Rugbyspeler geskiet: Ouers neem moeilike besluit

Gert Roets in die hospitaal. Foto: Verskaf

Jongste: Gertjie Roets is Saterdag, 14 April 2018 oorlede. Lees meer.

Gert Roets (23), die belowende Wolwe-rugbyspeler van Kempton Park aan die Oos-Rand wat Saterdagoggend tydens ʼn vermeende mislukte rooftog geskiet is, se linkerbeen moet noodgedwonge geamputeer word.

Jaco Lombard, die familie se woordvoerder, het aan Maroela Media bevestig Roets se dokters by die Tembisa-hospitaal het sy ma, Yolanda Laas (59), en stiefpa, Louwtjie Laas (62), Vrydagoggend ontbied sodat hulle die moeilike besluit kon neem.

Roets word sedert Saterdag in die waakeenheid van dié hospitaal behandel nadat sy hoofslagaar in sy heup tydens die mislukte rooftog afgeskiet is. Hy was Saterdag nagenoeg nege uur lank in die teater in ʼn poging om die slagaar te herstel om sy been en lewe te red. Hy is sedertdien onder verdowing gehou, en aan dialise en ʼn ventilator gekoppel.

“Die dokters het vanoggend sy ma meegedeel die amputasie is al manier om sy lewe te red. Sy ma het versoek dat mense nie nou met haar kontak maak nie. Dit was vir hulle ʼn baie moeilike besluit. Sy liggaam wou net nie die weefsel aanvaar wat gebruik is om die aar te heg nie en die gebrek aan bloedtoevoer tas nou sy niere erg aan. Hulle het reeds ʼn tweede mening gehad. Dit is óf sy been, óf sy lewe,” het Lombard gesê.

Lombard het ʼn beroep op die publiek gedoen om Roets in hul gebede te hou sodat die operasie goed verloop. Hy word reeds vandag al geopereer.

Intussen duur verskeie pogings deur ʼn reusevriendekring voort om geld in te samel in ʼn poging om Roets na ʼn private hospitaal oor te plaas vir spesialisbehandeling, aangesien hy nie ʼn mediese fonds het nie. ʼn Anonieme skenker het reeds ʼn bydrae gelewer sodat Roets na die Arwyp-hospitaal oorgeplaas kan word, maar sy toestand was nog nie stabiel genoeg daarvoor nie.

Die Afrikaanse sanger Brendan Peyper het intussen ook van Roets se storie gehoor en saam met die Boeremusiekgilde Witwatersrand-tak onderneem om Donderdag ʼn optrede te hou om geld vir Roets in te samel. Klik hier vir meer inligting.

Gert Roets en sy boetie Kobus. Foto: Verskaf

Maroela Media het vroeër berig die skietvoorval het Saterdag omstreeks 05:30 in Van Riebeeckpark in Kempton Park plaasgevind.

Roets, Devan Kruger (23), ʼn vriend wat saam met hom vir die Wolwe uitdraf, en ʼn vriendin is die oggend by Kruger se huis afgelaai ná ʼn aandjie uit saam met vriende.

“Devan se huis is sowat 500 m van die treinstasie in Van Riebeeckpark. Die vriendin woon sowat 500 m anderkant die treinstasie. Gert en Devan het saam met hul vriendin na haar huis toe geloop en haar veilig daar besorg,” het Charlene Horn, ʼn familievriend, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

“Toe hulle die eerste keer verby die stasie gestap het, het hulle twee mans op stoele daar sien sit. Dit het vir hulle gelyk of die mans uniforms aangehad het en hulle het aangeneem dit was veiligheidswagte. Toe hulle terugloop na Devan se huis het die mans nie meer daar gesit nie.”

Horn het gesê die twee jong mans was skaars 500 m van Kruger se huis af toe twee aanvallers hulle van agter af genader en bloot op hulle begin skiet het.

“Devan het in die veld in gevlug en Gert het in die pad af gehardloop. Nog twee skote is gevuur, waarvan een Gert in die heup getref het. Die koeël is reg deur hom en het sy hoofslagaar afgeskiet. Hy het geval, maar kon daarin slaag om op te staan. Hy het in die veld in gevlug waar Devan was, maar toe in ʼn groot gat geval.”

Kruger het intussen gesien hoe die aanvallers sy vriend agternasit. Die aanvallers het egter na Kruger begin soek toe hulle Roets in die gat sien val en hom vir dood agtergelaat.

“Devan het hulle uitoorlê deur in die water in die waterkanaal in te sak sodat hulle hom nie kan sien nie. Toe hy uiteindelik sien die aanvallers is weg, het hy huis toe gehardloop en hulp ontbied,” het Horn gesê.

Die polisie is ontbied en was spoedig op die toneel. Roets moes met die hulp van die plaaslike brandweer uit die gat gehaal word, waarna hy in ʼn kritieke toestand met ʼn ambulans na die Tembisa-hospitaal geneem is vir mediese behandeling.

Roets het Maandagoggend ʼn terugslag gehad toe sy hart gaan staan het, maar dokters kon hom deurhaal en hy veg steeds om sy lewe.

Lombard, wat ook ʼn afrigter van die Wolwe-rugbyspan is, het gesê Roets het as flank, agsteman en slot uitgeblink en het vanjaar vir die Wolwe se eerste span uitgedraf.

Lombard beskryf Roets as ʼn nederige, plat-op-die-aarde man na wie mense opsien. “Hy is ʼn baie harde speler en gee altyd 110% vir sy span as hy op die veld is. Dis regtig ʼn groot terugslag en ons is baie bekommerd oor hom.”

Kapt. Lesibana Molokomme, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. “Die Norkem Park-polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord en die ondersoek duur voort,” het hy gesê.

Molokomme het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om met enige inligting na vore te kom wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan. Bel die polisie by 011 391 1814/5.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Besorgde Kemton Park inwoner ·

Nou wonder ons waneer gaan daai lang gras in die omgewing gesny word en skoon gemaak word. dit is nou al die 3e aanval in n maand se tyd en die skurke kruip te lekker weg in daai gras & riete

Brandweer bystaan ·

Die munisipaliteit kan die oortollige plantegroei binnekort maklik deur n beheerde brand verwyder soos die gras verdroog soos die winter nader kom, as dit wettig is.

Niel ·

Gryp n weateater en doen dit self. Jy kla oor die toestand van ons land, wel doen iets daarom trent.

Tokkolos ·

Neil dit was onnodig weet jy hoe groot kan n veld wees maar as jy gewillig is dan kry ons mekaar daar. 3 inbrake in my area Daspoort in 1 straat helse veld wat toegegroei is Het al 3 keer ons DA lid gekontak oor veldjie vanaf November verlede jaar. En nodeloos om te sê tot vandag toe nog is die gras wat kort is deur die skelms wat daar wegkruip gedoen. So baie sterkte aan seun en familie so dankbaar hy leef

Genieve ·

Ai maar dis n sad gebeurtenis die sy hele loopbaan daarmee heen baie sterkte vir sy ouers en families.

Lee ·

Hoop die Polisie ondersoek regtig die saak en hulle lieg nie. Norkem is maar heel treurig deesdae. Iemand moes tog iets gesien het. Sterkte aan Gert en die familie. Dis ‘n baie moeilike besluit maar ‘n lewe beteken meer. Sal bid vir hom!!

Rika ·

Dit is so hartseer dat sulke dinge daagliks gebeur. n Jongman se lewe is verwoes en hy sal n groot aanpassing moet doen om weer n “normale” lewe te kan lei. Brendan, ek dink dit is baie groothartig van jou om hom by te staan en te ondersteun. Ek bid God se genade en liefde oor hierdie jongman, dat ten spyte van wat gebeur het, Hy eendag n getuienis sal wees van God se genade en liefde. Ek bid ook vir sy familie wat deur die moeilike tyd gaan en ek Dank God dat die jongman nog n kans op die lewe gegee is. En ek hoop dat ons mense bymekaar sal staan en die jong man sal help. Baie sterkte aan almal

Beyers ·

Dis baie tragies jong man! Sterkte aan jou en almal naby aan jou.Ek wens jou ‘n spoedige herstel toe in hierdie moeilike tyd. “God will take care of you, through every day, all of the way”No mountain too high, no valley too low”

DS ·

Baie sterkte aan die ouers. Weet dis ‘n moeilike besluit maar onthou daai besluit kan julle seun se lewe red. Ek het nie keuse gehad nie my rugbyspeler seun is opslag in ongeluk dood – sou ek wat wou gee om ‘n keuse te kon gehad het… sy been of sy lewe. Moeilike tyd lê voor ek hou julle in my gebede.

Willie ·

Baie stekte aan die gesin… Die munisipaliteite sal nie, dis laekoste behuising…

Laetitia ·

Dit is voorwaar slegte nuus. My hart gaan uit na sy familie. Spoedige herstel.
Ek hoop en vertrou dat die persoon wat verantwoordelik is vir hierdie daad spoediglik vasgetrek sal word.

Leon ·

Ek het die nuus gevolg en kan nie vandag se berig uit my kop kry nie …..een jong lewe is verwoes en die skuldiges het weggekom. Waar is die regverdigheid hierin ? Waarom is hierdie jong man se lewe so vernietig want niks gaan ooit weer vir homself normaal wees nie ? As ek kon sou ek plekke ruil met die man want ek is oud en het niks , sy hele lewe lê nog oop voor hom en kyk wat het gebeur ? Sterkte aan almal betrokke , dit kon geensins n maklike besluit gewees het nie , ek hoop die jong man kry berusting en aanvaarding want sy hele lewe het nou eensklaps verander. Dit was so onnodig!

Peet Schabort ·

Leon en André, ja, dit is ‘n ramp maar God het sy planne met ons. Sterkte aan jou Gert en familie. Gaan kyk ook hoe Krige Schabort beide bene verloor het en uitgestyg het as ‘n uitmuntende wêreldklas sportster. Daar is foto’s van hom wat diep tref o.a. waar hy sy kind se driewiel ry en dit slegs kan doen omdat hy nie bene het. https://www.google.co.za/search?dcr=0&source=hp&ei=HAvRWuKqJ6yP6ASxjrXgCw&q=krige+schabort&oq=krige+schabort&gs_l=psy-ab.3..0j0i22i30k1l5.16748.25915.0.26432.14.14.0.0.0.0.380.3147.2-9j2.11.0….0…1.1.64.psy-ab..3.11.3145…46j0i131k1j0i131i46k1j46i131k1j0i46k1j0i10k1j0i22i10i30k1.0.kU8K5qahUm4
Ook Google se ‘images’. Hopelik sal Krige jou moed gee vir die toekoms, nogmaals sterkte!!!

Hannelie ·

Ai ek bid vir hom en sy familie. Dis ‘n moeilike besluit wat ‘n ouer moet neem….maar ‘n ma sal weet wat die beste is, om jou kind nog by jou te hê.

jean ·

Ek glo almal ervaar julle hartseer en bidvir hom….so bitter jonk…maar hy LEWE!….

Wolf ·

Hoekom is die skieter en sy makker nog nie aangekeer nie? Antw. Polisie. Aan die ouers, julle het nie regtig n keuse nie ne? Ons bid vir julle, die familie, en vriende. Suid Afrika wat eers die blink more ster was is nou n swart gat van onheil. Sies.

Gesiggie ·

Aan Gert se Ouers… ek kan net dink hoe moeilik so n besluit moes wees, omdat jul weet dat Rugby deel van jul kind se lewe is, maar God sal hom dra deur die tyd, en hy sal weer n kans kry om te doen waarvoor hy lief is, maar sy lewe is meer werd…. Mag die Engele van God oor jul waak, en Gert mag jy deur al die pyn wat jy moet deurmaak weet: dat God aan jou nog n beter lewe sal gee… jy sal weer Bo uitkom… ek kan nie wag om opvolg te lees van die goeie vordering wat hierdie jong man sal maak… sterkte aan sy ouers dink aan jul deur die tyd… en ek hoop die monsters wat verantwoordlik was , en sy lewe verwoes het word vining gevang””

Alida ·

Dit is baie tragies en n moeilike besluit. Maar is n kind sonder n been nie beter as geen kind nie. Dit is regtig hartverskeurend.

Naas Vermaak ·

Klomp mooi positiewe kommentaar hier – ek’s ook ontsteld oor hierdie gebeurtenis en ek wens en vertrou hierdie jongman gaan sterker “terugbounce”! Neil hierbo maak ‘n goeie punt, hoewel bietjie op ‘n astrante manier, maar dis 100% geldig. Die afgelope 9 jaar werk ek met minder bevoorregtes en as ek al die beloftes van donasies en aangebode hulp en voorstelle , wat nooit realiseer het nie, kon verdiskonteer na geld , was ons inisiatief die sterkte ter wereld….so, ja, laat ons ALMAL die moue oprol en nie wag vir die ander een nie. English saying – “Step up or step out of the way ……”

william ·

met alle respek, die jag seisoen op gewone mense in hierdie land is oop. Die nuwe SA droom is inderwerklikheid n nagmerrie soos hierdie gesin ook ervaar. sterkte

APS ·

”Ouers neem beste besluit” sou meer gepaste opskrif wees.
Wat is moeilik aan die besluit as dit sy lewe gaan red, maar in die proses sy been gaan verloor?
Probeer altyd die positiewe kant ook raaksien, hy LEWE!!!
Sterkte aan hom en sy familie, julle sal SAAM die terugslag oorkom en wen!!

Oujongvrou ·

Almal wat so n vreeslike ding oorkom moet begin om hierdie regering aan te kla en op vergoeding aandring. Dit sal nie die daad ongedaan maak nie maar die regering moet tot verantwoording gebring word. Hulle is so besig met ander minder belangrike dinge dat hulle net toelaat dat die kriminele die land oorneem. Dis skokkend.

Alida ·

Die regering betaal dan die dooies se familie wat van honger dood is hoekom sal hulle nou enigiets betaal om die kind na n privaat hospitaal toe oor te plaas.

Marinda ·

In alle gevalle soos hierdie moet die mense in privaat hospitale behandel word en die rekening moet aan die regering gestuur word. Kan iemand nie n hof saak begin met so iets en die regering dagvaar nie? Het nou die dag gehoor van n misdadiger wat deur die polisie geskiet is en hy is in n privaat hospitaal behandel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.