Rugby is armer ná Dobson se afsterwe

Die legendariese Paul Dobson. Foto: Twitter.

Die legendariese Paul Dobson is gister in die ouderdom van 84 jaar oorlede. Maroela Media het verneem dat hy ’n paar weke gelede met Covid-19 in die hospitaal opgeneem is.

As skeidsregter, afrigter en skrywer het hy nie net diep spore in Suid-Afrikaanse rugby nie, maar ook in wêreldrugby gelos.

Hy was in 1955 in beheer van sy eerste rugbywedstryd, terwyl hy ’n beduidende rol gespeel het in die vereniging van Suid-Afrikaanse skeidsregterunies. In 2012 is hy deur Wêreldrugby vir sy uitmuntende skeidsregterdiens vereer.

“Sy bydrae tot die spel oor die afgelope vyf dekades as skeidsregter, administrateur en skoolafrigter het die Suid-Afrikaanse skeidsregterlandskap verander. Hy is ’n skeidsregterikoon en was ’n mentor vir skeidsregters soos Andre Watson,” het SA Rugby se uitvoerende hoof, Jurie Roux, gesê toe hy destyds die toekenning aan Dobson oorhandig het.

As joernalis was hy een van die rugbywebblad Rugby365 se sterre, terwyl hy onder meer boeke oor Dok Danie Craven, Nick Mallett en Andre Watson neergepen het.

Sy seun, John, is die huidige afrigter van die Stormers in die Superrugbyreeks.

“Paul Dobson was soveel meer as net ’n bekroonde skrywer en skeidsregterghoeroe. Diegene van ons wat die voorreg gehad het om hom op ’n meer persoonlike vlak te kon ken, is ongetwyfeld daardeur verryk. Hy was ’n wandelende ensiklopedie wat rugbygeskiedenis betref en sy kennis oor die spel se reëls was verstommend,” het Jan de Koning, redakteur van Rugby365, geskryf.

Dobson het sedert 1999 vir die publikasie geskryf.

Die voormalige Engeland-kaptein en die huidige voorsitter van Wêreldrugby, sir Bill Beaumont, het sy heengaan betreur.

“Ek is baie hartseer om van Paul Dobson se afsterwe te verneem. Hy was ’n ongelooflike mens, passievol oor die kuns en geskiedenis van skeidsregterskap en hy het sy Wêreldrugbytoekenning beslis verdien,” het Beaumont op Twitter geskryf.

Die president van SA Rugby, Mark Alexander, het op sy beurt gesê dat Dobson ’n legende in die wêreldwye skeidsregtergemeenskap was.

“Ons treur oor die afsterwe van een van Suid-Afrikaanse rugby se groot name. Rugby het ’n reus verloor.

“Paul se bydrae tot die spel was iets buitengewoons en hy het nooit sy vreugde of passie vir rugby verloor nie. Rugby is vandag baie armer,” het Alexander gesê.

John Dobson (youtube.com)

Volgens Schalk Burger senior sal hy die geskerts en rugbydebatvoering met Dobson mis.

“Ons gesin se innige simpatie aan die Dobson-gesin en veral aan John – die appel het duidelik nie ver van die boom geval nie.”

Dobson het 29 jaar lank by Bishops Diocesan College in Kaapstad skoolgehou. Hy word onder andere deur sy vrou, Margaret, en drie kinders – John, Anne en Clare – oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.