Rugbyafrigter têkkel nuwe wêreldrekord

Martin Eksteen het twee dae lank konstant op sy voete gebly en rugby afgerig. (Foto: Verskaf)

Martin Eksteen het ʼn splinternuwe wêreldrekord met ʼn pletterduik vasgevat toe hy die afgelope naweek daarin geslaag het om 48 uur lank aaneenlopend rugby af te rig.

Die voltydse rugbyafrigter het die sogenaamde afrigtingsmaraton met ywer gepak en in die proses ʼn wêreldrekord opgestel vir die langste rugbyafrigtingsessie ooit.

“Ek weet nie hoe ek dit reggekry het nie, maar op die ou end moes ek net my kop regkry,” sê hy.

“Dis dan maklik om van die pyn en ongemak te vergeet en net aan te gaan.”

Volgens Eksteen het hulle die afgelope Vrydag sonder haakplek om 18:00 begin en Sondag omtrent dieselfde tyd klaargemaak. Hy was in dié tyd konstant wakker en op sy voete.

“Dit was eintlik nie so moeilik om wakker te bly nie. Die adrenalien en die rugbyspelers het my aan die gang gehou,” sê hy. Hy het dit boonop sonder enige energiedrankies gedoen.

“Wat my wel gevang het, was hoe seer my voete geraak het. Ek het heeltyd gestaan en die veld waar ons geoefen het, was vreeslik ongelyk.”

Rugbyspelers van ses jaar tot 18 jaar oud het aan die poging deelgeneem en elke ouderdomsgroep het mekaar tweeuurliks afgelos. Die spelers het elk ʼn minimum van ses uur afrigting ontvang.

“Vir my en die spelers was die vroegoggend-oefeninge veral moeilik. Hier teen 02:00 en 03:00 se kant is ʼn mens se konsentrasie nie so goed soos dit moet wees nie en jou liggaam smeek vir slaap.”

Hy het nietemin deurgedruk en deurlopend voedingsryke kosse soos vrugte, wat nie te swaar is op ʼn mens se maag nie, geëet terwyl hy gehidreer gebly het met water en gaskoeldrank.

“Ek het geen opkikkers gedrink nie en dit is ʼn voldonge feit,” sê hy.

Eksteen sou aanvanklik vir die eerste keer hierdie poging van 5 tot 7 Januarie aangepak het, maar die poging is gekniehalter deur onstuimige weerstoestande.

“Ons het net aan die gang gekom toe die weer opgesteek het. Ons het verskeie reëls met betrekking tot spelers se veiligheid, so ons het besluit om eerder die poging te staak. Dit is toe tot Februarie uitgestel,” sê hy.

Eksteen sê op die ou einde was daar geleenthede wat ʼn motreën opgesteek het, maar niks so erg dat dit sy of die spelers se veiligheid in gedrang gebring het nie.

Teen die einde van Sondag was al die ouers, spelers en selfs Eksteen so opgewerk dat hulle vir nog ʼn paar uur sou kon aangaan.

“Daar was ʼn goeie atmosfeer en die afgelope 48 uur het as’t ware deur my kop gehardloop. Ek was so beïndruk met almal.”

Eksteen sê die 48 uur sonder slaap het hom nie eens erg gekap nie en teen Maandagoggend was hy reg om weer bulletjierugby af te rig.

(Foto: Verskaf)

Guinness beraadslaag nou

Aangesien dié wêreldrekordpoging die eerste van sy soort is, is die span by Guinness-wêreldrekords besig om te beraadslaag daaroor.

Volgens Eksteen is hy aangesê om alle moontlike bewyse dat die poging aangewend en suksesvol voltooi is aan Guinness te stuur. Dit sluit in alle beeldmateriaal, opnames en beëdigde verklarings.

“Dit is die eerste keer dat iemand só ʼn rekord aangepak het, so daar was nie regtig enige soort riglyne vir ons om te volg nie,” sê hy.

Hy het met ʼn tennisafrigter kontak gemaak wat ʼn soortgelyke rekord opgestel het en by hom raad gekry oor wat hulle moontlik als kan doen om te verseker dat die rekord opgestel word.

“Ons het met ons poging ʼn maatstaf van 48 uur gestel, so dit is ʼn uitgebreide proses om al die inligting na te gaan. Dit vat normaalweg omtrent drie maande om al die inligting oor ʼn rekord te verwerk.”

Eksteen is tog positief dat al hul pogings en bewyse in orde sal wees, aangesien hy tussen 200 en 300 getuies het wat die hele poging aanskou het.

Intussen beraam hy reeds planne om nóg wêreldpogings te pak. Hy wil egter eers probeer om met ʼn paar uur op hierdie wêreldrekordpoging te verbeter. Sy eindelike doelwit is om vir 60 uur rugby af te rig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.