Rugbyafrigter glo met skroewedraaier in kop gesteek

Richard Smith. Foto: Facebook

ʼn Wes-Kaapse skolerugby-afrigter is in die waakeenheid van ʼn hospitaal opgeneem nadat hy Dinsdag in die vroeë oggendure tydens ʼn huisroof vermoedelik met ʼn skroewedraaier in die kop gesteek is.

Richard Smith (37), sy vrou, Nina, en hul twee kinders is tussen middernag en 02:00 in hul huis in Claremont deur vier mans oorval. Debi Greybe, Smith se suster, het aan Maroela Media gesê hulle het intussen meer te wete gekom oor hoe die aanvallers toegang tot die huis verkry het en wat presies tydens die aanval gebeur het, maar die familie verkies om in hierdie stadium nie hierdie besonderhede bekend te maak nie.

“Ons het besluit om nie meer oor die aanval bekend te maak nie omdat ons nie die polisieondersoek wil benadeel nie. Al wat ek in dié stadium kan sê is dat die gesin sukkel om die gebeure te verwerk, maar daar is ʼn ondersteuningstelsel rondom die familie,” het Greybe gesê.

Sy het wel bevestig dat Smith met ʼn langwerpige voorwerp, vermoedelik ʼn skroewedraaier, agter sy kop gesteek is. Hy is baie ernstig beseer en word steeds onder verdowing in die hospitaal gehou. Nina en die egpaar se kinders is ongedeerd. Greybe het gesê een van die kinders is ʼn baba, terwyl die ander op grondslagfase in die laerskool is.

“Nina en die kinders is fisiek ongedeerd, maar hulle is erg getraumatiseerd. Die familie is dankbaar dat hulle nie seergekry het nie en staan hulle deur die trauma by,” het Greybe gesê.

Smith is die afrigter van die Bishops Diocesan College in Rondebosch in Kaapstad se rugbyeerstespan. Die skool het Woensdag ʼn video ter ondersteuning van Smith op sy amptelike Facebook-blad gedeel. Talle gebede en boodskappe van ondersteuning het sedert Dinsdag op die blad ingestroom.

Intussen het Smith se familie ʼn skarebefondsingsinisiatief begin om geld in te samel vir enige onvoorsiene uitgawes wat uit die voorval en Smith se mediese behandeling mag spruit. Meer inligting hieroor is op die Back a Buddy-webtuiste beskikbaar.

Maroela Media wag op kommentaar van die polisie oor die voorval.

Bishops College tribute in support of 1st XV Rugby Coach Richard Smith.

Posted by Bishops Rugby on Wednesday, June 21, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dellaq ·

Sterkte vir hierdie familie. My hart en gedagtes gaan uit na hierdie ma & kinders en dankbaar hulle is ongedeerd.Ek hoop hy herstel spoedig, sonder enige nagevolge vir sy gesondheid.

E ·

Dit is wreed. Die regering moet nou gunfree sa verander en die volgende insluit:
skroewedraaiers
doringdraad
strykysters
Siek en sat vir crime!!!!

Susan ·

Siek verby. Sterkte aan die familie en mag Richard spoedig herstel sonder enige brein beserings. So on nodig..,

Irene ·

Regering voel niks vir mense wat so behandel word nie anders het hul al lankal opgetree jammer vir die wat hul werk regtig wil doen net moord brand skietery toitoi korupsie en verkragtings daaglike on hierdie SA

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.