Rugby-moord: Uitspraak word in Junie gelewer

Brett Williams Foto: www.liverpoolecho.co.uk

Brett Williams Foto: www.liverpoolecho.co.uk

Blayne Shepard, die man wat daarvan beskuldig word dat hy die voormalige seesoldaat in die Royal Marines, Brett Williams na ʼn rugbywedstryd vermoor het, sal in Junie sy lot weet.

Shepard het Maandag vlugtig in die Durbanse streekshof voor landdros Trevor Levitt verskyn waar die saak tot 27 Maart uitgestel is vir slotbetoë. Die uitspraak is vir 29 Junie geskeduleer.

Shepard en drie ander persone is daarvan beskuldig dat hulle Williams op 23 Maart 2013 buite die Kings Park-stadion in Durban doodgeslaan het na ʼn Superrugby-wedstryd tussen die Haaie en die Melbourne Rebels. Die saak teen Andries van der Merwe, Dustin van Wyk en Shepard se ouer broer Kyle is in Desember teruggetrek. Die mans het elk tereg gestaan op aanklag van moord, drie sake van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig, een van crimen injuria en een van openbare geweld. Levitt het gesê die bewyse het nie aan die vereiste standaarde vir ʼn prima facie-saak teen hulle voldoen nie.

ʼn Vyfde beskuldigde, Grant Cramer, het as ʼn staatsgetuie opgetree.

Die hof het in Desember 2014 gehoor Williams is dood nadat hy geval het omdat hy vermoedelik onder die invloed van alkohol was, en nie van die aanranding nie.

Volgens Levitt staan Shepard nog steeds tereg op aanklag van moord. Hy is vrygespreek op alle ander aanklagte.

Lees alle vorige berigte oor Brett Williams op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.