Rugbypa geskors na aanranding

Matthew Germishuizen ná sy operasie. Foto: Verskaf aan Maroela Media

Matthew Germishuizen ná sy operasie. Foto: Verskaf aan Maroela Media

Morné Oberholzer, ʼn pa van Roodepoort het ʼn duur prys betaal vir sy betrokkenheid by ʼn opstootjie tydens ʼn jeugrugbywedstryd in dié stad – en sy seun is ook gestraf.

Die Goue Leeus-Rugby-unie (GLRU) het bevestig dat Oberholzer in ʼn tugverhoor aan “onbehoorlike en onaanvaarbare” gedrag skuldig bevind is. In die proses het hy “flagrante minagting” teenoor ʼn skeidsregter betoon.

Oberholzer, wat ook by Roodepoort se jeugklub as afrigter betrokke was, is met onmiddellike ingang effektief vir 18 maande uit alle aspekte van rugby geskors. Sy vonnis van twee jaar is met ses maande opgeskort.

Sy seun is vir ses maande geskors.

Die saak spruit uit ʼn voorval tydens ʼn wedstryd van die o.18-spanne van die klubs Roodepoort en Germiston-Simmer waarna ʼn speler van Simmer met ʼn gebreekte neus, ʼn gekraakte oogkas en harsingskudding in die waakeenheid van ʼn plaaslike hospitaal opgeneem is. Hy is geopereer om sy neus te rekonstrueer en het vier dae lank in die verpleeginrigting vertoef.

Luidens ʼn nuusverklaring van die GLRU het ʼn bakleiery in die wedstryd uitgebreek en het ʼn Roodepoortspeler ʼn rooi kaart vir vuilspel gekry. ʼn Bakleiery het opnuut ontstaan en die skeidsregter het die wedstryd voortydig beëindig.

Toe Oberholzer se seun afgestuur is, het hy op die veld gegaan en geëis dat die skeidsregter die kaart terugtrek. Toe die blaser weier, het hy en sy seun die 17-jarige Matthew Germishuizen te lyf gegaan. Dié se pa het hom te hulp gesnel en twee tande verloor toe die Roodepoortspelers hom toegetakel het. Klik hier en hier om meer te lees.

Rudolf Straeuli, die hoof uitvoerende beampte van die GLRU, het sy tevredenheid met die tugkomitee se bevinding en vonnis uitgespreek en gesê dis in ooreenstemming met die unie se beleid van nulverdraagsaamheid ten opsigte van voorvalle wat die spel se beeld skaad.

Lees ook:
Niemand nog vas ná rugby-aanval
Ouer rand glo tiener tydens rugbywedstryd aan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Shannon ·

ja nee Boere, nou byt die brakke mekaar aan die gat.
Rugby is die opium, almal moet suig of anders skrik ons wakker !

EMK ·

NET so Shannon – gereeld beskryf hulle sekeres as barbare maar kyk nou…Behalwe hul skorsing weet almal nou wie hulle is. SIES man! Ek skaam my morsdood as dit my man/pa/broer is

charmaine ·

Sulke ouers is n verleentheid vir hulle self,hulle kinders en die skool. Die pa druk sy seun om goed te doen omdat hy seker nooit die geleentheid gehad nie, nou moet die kinders vergoed vir hulle.
Hoop net hulle “baklei” so hard as dit kom by leer werk en eksamens.

Theresa ·

Barbare?? Ek skaam my dood. Sies man. Dis ‘n sport en is veronderstel om lekker en opwindend vir almal te wees. Moenie ‘n afgod van dit maak nie. Kry julle bearings bymekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.