Rugby-verlamming nie departement se skuld nie

Argieffoto

Argieffoto

Charles Oppelt, ʼn jong man wat op 17-jarige ouderdom verlam gelaat is weens ʼn rugbybesering, kan nie die departement van gesondheid verantwoordelik hou nie, het die hoogste hof van appèl gelas.

“Die optrede van die departement se werkers was nie ʼn feitelike oorsaak van sy verlamming nie,” het regter Kevin Swain in die hofuitspraak gesê.
Oppelt het in Maart 2002 tydens ʼn klubrugbywedstryd ʼn rugbesering opgedoen. “Die besering het sy lewe tragies en onherroeplik verander,” aldus die uitspraak.

Oppelt het in die hooggeregshof in Kaapstad ʼn saak teen die departement van gesondheid aanhangig gemaak. Hy het aangevoer indien die departement se werknemers hom binne vier ure ná sy besering vir ʼn spesifieke behandeling geneem het, sou hy nie verlam gewees het nie. Die behandeling behels gewigte op ʼn katrolstelsel in plaas daarvan om onmiddellik te opereer. Die hooggeregshof het in Oppelt se guns beslis waarna die departement die hoogste hof van appèl genader het.

Regter Swan het in die appèlhof se uitspraak gesê dit kan nie bewys word dat die behandeling waarna Oppelt verwys het, tot sy herstel sou gelei het nie. “Gevolglik was daar geen wetlike verpligting aan die kant van die departement se werknemers om dit binne die vereiste vier-ure-periode toe te dien nie. Hulle optrede, om dit nie te doen nie, sal nie verkeerd wees nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.