Rugby-moord: Vonnis word Vrydag verwag

Blayne Shepard op 27 Augustus 2015 in die hof Foto: Giordano Stolley/ANA

Blayne Shepard op 27 Augustus 2015 in die hof Foto: Giordano Stolley/ANA

Blayne Shepard, die man wat daarvan beskuldig word dat hy Brett Williams, ʼn voormalige seesoldaat in die Royal Marines, na ʼn rugbywedstryd vermoor het, sal na verwagting Vrydag sy lot weet.

Krishen Shah, staatsaanklaer, het Donderdag in die Durbanse streekshof voor landdros Trevor Levitt geëis dat hy ʼn swaar vonnis opgelê word.

Adv. Christo van Schalkwyk, Shepard se prokureur, het egter aangevoer sy kliënt moet nie gestraf word om Williams se afsterwe te probeer wreek nie.

Levitt sal na verwagting Vrydag die 25-jarige Shepard vonnis vir sy aandeel in die dood van Williams in 2013 ná ʼn Superrugby-wedstryd by die Kings Park-stadion in Durban.

Van Schalkwyk voer aan sy kliënt moet slegs korrektiewe toesig opgelê word, en daar is geen doel waarom hy uit die samelewing verwyder moet word nie.

Shepard is in Junie skuldig bevind aan strafbare manslag vir sy rol in die voorval op 23 Maart 2013.

Hy is aanvanklik saam met drie ander persone aangekla. Die saak teen Andries van der Merwe,
Dustin van Wyk en Shepard se ouer broer, Kyle Shephard, is in Desember teruggetrek. Levitt het gesê die bewyse teen die drie persone voldoen nie aan die vereiste standaarde vir ʼn prima facie-saak teen hulle nie. Hulle het tereg gestaan op aanklag van moord, aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig, crimen injuria en openbare geweld.

ʼn Vyfde beskuldigde, Grant Cramer, het aanvanklik tereg gestaan op aanklag van aanranding, maar hy het homself as staatsgetuie beskikbaar gestel.

Van Schalkwyk het daarop gewys dat alhoewel sy kliënt die enigste een is wat skuldig bevind is, is dit ʼn feit dat daar nog mense was wat in die bakleiery deelgeneem het wat tot Williams se dood gelei het en sy kliënt moet nie gestraf word vir die optrede van ander persone wat nie vervolg is nie.

Hy het bygevoeg sy kliënt het dit nie beplan nie. “Die oortreding is een van nalatigheid.”

Die hof het tydens die saak gehoor Williams was by ʼn aantal voorvalle betrokke voor hy noodlottig beseer is in die bakleiery.

Van Schalkwyk het gesê die samelewing sal niks deur Shepard se tronkstraf baat nie, en sy straf kan beter uitgedien word terwyl hy ʼn produktiewe lid bly van die samelewing. “Watter waarde voeg jy by tot die samelewing as jy in die tronk sit? Die straf is dat jy moet terugbetaal.” Hy stel korrektiewe toesig voor.

Shah hou egter vol die tronk is ʼn plek waar mense gestraf word. “Daar moet ʼn mate van straf uitgedien word. Die staat versoek ʼn swaar vonnis.” Hy het gesê die aanval was “lafhartig” en Williams was in die minderheid.

Die hof het vroeër Donderdag gehoor hoe Shepard se pa verduidelik hoe hul lewens ʼn lewende hel geraak het ná die voorval. Hy het sy seun as “saggeaard” beskryf en gesê die familie is vervolg op sosiale media deur “sleutelbord lafaards”. “Mens word geoordeel en vervolg deur sosiale media,” het hy gesê. Volgens hom is hulle veral op Facebook aangeval en hulle dien self byna tronkstraf uit omdat hulle nêrens heen wil gaan nie.

Lees alle vorige berigte oor Brett Williams op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karen ·

“Nalatigheid” se voet. Ja hy was nie alleen nie en dit is jammer dat die ander nie vervolg is nie. Hulle almal is hierdie’sterk’ mannetjies wat ons so gereeld by plekke sien wat alles met vuiste wil regmaak want hulle is mos ‘cool’. Sit hom in die tronk, hy was deel van die oorsaak dat n familie van iemand ontneem is as gevolg van sy dade.

Oordeel nie ·

Karen jy oordeel darem lekker jy kan darem ok nie almal onder die selfde kam wil skeer . Lees verder dan sien jy die man Williams was in ander gemors voordat hy noodlotig beseer is wie was nou die moeilikheid makker ??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.