Rugbyheld daar toe hy bykom in hospitaal

Erik Viviers saam met die oud-Bokkaptein John Smit. Foto: Verskaf

Erik Viviers saam met die oud-Bokkaptein John Smit. Foto: Verskaf

Erik Viviers (16), ʼn gr. 11-leerling aan die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, sterk nog in ʼn hospitaal in Durban aan, nadat hy ernstig beseer is in ʼn rugbywedstryd.

Viviers het op Saterdag 2 April tydens ʼn rugbybyeenkoms in Durban vir sy skool se eerste span uitgedraf, toe hy tydens ʼn duikslag ʼn kopbesering opgedoen het. “Ons is nog nie 100% seker wat gebeur het nie, maar hy is van die veld af en toe hy by die plaasvervangerbank kom, het hy ineengestort en ʼn epileptiese aanval gekry,” het Christo Viviers, Erik se pa, aan Maroela Media gesê.

Volgens Christo is sy seun onmiddellik na die St. Augustine-hospitaal geneem, waar ʼn skandering gedoen is. “Hulle het gesien daar is aan weerskante bloeding op sy brein. Ek en my vrou was nog van Krugersdorp af op pad Durban toe, toe die dokter gebel en gevra het of hy kan opereer. Hulle het ʼn gedeelte van sy skedel verwyder, ʼn snit in sy maagvel gemaak en dit daar gebêre. Hy sal later weer geopereer word om die deel van sy skedel terug te plaas.”

Erik gebruik tans medikasie vir die epilepsie, wat matige geheueverlies veroorsaak. “Ons sal oor ses maande eers werklik kan terugkyk en sê wat hy van die besering oorgehou het. Dit is egter nie te betwyfel dat hy ʼn wonderwerk is nie. Hy onthou sy maats se selfoonnommers en herken stemme op die foon.”

Patrick Lambie, Jacques Potgieter, Tera Mtembu, Ruan Botha en Christiaan de Bruin het ook by Erik in die hospitaal kom kuier. Foto: Verskaf

Patrick Lambie, Jacques Potgieter, Tera Mtembu, Ruan Botha en Christiaan de Bruin het ook by Erik in die hospitaal kom kuier. Foto: Verskaf

Hy het sedert die besering nog nie opgestaan nie, maar is nie verlam gelaat weens die besering nie. “Hy sal van voor af moet begin loop, maar hy lyk goed. Dit is net gebede. Na die operasie is hy onder verdowing gehou. Op dag drie in die hospitaal het hy my hand die eerste keer ʼn ligte drukkie gegee. Ek het hom gevra om dit weer te doen en hy het. Op dag vyf het hy weer my hand ʼn drukkie gegee, al was hy onder verdowing. Op dag 13 was sy oë oop en toe ek instap sê hy: ‘Hallo pa’.”

Dit was ook op dié dag wat een van Erik se rugbyhelde, die oud-Bokkaptein John Smit, hom in die hospitaal besoek het. Die besoek is deur die Chris Burger Petro Jackson Rugbyspelersfonds gereël. Die fonds verskaf bystand aan slagoffers van katastrofiese rugbybeserings en bevorder bewustheid van rugbybeserings. Smit is een van die fonds se ambassadeurs. Erik het ʼn paar dae later nog ʼn verrassing gekry, toe Patrick Lambie, Jacques Potgieter, Tera Mtembu, Ruan Botha en Christiaan de Bruin hom ook in die hospitaal besoek het.

“Hulle besef nie wat dit vir hom beteken nie. Die tyd wat hulle opoffer, verander ʼn kind se uitkyk en maak hom weer positief oor die lewe. Ek haal my hoed af vir wat hulle doen,” het Christo gesê. Volgens hom het die fonds hulle gekontak en ook ander bystand aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gerhard Wessels ·

Sterkte Bul, ek weet Ons Liewe Heer maak jou sommer gou gesond & kyk mooi na jouself! Sjoe ek is ‘n GROOOOT Bloubul Bul ondersteuner my lewe lank maar ek haal my hoed af vir John Smith & die res van die Shark spelers! Julle weet nie wat dit beteken dit vir daar die seun nie.

Illa ·

Dankie dat jul omgee, manne! Sterkte Erik, mog jy uit daardie hospitaal LOOP.

Henko Pienaar ·

Wonderlike gebaar deur die spelers. Dit maak net iemand se dag om deur hulle helde verras te word. Sterkte met jou herstel

charlene ·

Ek is so bly dit gaan beter met hom, rugby is maar baie gevaarlik…
En kyk ek is nie 1ste in di ry vir die sharks nie – einlik glad nie MAAR julle is ware manne. Want as `n mens op `n foto kan sien hoe `n kind se gesig straal dan moet jy weet jy het iets regs gedoen. Daai seun straal daar waar hy lê en dis te danke aan julle. Manne julle verdien baie respek.

Marlize ·

Hoop vir volkome herstel seun, jy is nog so jonk en jou hele lewe lê nog voor jou. Dis jammer dat rugby so ‘n gevaarlike spel is, dis ‘n baie duur prys om te betaal as jy in ‘n rystoel beland. Sterkte vir julle…

Thys Bekker ·

Ek is so bly jy is al baie beter Erik. Bly net positief. Een van die dae is jy weer heeltemal gesond en terug by die huis.
Baie dankie aan die Sharks manne. Julle is ware rugby ambassadeurs!!

Johann Marx ·

Erik, Francois en die hele res van die span bid vir jou, hou duim vas vir jou volledige herstel, en kan nie wag dat jy huistoe kom nie. Hulle is almal vrek jaloers omdat jy sulke awesome besoekers kry. Sterkte ou seun, ons dink aan jou en jou ouers.

Loop die transe sommer lekker ·

Amazing, ek glo hierdie jong man gaan nou sommer gou beter word!!!!

Oom Kalahari ·

Pragtige gebaar van John Smit en sy Shark spelers om hierdie kinderhart so gelukkig te kan maak. Jul besoek glo ek van harte beteken vir hierdie jong seun en sy Ouers (familie) geweldig baie en ons wens Erik alle sterke toe en ‘n spoedige herstel. Jul is in ons gebede.

Karen Sheard ·

Erik word sterk liewe Jesus is life vir jou glo net.Dit lyk jy gee nie somer op nie

Charmaine Fourie ·

Jy is n held Eric! Ons bid vir jou herstel. Noordheuwel kan voorwaar trots wees op jou. Ek dink die Sharks rock! Dankie ouens vir jul omgee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.