor hoe die aangeklaagde studente geïdentifiseer is, beantwoord nie. “Die UV sal nie die name van die studente wat aangekla is, bekendmaak nie, aangesien hulle as onskuldig beskou word totdat hulle skuldig bewys is,” het sy gesê.

“[Die universiteit] moedig lede van die gemeenskap aan om die saak met die nodige sensitiwiteit te hanteer en hulle daarvan te weerhou om name te versprei of enigiets, op welke wyse ook al, te doen wat daarop gemik is om hierdie dissiplinêre verrigtinge te ondermyn en in gevaar te stel.”

Loader het gesê ander voorvalle wat in dieselfde tydperk van onrus op die kampus plaasgevind het, word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan ·

Die beste is nou dat die betogers as die onskuldiges beskou word. Verstommend!!! Het die betogers nie die drama begin nie? Ek vra maar net. Dit raak regtig nou bietjie siek

Dan ·

Ag bols man, hulle probeer die mense ontsenu, te hel met hulle, daar moet niemand opdaag nie. Die skuldiges is die betogers, het hulle ooit toestemming gehad om te betoog?

Andrea van Vuren ·

Hoekom los hulle nie die studente uit nie? Hulle word van kosbare studietyd ontneem deur sinnelose tugprosedures!

Jan maak n plan ·

Hierdie studente moet net n.siviele saak teen Jansen en sy kaders maak. Leer die klomp rassiste n les.

Xa ·

Openbare geweld aanklag… Ek verstaan nie lekker nie: wie het daar met toe stemming gaan speel op n formele wedstryd en wie het sonder toestemming dinge gaan ontwrig? Is dit Ek wat die dom breinlose een is hier of verstaan ek verkeerd?

H ·

Maroela julle gaan seker weer my comment verwyder. Jansen het vooraf geweet die rugby game gaan ontwrig word deur ‘betogers’rassiste. Hoekom dat daar n rugby game was of die sekuriteits op geskerp nie. Shame die begeerdes het met n spoed veld verlaat. Is daar hospitaal verslae en rekords van die beseerdes

Vic ·

Die studente en hulle ouers behoort die UV te dagvaar omdat hulle nie in veiligheid kan studeer en sport speel nie.

Lana ·

Studente het reg om te leer in veiligheid maar moet in hul huise geleer word om nie kwaad met kwaad reg te stel. Ek praat nie betogers se optrede goed en hul moet ook gedissiplineer word maar sommige van ons as Afrikaners dink ons is beter as ander ons jeug leer hul gedrag by ons as ouers en as ons so te kere gaan is te verstane dat ons kinders ons optredes sal naboots.

Henk Brand ·

Hoe lekker draai UV darem nou hierdie storie om. Van ‘n dissiplinere verhoor tot net ‘n vergadering. Jansen moes seker ‘n paar telefoonoproepe beantwoord.

Rupert Ashford ·

Die ouens wat nie betogers was nie moet groepeer en saamstaan en EEN ekspert regsgeleerde huur om hulle almal saam te verteenwoordig van die begin af. Hierdie spul se taktiek is “verdeel en heers”. Saamstaan sal dit in die kiem smoor en sommer ‘n lekker klasaksie in die vooruitsig stel as alles reg gedoen word van die begin af – hierdie studente kan potensieel hulle studies gratis voltooi met al die geld wat hulle uit Djonitin en kie kan maak hiermee. Ogies oop en fyn trap – hierdie is ‘n geleentheid, moenie nou terugstaan nie, die UV is klaar op die agtervoet.

pop ·

Ek verstaan die briewe se bewoording is dat hulle dissipinere verhore gaan he oordat hulle skuldig is aan dit en dat en daai. So volgens die briewe is hulle al klaar skuldig. Hoop die skuldige wat die meisie met n baksteen geslaan het gaan ook aangekla word. Ons gaan vanmiddag na gradeplegtigheid vir ons dogter wat haar meestersgraad behaal het. En sy was nie een dag op universiteit nie. Hou julle kinders daar uit sover julle kan. Dan sien ons wie betaal die gelde, en of gaan hulle oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.