Rugby-ster ses maande ná ongeluk steeds in hospitaal

Jaco Fourie (Foto: Verskaf)

’n Kranige rugbyspeler van Rustenburg, Noordwes, is al die afgelope ses maande in die hospitaal nadat hy vroeër vanjaar in ’n gru-ongeluk betrokke was.

Jaco Fourie (20), ’n studente-onderwyser by Laerskool David Brink, is op 24 Maart in die Impala-mynhospitaal buite Rustenburg opgeneem met ’n long-en-breinbesering nadat hy en sy meisie in ’n motorongeluk op die N4 op pad na Sun City betrokke was. Fourie het onder meer ʼn fraktuur in sy regterheup en nek opgedoen. Ses maande later word hy steeds in dié hospitaal behandel.

Die twee was op pad na sy meisie, Elisma Schutte, se ouerhuis.

Jaco Fourie en Elisma Schutte in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

’n Familielid wat versoek het om anoniem te bly, het Dinsdagmiddag aan Maroela Media gesê dat hulle vir twee en ’n half uur in die veld gelê het voordat iemand op hul afgekom en hulp ontbied het.

Die familielid vertel dat dokters sedertdien daarin kon slaag om Fourie se nek deur middel van ’n plaat te stabiliseer, maar dat ’n heupvervanging nodig sal wees as hy ooit weer wil loop, om nie eens te praat van rugby speel nie.

Die familielid vertel dat Fourie se dokters positief is dat ’n heupvervanging en rehabilitasie hom in staat sal stel om weer te loop.

Fourie het voor die ongeluk met behulp van ’n beurs by die Noordwes-Universiteit gestudeer waar hy vir die Pukke se Young Guns o.20-span Varsitybeker-beker gespeel het. Hy het vanjaar teruggekeer huis toe en vir die Impala-rugbyklub se eerstespan begin speel. As 19-jarige was Fourie die jongste speler om vir dié span uit te draf.

Hy het ook die o.9-rugbyspan by Laerskool David Brink afgerig.

Die familielid vertel dat Fourie reeds fisioterapie in die hospitaal ontvang, maar dat dié terapie ongelukkig onvoldoende is. “Hy moet spraak- en arbeidsterapie ontvang en sal van voor af moet leer praat en loop.”

“Hy is ’n vegter as jy kyk waar hy ses maande gelede was, en waar hy nou is.”

Jaco Fourie en sy o/9-rugbyspan. (Foto: Verskaf)

Die familielid vertel dat Fourie se mediese fonds egter teen dié tyd uitgeput is en dat die familie dus nou probeer om genoeg geld in te samel sodat Fourie na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas kan word.

Die familielid vertel dat Fourie die laaste ruk baie emosioneel is. “Dit gaan op en af. Hy kan nie praat nie en kommunikeer met sy vingers.”

Schutte, Fourie se meisie, waak tans langs sy bed. Sy is ook ’n studente-onderwyser by die skool en het ook ernstige beserings tydens die ongeluk opgedoen, maar is sedertdien reeds uit die hospitaal ontslaan. Volgens die familielid sal die geld wat ingesamel word ook met haar mediese uitgawe help.

Besoek gerus die Facebook-blad vir meer inligting oor die fondsinsamelingpoging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gesiggie ·

Weereens n man wat n passie gehad het vir sy sport, en nou moes dit als eindig deur n ongeluk.. ek Bid dat elke deel in jou liggaam 100% sal genees, dat jy sal herstel, weer kan loop en dat jy weer die O’9 span sal kan afrig… hou moed, en weet als is moontlik as jy Glo… sterkte aan jou en aan Elisma… word gou beter

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.